Dit is nou nie enige iemand wat ʼn bietjie verlof sal neem om dae aaneen te gaan stap nie, maar Maretha Cillié weet wat maak haar kop  skoon. Vars lug, die natuur en warm weer is net wat iemand so in die middel van die jaar nodig het om weer te recharge. Maretha het onlangs die Erdvark-roete gaan stap, op ʼn plaas naby Beaufort-Wes. Die staproete strek oor vyf dae teen ongeveer 15km per dag. Carlin Daniels vind meer uit.
“Nooit weer sal ek sê die Karoo is mos plat nie,” sê Maretha. “Die stilte, uitsig en verblyf was besonders. Een van die nagte het ons in tente in ʼn kloof oornag en die volgende in ʼn ou skooltjie in die middel van nêrens. Elke dag was uniek.”

1. Wie of wat het jou beïnvloed om te begin stap?
Dit is vir my die beste vakansie. Die natuur maak my rustig. Jy sien plekke wat jy nooit met ʼn voertuig sou kon bereik nie en kom weg van alles elektronies. Dit is ʼn lekker kuier saam met vriende. Lekker om saans om ʼn kampvuur almal se ervarings van die dag te deel.

2. Enige spesifieke rituele wat jy het voor jy begin stap? Enige iets wat jy eet, drink of spesifiek dra?
Nie regtig iets spesifiek. Dit is net vir my belangrik dat ek en my skoene mekaar reeds voor die stap verstaan. Jou voete moet hou! Ek sorg altyd dat ek vir my toon sokkies koop om blase te probeer vermy en dan genoeg pleisters het vir as ek hulle kry. Wat jy in jou rugsak pak verg ook beplanning. Dit verskil maar van stap tot stap.

3. Hoe berei jy jouself voor – fisies en geestelik?
Fisies probeer ek maar genoeg stapoefening inkry voor ek gaan stap. Geestelik is gewoonlik geen probleem, want ek is gewoonlik so opgewonde oor die uitdaging en die avontuur wat voorlê.

4. Enige interessante feite oor die roete of jou ervaring wat jy graag met ons deel?
Die Karoo was bitter droog, maar hoe besonders was dit nie om daar te wees toe dit op ons vyfde dag begin stortreën nie! Die veld het sommer nuwe lewe gekry.

Go Back