Ons almal weet Vinpro se grondkundige Johan de Jager is op sy gelukkigste wanneer hy ʼn gat grawe en grondmosters analiseer. Maar het jy geweet Johan het ook ʼn ander stokperdjie?
Ek het Johan vroeër hierdie week in die gang raakgeloop. Hy het sopas by die voorportaal ingestap, my gegroet en vertel hoe warm die Paarl-son is. Ons praat toe oor sy verjaarsdag wat hy by Genki, ʼn gewilde soesjie-kroeg in Stellenbosch, gevier het.
Hy sê hy het dit maar rustig gevat, want die groot partytjie is eers hierdie naweek. Ek sê toe: Maar dit gaan storm hierdie naweek…
“Dis goeie nuus, want ek is ʼn tuin-ou en my tuin kort bietjie water,” antwoord Johan.
Dit blyk toe Johan is ʼn groot roos-ou en het omtrent ses verskillende rose in sy tuin. Sy gunsteling is die not simply pink-roos. Hy is nie pink of rooi nie, hy’s tussenin, sê hy. “Ek hou veral van hierdie roossoort omdat die werk wat jy die jaar insit, eers volgende jaar wys. Dit groei op jou, letterlik en figuurlik.”
Dalk is daar ʼn les wat ons hieruit kan leer. Al die harde werk wat jy nou insit, sal op die ou end die moeite werd wees. Vinpro en ons veerkragtige wynbedryf het vanjaar baie hard gewerk en ek glo ons sal in die toekoms die vrugte daarvan pluk.
Kyk hoe mooi lyk Johan se tuin. Sy hond, Willie (vernoem na Willie le Roux), dink ook so!