News

Dekgewasse hou verskeie voordele in as dit kom by wyndruifverbouing. (Fotokrediet: Johan de Jager).

Terwyl wyndruifprodusente hierdie maand hul dekgewasse vir die komende seisoen saai, kyk ons na die waarde van dekgewasse in die wingerd en deel wenke en bevindinge van Vinpro se Gen-Z Wingerdprojek dekgewasdemonstrasies.

“Die gebruik van dekgewasse is ‘n uiters waardevolle praktyk om gesonde gronde te verseker wat jou wingerdstokke help buffer teen uitdagende toestande, insluitend klimaatsverandering,” het Ivan Jansen van Rensburg, Barenbrug-landboukundige by ‘n onlangse Winetech Wingerdbouforum-vergadering gesê.

“Insetkostes styg wêreldwyd en wynuitvoermarkte stel strenger maatreëls in oor die gebruik van chemikalieë in wingerde. Dekgewasverbouing bied ’n alternatiewe oplossing vir onkruidonderdrukking, stikstofbinding, mikrobestimulering en die lok van natuurlike predatore, terwyl dit kostes verlaag en opbrengs, kwaliteit en winsgewendheid verbeter,” sê Ivan.

“Dekgewasse bied talle agro-ekologiese voordele,” sê Emma Carkeek, wingerdboukundige van die Gen-Z Wingerdprojek wat dekgewasdemonstrasies en ’n wye reeks ander wingerdboukundige veldproewe regoor Suid-Afrika se wyndruifverbouingstreke vestig.

“Dekgewasse verhoog die grond se organiese koolstof oor tyd, help met grondvogbehoud en waterinfiltrasie en verbeter grondstabiliteit. Dit help ook om waterafloop en erosie te beperk, onkruid te onderdruk en biodiversiteit te verbeter.”

Moets en moenies

Ivan deel ʼn paar wenke vir die vestiging en bestuur van dekgewasse in wingerdrye:

Moets:

  • Plant vroeg onder besproeiing. Dit is veral belangrik wanneer spesies soos medics op die wingerdry gesaai word.
  • Inokuleer peulgewasse indien dit gebruik word om stikstofvlakke te verhoog.
  • Gebruik ‘n deklaag om onkruid te onderdruk.
  • Plant kruipergewasse wat ‘n groter oppervlak sal bedek.
  • Spuit en skoffel onkruid slegs plek-plek waar nodig.

Moenie:

  • Gewasse plant wat rank of hoog groei, sodat dit die kordon bereik nie.
  • Vooropkoms onkruiddoders toedien wat jou dekgewas kan beskadig nie.
  • Na Mei plant nie.
  • Dieper as 1.5 cm plant nie.

2021 dekgewasbevindinge

“Hoewel ons reeds waardevolle insigte oor die gebruik van dekgewasse in wingerde ingewin het, is dit belangrik om aan te hou leer oor die doeltreffendheid van verskeie dekgewasvariasies en om praktyke onder verskillende omstandighede in die onderskeie streke te verfyn,” sê Emma.

Die Gen-Z Wingerdprojek het van April tot Mei 2021 altesaam 11 dekgewas-veldproewe gevestig en in Oktober verlede jaar vyf demonstrasiedae aangebied waartydens wyndruifprodusente, wingerdbestuurders en wingerdboukundiges die bevindinge bespreek het en hul beste praktyke gedeel het. Die demopersele is deur Gen-Z, Agricol en Barenbrug gevestig, en Gen-Z het die demodae saam met Winetech en Barenbrug aangebied.

Deelnemers aan die Gen-Z demonstrasiedag wat in Oktober 2021 by die Welgevallen-proefplaas aangebied is.

Sommige van die algemene waarnemings word hieronder uiteengesit, maar die gedetailleerde data van die dekgewasdemonstrasies is beskikbaar in ‘n artikel in die Mei 2022-uitgawe van WineLand-tydskrif se Winetech Tegniese afdeling.

