ʼn Pinotage-wingerd van die plaas Fairview buite Malmesbury is vereer as die Paarl- en Swartlandstreek se beste wingerdblok in VinPro en Winetech se jaarlikse evaluering.
Die tema van dié twee wynbedryforganisasies se wingerdblokevaluering in die streek het vanjaar op premium Pinotage gefokus. “Daar is fyn gekyk na die bestuur van dié trots Suid-Afrikaanse kultivar. Pinotage is ʼn kruising tussen Pinot Noir en Cinsaut (vroeër as Hermitage bekend) wat in 1925 deur die legendariese prof AI Perold van die Universiteit Stellenbosch ontwikkel is,” vertel Hanno van Schalkwyk, VinPro se wingerdboukundige vir die Paarl en Swartland.
Die sewejarige wenblok van Hennie Rossouw op Fairview is ʼn kloon PI48, geënt op Richter 99 en word as bosstok verbou. Kortkop na die wenner was ʼn blok van Bosman Adama (Wellington), gevolg deur Lombard Trust (Hermon).
“Die standaard van die inskrywings was baie hoog en die blokke het ondanks die droë jaar steeds baie goed vertoon. Die feit dat die wenblok droëland verbou word, is ʼn pluimpie vir Pinotage se taaiheid om steeds onder moeilike en droë toestande kwaliteit druiwe en wyn op te lewer,” sê Hanno.
Deelnemers het getoon dat hulle deur oordeelkundige beplanning ʼn wenresep vir elkeen se terroir kon bepaal. Sommige van die inskrywings word bosstok verbou, terwyl ander opgelei is. Party is teen hoër digthede geplant na gelang van die beskikbaarheid van water. Korttermyntegnieke soos snoei, suier, tip en blaarverwydering is ook aangepas om die wyndoelwit te komplimenteer.
Die VinPro/Winetech wingerdblokkompetisie word jaarliks in die onderskeie streke aangebied om beste wyndruifverbouingspraktyke te identifiseer, vier, en met die bedryf te deel. ʼn Boeredag word in Junie gehou waartydens die praktyke van die wenblok gedemonstreer en ander tegniese inligting oorgedra gaan word.