
Na laat nagte en dol dae het Pierre- André besluit om die Produksieplan en Kostegids opsy te sit en te gaan rondsnuffel by Vititec, by Henri Slabber om presies te wees. Die twee kon nie besluit of dit ʼn beter opsie sal wees om iets heel buite karakter te doen of om veilig te speel en net te gesels oor wat presies Henri by Vititec doen nie. Tussen rolblaarvirus en ʼn glas wyn leer ken Pierre-André en Henri mekaar.
Henri is ʼn tegnikus by Vititec, wat beteken dat hy verantwoordelik is vir die inspeksie en instandhouding van die onderskeie moederblokke. Hy en sy span verseker dat die beste entmateriaal ten alle tye aan die kwekery gelewer word. Hierdie kennis het hy opgedoen deur jare se ondervinding en opleiding by die Kaapse Tegnikon en Elsenburg Landboukollege. Glo dit of nie, Henri het ook ʼn tydjie lank in die IT-bedryf gewerk, by Metropolitan Life, voor die wingerd hom geroep het. Hy is nou al 20 jaar deel van die Vititec-span.
Hoewel jy mag dink dat dit vir Henri vervelig kan wees om heeldag lank in die wingerd rond te loop, is dit juis die gunsteling deel van sy werk. Dit maak veral sy dag as hy die wingerd op sy motorfiets kan aandurf. En hom tog net nie heeldag agter ʼn lessenaar laat sit nie!
“Dit is belangrik om altyd ʼn goeie mens te wees, en trots te wees op wat jy doen,” vertel Henri. Behalwe dat hy altyd net sy beste gee en ʼn goeie mens probeer wees, het hy ʼn groot passie om deel te wees van ʼn span wat wyn beter laat smaak.
Henri hou verder van ontspan voor die TV of langs ʼn braaivleisvuur met ʼn heerlike glas wyn. Hy klim ook nou en dan op sy bergfiets en ry die vlaktes in om te ontsnap. Die stokperdjies eindig nie daar nie; hy is ook lief vir radiobeheerde helikopters en vliegtuie.
“Dit is vir my ʼn groot voorreg om deel van die Vinpro- en Vititec-span te kan wees. Die verskil wat ons in die bedryf maak, is iets om op trots te wees,” vertel hy.
Henri geniet sy werk, is ʼn goeie bron van wingerdkennis en gaan slaap ook maar laat op ʼn Maandagaand wanneer hy sy weeklikse fix van Game of Thrones kry.

Henri jy is aan:
As jy nog nie weet hoe A day in the life of werk nie, hier’s die reëls:
• Identifiseer iemand in die Vinpro-groep met wie jy nie elke dag werk nie, en van wie jy meer wil leer.
• Spandeer tyd saam – of dit nou ’n koffie-afspraak, rit saam met ’n wingerdboukundige, ’n wynproe, kanovaart of rekspring is.
• Neem baie foto’s!
• Beantwoord 7 vrae om meer oor hom/haar te leer.
• Oorhandig die stokkie aan daardie persoon om dieselfde met die volgende Vinpro’er te doen.


