Om te verseker dat tegniese transformasies suksesvol is, het jy ’n span vol kennis en ervaring nodig. Dit is nou meer as ’n halwe dekade sedert South Africa Wine se bedryfstransformasie-eenheid (nou die departement van transformasie en menseontwikkeling), die Wes-Kaapse departement van landbou, en Casidra met Vinpro saamgewerk het aan ’n toelaagen boereondersteuningsprogram om staatsondersteuning van nuwe toetreders tot die bedryf aan te vul.
Vinpro se ondersteuning aan plase onder swart eienaarskap sluit in raad oor die wingerd, grond- en ekonomiese ondersoeke, en finansiële raad. Wingerdbouers word gehelp om die gepaste druiwe vir die streek en terroir aan te plant. Hulle word ook touwys gemaak in wingerd- en grondbestuur wat produksie en gehalte verbeter, en daar word gekyk of hul ekonomiese model werk en of dit verbeter kan word. Vinpro verstaan al te goed dat elke plaas sy eie behoeftes het.
Die versekering van gesonde grond is vir die Sanders-familie van Brunia Wines sowel opwindend as uitdagend. Dié wynplaas is tans in ’n langtermynproses om hul wingerd te hervestig – ’n proses wat behoorlike grondondersoek vereis. ’n Vinpro-grondkundige is besig met hierdie grondondersoek en die proses sluit kartering sowel as grondontleding in. Die proses sal ’n aanduiding gee oor watter moontlike kultivar-onderstokkombinasie, grond regstellings en -voorbereiding gedoen moet word voordat nuwe wingerd geplant kan word.
Elethu Farm het in 2023 twee verwoestende vloede deurgemaak en het toe vir Vinpro om kundigheid en raad genader. Albei vloede het ’n groot gedeelte van hul wingerd laat platval. Ná die eerste vloed, in Julie, kon die plaas self die herstelwerk hanteer.
“Vinpro het ons bygestaan gedurende die vloed, asook raad gegee oor hoe ons soortgelyke gevalle kan voorkom,” sê die plaasbestuurder, Johannes Fredericks.
Ná die September-vloed het Elethu aansoek gedoen vir rampfinansiering om bystand met die nuwe herstelwerk te verleen. Vinpro is versoek om ’n tegniese verslag deur te gee wat bygedra grondhet tot South Africa Wine se besluit om die rampfinansiering aan Elethu toe te ken.
“Die rampbefondsing is aangewend om die wingerd weer regop te trek en pale en draad te hervestig. Hierdie was van kritiese belang omdat die wingerd begin bot het en reeds in ’n stadium van aktiewe groei was. Herstelwerk het dus binne drie weke geskied en die wingerd het merkwaardig herstel,” vertel Logan Jooste, een van Vinpro se wingerdboutegnici.
“Vinpro se tegniese ondersteuning in my geval was rêrig goed – hulle verstaan die boere,” sê Fredericks.
“Hulle is altyd vir voorstelle te vinde en loop die ekstra myl om seker te maak dat indien iets pla, ons dit kan oorkom.”
Die droom eindig nie hier nie. Die volgende stap vir Elethu is “om staat te maak op tegnologie en te glo dat sukses bereik kan word met Vinpro se hulp”, voeg hy by.
Vinpro se doelwit is om tegniese kennis te omskep in tasbare oplossings oor elke aspek van produksie, sodat hul kliënte en lede konsekwent wingerdprodukte van beter gehalte kan lewer. Beter produkte verseker beter opbrengste, en laat die plaas floreer.
