Vinpro het onlangs die eerste van ’n beoogde twee inligtingsessies vir jong wynprodusente gehou. Teenwoordiges by die inligtingsessies was genomineer deur hul eweknieë volgens dié kriteria: jonger as 35 is; twee of meer jaar al voltyds met wyndruiwe boer; en moontlik ’n loopbaan in die wynbedryf gaan hê.
Die twee geleenthede is onderskeidelik by Boschendal en Slanghoek Wynkelder aangebied met die hoofdoel om teenwoordiges in te lig oor verskeie aspekte van die wynbedryf. Dit het ingesluit hoe werk die wynbedryf en die verskeie strukture/bedryfsorganisasies en wat elkeen doen; hoe lyk Suid-Afrika se markte; die wynbedryf se eiesoortige uitdagings; hoe vloei die geld in die bedryf tot op die plaas en wie/wat is Vinpro en wat doen die organisasie vir produsente.
Frans Malherbe, Springbokstut en wêreldbekerwenner, was die gasspreker en het sy ervaring en siening van mentorskap gedeel. Met verskeie toetse agter die blad het Frans al onder menigte afrigters en spanbestuurders gespeel. Hy het sy ondervindings oor na wie hy graag luister en sy siening oor die komende wêreldbeker in Frankryk gedeel. “Die belangrikste eienskap van ’n mentor is respek. ’n Mentor is iemand wat reguit praat en jou motiveer om jou beste te gee. Maar jou mentor moet jou ook kan afpraat as jy op ’n high horse is.”
Deur vergelykings te trek met rugby sê Frans: “Soek ’n mentor wat ’n spesialis/kenner in sy/haar veld is. Jou mentor moet respek hê vir die tipe mens wat jy is en hul kennis op so ’n manier oordra dat dit voordelig is vir jou in jou loopbaan. En moenie ’n mentor kies wat jou kompetisie is nie, so iemand kan jou moontlik terug hou tot hul eie voordeel.”
Sameroeper van die geleentheid, Francois Viljoen, wat die GEN-Z Projekbestuurder en Wingerdkonsultant by Vinpro is, het aan die jongprodusente verduidelik dat daar ’n opvolg geleentheid gaan plaasvind en wat sal fokus op interaktiewe kommunikasie. Die doel van die eerste byeenkoms was egter hoofsaaklik vir inligtingsoordrag om teenwoordiges te bemag met inligting oor die bedryf. “’n Ingeligte bedryf kan net voordele inhou,” sê Francois.
“Julle is die toekomstige leiers van hierdie bedryf. Julle is uitgesoek en moet trots wees daarop. ’n Belangrike deel van die sukses van enige loopbaan is ’n goeie mentor. Vind mentors in jou werksomgewing en kry paar mentors op werksvlak vir jouself. ’n Mentor gee leiding en raad, is geduldig, luister, én bied ander perspektiewe.”
