News

Phil du Toit van die plaas Rustfontein, wenner van Vinpro en Winetech se wingerdblokevaluering in die Worcester- en Breedekloofstreke

Phil du Toit van die plaas Rustfontein in die Slanghoekvallei verbou die beste Pinotage-wingerdblok in die Worcester en Breedekloof, aldus Vinpro en Winetech se jaarlikse Wingerdblokkompetisie.

Pinotage is vanjaar as tema vir dié twee streke gekies. “Pinotage is so ʼn eiesoortige kultivar aan Suid-Afrika en doen goed in die Worcester- en Breedekloofstreke,” vertel Pierre Snyman, Vinpro-wingerdkonsultant vir die Worcesterstreek.

Die tweede plek word deur Bruno Suter van die plaas Crush Alba, Waboomsrivier en Coenie Stofberg van Malkopklip naby Rawsonville gedeel. Jannie du Toit van die plaas Swartwalle in Worcester was in die derde plek.

Die agtjarige wenblok beslaan 1.75 ha en het in 2017 bykans 24 ton/ha wyndruiwe gelewer. Die Pinotage kloon PI48 is op Richter 110 verbou en op ʼn vierdraad dubbelverlengde Peroldstelsel opgelei.

Volgens Pierre het die egaligheid van dié blok veral uitgestaan. “Blarebreek is baie effektief toegepas aan die oggendsonkant, wat tot mooi kleur in die druiwe lei, en goeie wortelverspreiding in die profielgat dui op deeglike grondvoorbereiding.”

Tydens ʼn Vinpro Winetech boeredag het hy veral klem gelê op oordeelkundige tip om die lower so egalig as moontlik te kry, wat ʼn positiewe effek op die gehalte en grootte van die oes sal hê. Praktiese wenke vir effektiewe watertoediening en die beheer van siektes en plae is ook by dié geleentheid gedeel.

Die Vinpro Winetech Wingerdblokkompetisie word jaarliks in die onderskeie streke aangebied om optimale wingerdpraktyke volgens die spesifieke tema te identifiseer, evalueer en met die bedryf te deel.

-Einde-

Uitgereik deur:            VinPro

Medianavrae:              Wanda Augustyn

VinPro Kommunikasiebestuurder

Tel: 021 276 0463

E-pos: wanda@wineland.co.za

Go Back