News

Vinpro kondig met trots en opwinding Dr Etienne Terblanche as die nuwe Vinpro Konsultasiedienstebestuurder aan. Etienne volg in die voetspore van Conrad Schutte wat vanaf 1 Junie as uitvoerende hoof van Vinpro aangestel is.

Etienne het tydens ’n uitmuntende loopbaan sy vaardighede in wynmaak en wingerdbou deur verskeie poste tuis en in die buiteland geslyp nadat hy in 2008 aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer het. ’n Dors na kennis het verdere studies in wingerdbou in Frankryk aangevuur en uiteindelik uitgeloop op ’n doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch. Prakties het Etienne vanaf 2012 sy vaardighede opgeskerp as wingerdboukundige by Delheim Wines in Stellenbosch voordat hy in 2018 deel van die Vinpro-familie geword het, waar hy as wingerdboukonsultant in die Stellenbosch- en Kaapse Suidkus-streke begin werk het. Vanaf 2022 dra hy ook by tot navorsing en onderrig as buitengewone dosent in Wingerdbou aan die Universiteit Stellenbosch.

“Ek is baie opgewonde oor hierdie nuwe uitdaging,” sê Etienne. “Ek sien uit na hierdie nuwe hoofstuk in my loopbaan waar ek glo my vaardighede en kennis van wingerdbou ook ’n strategiese rol binne die nuwe hoofstuk wat Vinpro tans betree, sal speel.”

“Ons sien daarna uit om saam met Etienne in sy nuwe rol te werk,” sê Anton Smuts, Vinpro-voorsitter. “Etienne, wat al ’n geruime tyd deel is van die Vinpro-familie en ’n sterk tegniese agtergrond het, is die perfekte persoon om die konsultasiediens-afdeling met uitnemendheid te bestuur. Hy sal ’n deurslaggewende rol speel in die nuwe rigting wat die Vinpro-groep inslaan om in samewerking met SA Wine tegniese produksie en gespesialiseerde dienste te lewer, sowel as die plantverbeterings- en inligtingsbehoeftes van ons wynprodusente te diens. Ons wens hom alle sterkte toe in sy nuwe rol.”

 

Go Back