News

Fotokrediet: Loriane Grobbelaar

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is besorgd oor die ernstige gevolge wat nog ʼn alkoholverbod of beperkings op wynverkope vir wynverwante ondernemings sal inhou, asook die lewensbestaan van diegene wat in diens is van Suid-Afrika se wynbedryfwaardeketting.

Vinpro en die res van die wynbedryf deel president Ramaphosa se kommer oor die skielike en skerp toename in positiewe Covid-19 gevalle en verwante sterftes, en verstaan die noodsaaklikheid van drastiese maatreëls om dit aan te spreek. Sonder finansiële steun deur die regering is dit egter eenvoudig nie ʼn lewensvatbare opsie om ʼn hele bedryf te sluit waarop meer as 269 000 mense afhanklik is vir hul lewensbestaan, terwyl meer doeltreffende inperkingsmaatreëls ingestel kan word nie.

“ʼn Algehele beleidsbenadering tot die beperking van wynverkope is onnodig, ongeregverdig en teenproduktief. Ons weet en het duidelike bewyse dat die beperking van wettige handel in wyn en ander drankprodukte die onwettige mark stimuleer. Onwettige drankhandel verteenwoordig tans 22% van die totale plaaslike drankverbruik en het sedert 2020 geweldig gegroei. Omdat hierdie onwettige handel buite die regering se bereik is en ongekontroleerd voortgaan, kan dit ʼn vernietigende uitwerking op gemeenskappe hê vanuit ʼn gesondheids- en sosio-ekonomiese oogpunt,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof.

“ʼn Nasionale verbod op wynverkope sal ernstige gevolge vir ons bedryf inhou. Ons moet besluite neem en implementeer wat die behoud van lewens met die behoud van mense se lewensbestaan balanseer. Besluite moet op provinsiale vlak geneem word, gebaseer op wetenskaplike bewyse en volgens die infeksiesyfer en hospitaalopnames in hierdie provinsies.”

Basson sê wyn maak deel uit van die landbou- én toerismesektore. “Die wynbedryf het proaktief voorkomende maatreëls ingestel om werknemers en besoekers op plase te beskerm, asook die bedryf se 533 wynkelders. Ons doen ʼn beroep op die regering om ons bedryf oop te hou en in sekere brandpuntgebiede in te gryp.

“Dit is ook tyd dat die regering optree en waar Covid-19-regulasies nie nagekom word nie, dit behoorlik polisieer word. Dit help definitief nie dat streng beperkings ingestel word elke keer as die gesondheidstelsel ʼn krisis beleef, terwyl die regulasies nie toegepas word nie. Die regering moet ook die uitrol van die inentingsprogram versnel, omdat hierdie twee maatreëls die eerste verdedigingslinie in ʼn pandemie van hierdie aard is.

“Ons raai elke wynverwante onderneming aan om hul deel te doen en nou saam te werk om die kurwe te help afplat. Laai die Covid Alert SA-toep af en gebruik die blitslyn om enige oortreding van die regulasies by 0800 014 856 aan te meld. Ons sal voortgaan om met die regering in gesprek te bly oor maniere waarop ons landsburgers se lewens en lewensbestaan kan red, terwyl ons saamwerk om Covid-19 hok te slaan. Kom ons wees deel van die oplossing,” sê Basson.

Uitgereik deur: Vinpro

Nota:
Vinpro verteenwoordig nagenoeg 2 600 Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente, kelders en ander wynverwante ondernemings wat ʼn wesenlike werksmag ondersteun, en wat almal afhanklik is van die wynbedryf vir hul lewensbestaan. Heelwat van Vinpro se lede verkoop en versprei ook hul wyne na gelisensieerde restaurante en hotelle, en bedryf self ook gelisensieerde restaurante op hul eie plase waar hulle wynproeë aan verbruikers bied.

Medianavrae:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
Epos: wanda@wineland.co.za

 

 

Go Back