News

Parstyd in Suid-Afrika is in volle swang, maar was vanjaar in heelwat streke stadig uit die blokke weens ʼn koeler seisoen. Hoewel die koeler weer ʼn paar uitdagings in die wingerd meebring, dra dit ook tot uitsonderlike kleur en geur in vanjaar se wyndruifoes by. Vinpro se streekswingerdboukundiges vertel meer.

 

Volgens die jongste skatting deur SAWIS (Suid-Afrikaanse Wynbedryf Inligting en -Stelsels) en Vinpro in Februarie word verwag dat die wyndruifoes in hierdie stadium ietwat groter sal wees as in 2020, maar steeds kleiner as die 15 jaar gemiddeld van 1.37 miljoen ton.

Conrad Schutte

“Die meeste wyndruifverbouingstreke pars vanjaar sowat twee weke later as normaal na konsekwente koeler weer regdeur die seisoen. Van die begin van die groei- en rypwordingsperiode het ons ook geen van die normale hittepieke beleef nie, wat help om sonbrandskade te beperk en geure mooi te behou,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se konsultasiediensafdeling.

“Met die pars wat soveel later inkom, het meeste van die kelders op hierdie stadium ʼn kleiner gedeelte van hul normale druifinname ontvang. Die volgende oesskatting wat in middel Maart verwerk en vrygestel word, behoort die tendense rondom die oesgrootte duideliker uit te wys,” sê Conrad.

Vinpro se wingerdboukundiges vertel hoe parstyd in die onderskeie streke verloop:

 

Stellenbosch en Kaap Suidkus

Etienne Terblanche

“Stellenbosch-produsente pars 10 tot 14 dae later as gewoonlik, as gevolg van die koeler weerstoestande,” sê Etienne Terblanche. “Sauvignon Blanc word ingeneem, saam met ʼn laaste bietjie Pinotage en die geur- en kleurkonsentrasies lyk op hierdie stadium fantasties.”

“In die Kaap Suidkusstreek, wat alreeds ʼn koelklimaatstreek is, het die koeler seisoen daartoe gelei dat die wingerde heelwat stadiger uit die blokke was as ander streke,” sê Etienne. “Die Kaap Suidkusstreek strek egter tot so ver as die Agulhas-driehoek, waar die weerstoestande effens warmer was en produsente reeds kon begin pars. Na goeie winterreënval lyk die gehalte uitstekend, met goeie sure en die rooi druiwe het veral mooi kleur. Nader aan die Hemel-en-Aardevallei is dit nog te vroeg om iets oor die 2021-oes te sê, maar van die vonkelwynprodusente in Elgin wat reeds gepars het, is opgewonde oor die gehalte.”

 

Gert Engelbrecht

Olifantsrivier

“Parstyd in die Olifantsrivier is redelik deurmekaar op hierdie stadium,” sê Gert Engelbrecht. “Die relatief koel lente en somer het daartoe bygedra dat die oes gemiddeld sowat twee weke later as normaal ingeneem word. Alle kultivars is egter nie regdeur die bank laat nie, wat tot opeenhopings by kelders lei en ons normale parspatroon omvergooi. Die kuns is nou om druiwe teen die regte suiker in die kelder te kry. Aan die positiewe kant, het die feit dat die streek nog nie erge hitte beleef het nie, goeie geur- en kleurontwikkeling meegebring.”

 

Paarl en Swartland

Hanno van Schalkwyk

“Hierdie was seker die koelste somer in vyf jaar in die Paarl en Swartland streek, wat parstyd met tot twee weke aangeskuif het,” sê Hanno van Schalkwyk. “Chenin Blanc en Pinotage is in die laaste week van Februarie gepars, met Merlot en Shiraz wat vanaf begin Maart gereed behoort te wees. Die druiwe lyk belowend, met mooi geur en kleur. Ondanks droë gronde wat steeds ʼn uitdaging in die wingerd bied – hierdie hoofsaaklik droëlandstreek het geen reënval in Desember of Januarie ontvang nie – help die koeler weer dat die druiwe mooi inkom.”

 

Robertson en Klein Karoo

“Produsente in die Robertson- en Klein Karoostreke pars vanjaar gemiddeld twee tot drie weke later as normaal,” sê Hennie Visser.

Hennie Visser

“In die eerste twee weke van Februarie het baie warm weer tot stadiger suikerakkumulasie gelei, maar na die matige weer vanaf middel Februarie het ons weer mooi suikertellings gesien. Sauvignon Blanc en Chardonnay is in die laaste week van Februarie ingeneem, terwyl Chenin Blanc in die eerste week van Maart in alle erns gepars behoort te word. Die wingerde is ook gesond met bykans geen vrot nie. Ons kan wel agterkom dat die seisoen begin draai, met koeler oggende en selfs dou wat plek-plek voorkom.”

 

Worcester en Breedekloof

“Parstyd is sowat drie weke laat in die Worcester- en Breedekloofstreke, maar reeds goed op dreef,” sê Pierre Snyman.

Pierre Snyman

“Suikermonitering is vanjaar ʼn groot uitdaging, en dit het reeds teen middel Februarie begin dou, wat ʼn verdere demper op rypwording geplaas het. Hiermee saam plaas ʼn groot oes ook druk op kelderspasie.”

 

Noord-Kaap

“Swaar reënbuie het gedurende Januarie in sekere dele van die Noord-Kaap voorgekom, tesame met bedompige en warm weer wat die voorkoms van swamsiektes soos botrytisvrot en donsskimmel aangevuur het, en ʼn negatiewe effek op trosvolume kan hê,” sê Conrad.

 

Fotokrediet: Andries Rossouw, Klawer Wine Cellar

Wat pars jy wanneer?

Al ooit gewonder watter druifsoorte eerste gepars word? Hier is ʼn algemene riglyn, wat kan wissel van streek tot streek, en na gelang van die weersomstandighede:

Februarie: Chardonnay, Pinotage, Chenin Blanc en Sauvignon Blanc

Begin Maart: Merlot en Cinsaut Noir

Middel Maart: Colombar en Shiraz

Einde Maart: Cabernet Sauvignon en Ruby Cabernet

 

 

Wenke vir parstyd

  • Neem gereeld druiwemonsters om rypwording te monitor.
  • Skakel met jou wynmaker en kelder voor enige blok gepars word.
  • Pars op die koelste tyd van die dag, maar moenie druiwe oornag in die parsbak of kissie laat nie.
  • Besproei volgens die wingerdbehoefte vir optimale kleur, geur en druifontledings.
  • Indien lowers bo die trossone te dig is, breek blare oordeelkundig vir goeie beligting en deurlugting.
  • Beheer onkruid waar dit in kompetisie kan wees vir water en voeding.

Kontak Vinpro se span grondkundiges en streekswingerdboukundiges vir pasgemaakte advies in die wingerd.

Tel: 021 276 0429
E-pos: info@vinpro.co.za
Webblad: https://vinpro.co.za/viticulture/

 

 

 

 

Go Back