Vinpro se jaarlikse opleiding is welbekend in die wynbedryf en kan jou wingerdspan se vaardighede help opskerp. Met meer as 5 000 mense in die afgelope agt jaar opgelei, is die Vinpro-opleidingsprogram voorwaar een van die gekose programme in die bedryf.
Verskeie opleidingsopsies bestaan vanaf ’n e-leerplatform vir wingerdwerkers om hul vaardighede aanlyn op te skerp, tot praktiese wingerdsnoei-opleiding op die plaas.
Die praktiese opleiding is gebaseer op ’n opleidingspakket wat fokus op wingerdpraktyke. Dit sluit in snoei, wingerdvestiging, stokontwikkeling, lowerbestuur, grondbestuur, identifisering van siektes en plae, besproeiing, bemesting, wyndruiwe-oes en grondkunde. Hierdie modules is nou ook aanlyn beskikbaar deur middel van die nuwe e-leer platvorm in samewerking met Winetech Menslike Ontwikkeling.
E-leerplatform-opleiding
Die e-leerplatform word as ’n eenjaarlisensie aan produsente, wynmaatskappye en leer instansies beskikbaar gestel. Die fokus van die program is om wingerdbestuurders en spanleiers op te lei as fasiliteerders sodat hulle die e-leer platform kan gebruik om hul wingerdspan verder op te lei binne die 10 verskillende modules. Koste vir wynprodusente beloop R10 000 eenmalig vir die sessie en die koste-uiteensetting is R8 000 vir die jaarlikse lisensie (d.w.s. een jaar toegang tot die stelsel) en R2 000 per spanleier wat die opleiding bywoon. Daar kan ’n onbeperkte hoeveelheid leerders registreer op die stelsel.
Tydens die opleidingsessie sal ’n Vinpro-kundige al die nodige inligting verskaf oor hoe die platform werk, en hoe spanleiers en -spanne die opleiding saam op die mees doeltreffende manier kan benut. Spanleiers kan dan hul spanlede op die platform registreer, waarna elkeen van hulle toegang sal kry tot die nuwe e-leerplatform, wat in Oktober verlede jaar bekendgestel is, deur hul selfoon of rekenaar. Hierna kan wingerdspanne hul opwindende nuwe opleidingsreis aanpak. Spanleiers tree dus op as fasiliteerders wat hul eie wingerdwerkers se leer onder leiding van die Vinpro-opleidingspan fasiliteer.
Na afloop van hul opleiding sal die spanleier by die Suid-Afrikaanse wynbedryf se professionele liggaam, South African Wine Industry Professional Body (SAWIPB), geregistreer word, met spesiale status en erkenning. Benewens die leermateriaal en video’s wat spanne op hul eie of gesamentlik kan deurwerk, kan individue ook kort toetse op elke onderafdeling binne ’n module voltooi sodat hulle self en hul spanleier tred kan hou met die vordering. Elke persoon wat ’n module met ’n assessering bo 80% suksesvol voltooi, ontvang ’n sertifikaat wat afgelaai of gedruk kan word of op hul profiel gelaai kan word indien hulle dit in die toekoms nodig het.
Datums beskikbaar vir die Wingerdspanleier opleiding op die e-leerplatform is as volg:
Junie | Julie | Augustus |
1 | 5 | 2 |
Bespreek nou deur ’n epos te stuur na lms@winetech.co.za of kontak Kachné Ross by 021 276 0497. Besoek gerus die Winetech webwerf by www.winetech.co.za vir verdere inligting.
Wingerdsnoei-opleiding
Die wingerdsnoei-opleiding kan jou span se vaardighede opskerp deur die beste snoeipraktyke met hulle te deel tydens praktiese opleiding op die plaas. Die wingerdsnoei-opleidingsessies hou verband met praktiese tegnieke en die effek daarvan op plantgroei, oesopbrengs en oesgehalte.
Die opleiding sluit in basiese snoeibeginsels (kort-, halflang draer- en Guyot-stelsels), onderhoud van snoeiskêre, voorkoming van stamsiektes en basiese wingerdstokfisiologie. Koste beloop R450 per persoon en ’n Vinpro-sertifikaat word uitgereik aan diegene wat ‘n kursus suksesvol voltooi het.
Datums beskikbaar vir die praktiese wingerdsnoei-opleiding:
Mei | Junie | Julie | Augustus |
30 | 6, 8, 13, 15, 20, 22 | 4, 6, 11, 13, 26-27 | 1, 3, 8, 10, 15, 17, 29, 31 |
Bespreek ’n wingerdsnoei-opleidingsessie by Lesley Paulse. Kontak haar by 021 276 0432 of stuur ’n e-pos na lesley@vinpro.co.za.
Die praktiese opleiding loop hand-aan-hand met die e-leerplatform-opleiding en vul mekaar goed aan. Die verband tussen die praktiese tegnieke en die e-leerervaring, en leerders se loopbaanpad vorentoe, is aanvullend tot hul toekomstige indiensneembaarheid.