Die 2022-parsseisoen het stadig begin en koeler weerstoestande in die aanloop tot die piekseisoen het rypwording verlangsaam.
Goeie koue en bogemiddelde reënval in die winter het waterbronne goed aangevul en voldoende koue-eenhede opgebou. Koeler weer het ook daartoe gelei dat groeifases regoor alle streke – van bot tot blom, deurslaan en rypwording – later as normaal plaasgevind het. Hoewel hitte in Desember en Januarie die rypwordingstempo versnel het, het wingerde steeds nie die agterstand ingehaal nie.
“Einde ten laaste het produsente in al tien die wyndruifverbouingstreke begin pars, met redelike verskille tussen die onderlinge streke in terme van op- en afwaartse skattings vanweë die geografiese diversiteit,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se konsultasiediens.
Volgens die derde skatting deur wingerdkundiges en produsentekelders wat SAWIS (SA Wynbedryfinligting en -Stelsels) en Vinpro gesamentlik middel Februarie uitgereik het, sal die 2022-wyndruifoes steeds kleiner as in 2021 wees, in lyn met die vorige skatting in Januarie. Die afname word hoofsaaklik toegeskryf aan wingerduitkappings, swamdruk weens ongekende reënval en sonbrandskade weens hittepieke gedurende Januarie in sekere streke.
Vinpro se span wingerdkundiges vertel hoe die 2022-parstyd in hul onderskeie streke vorder:
Breedekloof en Worcester
“Druiwe word stuk-stuk by kelders in die Breedekloof- en Worcester-streke ingeneem – hoofsaaklik Chenin Blanc, Sauvignon Blanc en Chardonnay – terwyl die meerderheid rooi kultivars steeds hang,” sê Pierre Snyman.
Die lang, koel aanloop tot parstyd het fotosintese vertraag, wat suikervlakke stadiger laat opbou en rypwording vertraag. Daar word verwag dat wynmakers suuraanpassings in die kelder sal moet maak nadat druiwe se sure weens die skielike hittegolwe vroeg in Februarie geval het. Sonbrandskade het ook plek-plek voorgekom, wat ʼn effek op die oesgrootte kan hê.
Paarl en Swartland
Die pars van wit wyndruiwe in die Paarl en Swartland is goed op dreef en die meeste kelders begin al Pinotage inneem, met ʼn katspoegie van die ander rooi kultivars.
“Ondanks gevalle van sonbrandskade dui die eerste wyne wat tans in die kelders gis op ʼn baie mooi oesjaar,” sê Hanno van Schalkwyk.
Stellenbosch en Kaap Suidkus
“Ondanks ʼn paar warm dae in Januarie ervaar die Stellenbosch-streek steeds ʼn relatief koel seisoen, wat rypwording vertraag,” sê Etienne Terblanche. Die vroeë kultivars is sowat 10 dae agter. Chardonnay, Pinotage en Sauvignon Blanc is goed op dreef, tesame met ʼn klein hoeveelheid Merlot. Die opbrengste en gehalte lyk tans belowend vir die vroeë kultivars, en wat die later kultivars betref, hoop produsente dat die herfs nie te vroeg sal aanbreek nie.
Die Kaap Suidkusstreek het sopas met parstyd afgeskop en na ʼn goeie, koue winter hou die Chardonnay- en Pinot Noir-druiwe wat tans ingeneem word veral belofte in. “Ten spyte van reën gedurende die groeiseisoen en gevolglike swamsiektedruk is die wingerde en druiwe oor die algemeen gesond en sien ons uit na vanjaar se oes,” sê Etienne.
Olifantsrivier
“Parstyd is drie tot vier dae laat in die Olifantsrivierstreek, maar sekere kelders is stil-stil op dreef namate druiwe begin inkom,” sê Gert Engelbrecht.
Colombar- en Chenin Blanc-druiwe word nou grootliks geoes, tesame met van die vroeë rooi kultivars. Bogemiddelde warm weer in Januarie het swamsiektes afgeweer, terwyl dit ook tot laer sure, hoër pH’s en ʼn meer tropiese wynstyl in die Chenin Blanc en Sauvignon Blanc kan meebring.
Noord-Kaap
“Die Noord-Kaapstreek beleef een van sy mees uitdagende seisoene in jare,” sê André Aggenbag, bestuurder wingerdkundige dienste by Oranjerivier Wynkelders. Die streek het sedert Januarie ongekende hoë reënval aangeteken, wat daartoe lei dat wingerde hoë siektedruk en vrot beleef. Onthoudingsperiodes vir sekere chemikalieë maak dit ook tans feitlik onmoontlik om onder andere donsskimmel te beheer, wat tot blaarval lei, rypwording vertraag en ʼn effek op die oesgrootte gaan hê.
Die seisoen is oor die algemeen twee weke later as normaal, met Chenin Blanc wat rondom middel Maart redelik klaar gepars behoort te wees en Colombar wat ook nou by kelders ingeneem word. “Dis ʼn moeilike seisoen, maar ons hou kop bo water en maak die beste van wat ons het,” sê André.
MEDIANAVRAE:
Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za