Stellenbosch: Welgevallen Eksperimentele Opleidingswingerde
Twee dekgewasmengsels en een enkele variëteit (US 2014 korog) het almal indrukwekkende stande en biomassa opgelewer en onkruid doeltreffend onderdruk. Nadat die dekgewasse met ‘n krimproller gerol is, het dit vir die volgende paar maande ‘n beskermende mat oor die grond gevorm. Die eerste mengsel het bestaan uit Barpower-voerrog, Haymaker-weiwieke en Scala bruin mosterd, en die tweede mengsel het Moby-voergars, Arvika-voererte en Tajuna-voerradyse ingesluit.

Barsaia-hawer en Tajuna-voerradyse by Kanonkop Wynlandgoed.

Stellenbosch: Kanonkop Wynlandgoed
Onkruidonderdrukking was goed in al drie dekgewaskombinasies wat op hierdie terrein gesaai is, maar ‘n mengsel van Barsaia-hawer en Tajuna-voerradyse het algeheel die beste gevaar in terme van biomassaproduksie, gevolg deur ‘n mengsel van Barpower-voerrog, Haymaker-weiwieke en Scala bruin mosterd. Die kombinasie van Moby-voergars, Stala phacelia en Arvika-voererte het minder biomassa gelewer, maar onkruidonderdrukking was steeds baie doeltreffend.

Paarl: Klipvlei-plaas
’n Versnit van Moby-voergars, Venice wit mosterd en Arvika-voererte het die meeste biomassa gelewer, grootliks vanweë die voergars se goeie groei. ’n Mengsel van Barpower-voerrog, Tajuna-voerradyse en Azuro-bitterlupiene het gemiddeld gevaar, terwyl ’n derde kombinasie van Barsaia-hawer en Haymaker-weidwieke deur hoë onkruiddruk en die opkoms van graan van die vorige seisoen belemmer is.

Worcester: Cilmor-plaas
Belowende resultate is oor al drie persele verkry, met uitstekende biomassa en doeltreffende onkruidonderdrukking. ’n Mengsel van Barforce-kuilvoergars en Moby-voergars het dig gegroei om onkruid te onderdruk, Barpower-voerrog en Venice wit mosterd het ’n hoë biomassaproduksie gelewer en die derde kombinasie van Barsaia-hawer, Tajuna-voerradys en Haymaker-weiwieke het onkruid uitstekend onderdruk.

Barpower-voerrog en Venice wit mosterd by Cilmor-plaas.

Breedekloof: Diepkloof-plaas
Ondanks uitdagende swaar kleigronde het die mengsels op hierdie terrein oor die algemeen goeie biomassa geproduseer, deels vanweë goeie reënval gedurende 2021. Barsaia-hawer en Scala bruin mosterd het beter gevaar as die ander twee mengsels in terme van biomassa. Onkruidonderdrukking was baie goed in die Barpower-voerrog, Haymaker-weiwieke en Venice wit mosterd mengsel, sowel as die kombinasie van Moby-voergars, Arvika-voererte en Tajuna-voerradys, hoewel die weiwieke en radyse onsuksesvol was in die onderskeie mengsels.

Robertson: De Wetshof
Al drie dekgewaskombinasies het goed gevaar, en medics wat op die wingerdry gesaai is, toon uitstekende potensiaal as ‘n wingerdrybedekking en lewendige deklaag. ’n Kombinasie van Barsaia-hawer, Tajuna-voerradys en Haymaker-weiwieke het die meeste biomassa opgelewer, oorheers deur die hawer, gevolg deur Moby-voergars en Stala phacelia. Barpower-voerrog en Scala bruin mosterd het gemiddeld tot goed presteer.

Kaap Suidkus: Paul Cluver Wyne
Die koel gronde in hierdie streek bied uitdagings in terme van dekgewasverbouing, maar drie kombinasies het steeds goeie groei, biomassaproduksie en onkruidonderdrukking getoon. ’n Mengsel van US 2014 korog, Fiesta-fababone en Stala phacelia het die meeste biomassa geproduseer, gevolg deur Barpower-voerrog en Haymaker-weiwieke en laastens ’n mengsel van Moby-voergars, Arvika-voererte en Tajuna-voerradyse.

Medics op die wingerdry by De Wetshof.

Vir meer inligting kontak:

Gen-Z Wingerdprojek
Emma Carkeek
E-pos: emma@vinpro.co.za

Barenbrug
Ivan Jansen van Rensburg
E-pos: ijvr@barenbrug.co.za

 

Go Back