Wine Industry Strategic Exercise (WISE)
Suid-Afrika het die wynkwaliteit, mense, diversiteit en innoverende aanbiedinge om aan die voorpunt van wyntoerisme te wees, maar samewerking om ’n gemeenskaplike doel te bereik, is nodig om hierdie bedryf na die volgende vlak te neem. Dít volgens Mariëtte du Toit-Helmbold, toerisme-spesialis en hoof van Destinate, wat gekontrakteer is om die Wine Industry Strategic Exercise (Wise) wyntoerisme projek te behartig. Deur EDO HEYNS.
Volgens Du Toit-Helmbold, die voormalige uitvoerende bestuurder van Kaapstad Toerisme, kan die ontwikkeling van Suid-Afrika as die voorkeur wyntoerisme-bestemming, geleenthede vir beide die toerisme- en wynbedryf ontsluit.
Sy verduidelik dat die moderne toeris meer verantwoordelik reis – wat beide die ekologiese en sosio-ekonomiese impak betref – en na stories en verrykende ervarings op soek is. “Dit is nie meer genoeg om net mooi te wees nie – baie wynlande reg oor die wêreld is mooi. Toeriste is vandag op soek na ’n emosionele verbintenis met die plek en mense wat hy of sy besoek. Stories, eerder as bloot besienswaardighede, is die nuwe aantrekkingskrag vir toeriste.”
Boonop is heelwat toeriste op soek na stedelike ervarings, met besoeke aan naasliggende aantreklikhede. Volgens Du Toit-Helmbold is die kort afstande tussen Kaapstad en heelwat wynstreke ’n groot voordeel. Vennootskappe met ander toerismebemarkingsfirmas om koste-effektiewe pakette te verskaf, is een van Du Toit-Hembold se voorstelle om reg deur die jaar toeriste te lok. Sy stel ook voor dat wyntoerisme aanvanklik op die plaaslike mark fokus.
“Heelwat van die wynroetes doen reeds uitstekende werk, maar om werklik wyntoerisme tot sy volle potensiaal te ontwikkel, moet fragmentasie uit die weg geruim word, met ’n verteenwoordigende liggaam wat Suid-Afrikaanse wyntoerisme in sy geheel verteenwoordig,” vertel Du Toit-Helmbold.
Wyntoerisme is een van die kernprojekte wat geïdentifiseer is deur die Wine Industry Strategic Exercise, ’n proses wat aan die begin van 2014 deur bedryfsleiers van stapel gestuur is om ’n mededingende, kragtige, toekomsgerigte strategie vir die wynbedryf daar te stel.
VinPro se besturende direkteur, mnr Rico Basson, verduidelik dat 10 projekte, waaronder wyntoerisme, transformasie en plaaslike generiese bemarking, uit die Wise-inisiatief gespruit het. “Ons het nou die implementeringsfase van die Wise-proses bereik, waartydens van die belangrikste aspekte om die wynbedryf se volhoubare groei te ondersteun, aangespreek word. Wyntoerisme is na my mening, een van die grootste geleenthede om ambassadeurs vir die bedryf te skep en die vrugte van die rimpeleffek daarvan te pluk,” vertel Basson.
“,160