News

Abé Colyn van die plaas Naauwkoes meet sy wingerde presies en pas praktyke deurlopend aan

Abé Colyn van die plaas Naauwkoes meet sy wingerde presies en pas praktyke deurlopend aan

Deur sy wingerde noukeurig te monitor en praktyke presies toe te pas, kry Abé Colyn van die plaas Naauwkoes in die Spruitdrift-gebied dit reg om kostes te bespaar én gehalte te verhoog.

Abé Colyn, die wenner van VinPro en Winetech se jaarlikse wingerdblokevaluering in die Olifantsrivier-streek, verbou sy wenblok Chenin Blanc met premiewyn as doelwit. Die druiwe word by Namaqua Kelder gelewer.

“Chenin Blanc word as een van die hoekstene van die wynbedryf in dié streek beskou, aangesien dit een van die topkultivars wat betref produksie is. Van daar die keuse van dié kultivar as tema vir die kompetisie vanjaar,” sê Gert Engelbrecht, VinPro se wingerdkonsultant vir die Olifantsrivier-streek.

Volgens Gert is Naauwkoes se wenblok ’n uitstekende voorbeeld van presisieboerdery. Goeie langtermynpraktyke soos die keuse van prieelstelsel, besproeiingstelsel en vestiging het tot ’n uniforme blok aanleiding gegee.

Maar wat die blok van ander onderskei, is die manier waarop korttermynpraktyke deurlopend fyn gemeet en aangepas is. Deur waterverbruik in die wingerdstok meer noukeurig te bestuur word groeikrag beter beheer, kostes bespaar en gehalte verhoog.

“Bo en behalwe die gebruik van tensiometers om waterverbruik in die wingerd te meet het ons vanjaar vir die tweede keer drukbomme in die spesifieke blok gebruik en baie goeie resultate behaal,” sê Abé.

Hierdeur kon die hervulpunt deurlopend bepaal word en is die besproeiingskedulering aangepas om ’n konstante onttrekkingspeil te handhaaf. Groeikrag was in balans, lootgroei het op die regte tyd gestop en minimale tipaksies was nodig.

“In ’n tyd waar water skaars is, is hierdie beslis ’n doeltreffende manier om water optimaal aan te wend,” sê Abé en voeg by dat Naauwkoes in die proses is om tensiometers in al die wingerde aan te bring.

Gert stem saam dat hierdie praktyk vorentoe meer in die wingerd gesien sal word. “Buiten die ooglopende koste- en waterbesparings, ontvang die wynmaker druiwe van goeie gehalte en bly produksie op standaard.”

Die spesifieke wingerdblok se bemestingsprogram word ook streng volgens groeikrag bestuur, wat in ruil ’n positiewe effek op lowerbestuur het.

Chenin Blanc vir premiewyn

Kultivar: Chenin Blanc NS 220

Onderstok: Ramsey

Plantjaar: 2011

Blokgrootte: 2.7 ha

Plantwydte: 1.5 m

Rywydte: 2.7 m

Opleistelsel: verskuifbare 4-draad-heining

Produksie: 33.24 ton/ha

Suiker: 20.6°B

pH: 3.42

Suur: 5.73 g/liter

Soos gepubliseer in die Julie 2016 uitgawe van WynLand tydskrif.

Go Back