News

Suid-Afrika se wyntoerismesektor was een van dié wat die hardste getref is deur reisbeperkings en die verbod op plaaslike drankverkope sedert Maart 2020. Maar kenmerkend aan die wynbedryf, is hierdie sektor meer vasbeslote as ooit om sy wyntoerismebestemmings weer op die been te kry.

Na raming het Suid-Afrika se wyntoerismesektor – wat van kardinale belang is om die ekonomie en lewensbestaan van meer as 36 000 mense te onderhou – van Maart tot Oktober 2020 meer as R3.7 miljard aan wyntoerisme-inkomste verloor as gevolg van Covid-19-beperkings. Terwyl die bediening en verkoop van wyn by wyntoerismebestemmings sedert Februarie heropen is – met die uitsondering van ʼn verbod op verkope vir tuisverbruik gedurende die Paasnaweek – funksioneer hierdie sakeondernemings steeds nie teen optimale kapasiteit nie, en sal hulle sukkel om verlore inkomste te verhaal.

“Ons wynplase was gereed om veilig en verantwoordelik te handel, met uitgebreide gesondheids- en veiligheidsprotokolle in plek, toe die beperkings verslap is,” sê Marisah Nieuwoudt, bestuurder van wyntoerisme by Vinpro. “Omdat mense gretig was om uit te kom, en die meeste plase net ʼn paar minute se ry van hul huise af was, het ons baie voete gekry. Maar vanweë volgehoue ruimtelike beperkings, kan wynkelders steeds slegs 50% van hul normale aantal gaste verwelkom, wat tot ʼn laer inkomste aanleiding gee in ʼn tyd wat ons nodig het om op te maak vir verlede jaar se verliese.”

Hoewel wyn die hooffokus is, dra restaurante en akkommodasie gemiddeld 45% tot die totale wyntoerisme-omset by hierdie bestemmings by. ʼn Akkommodasiebespreking is ʼn bederfbare produk en tydsgebonde. “Sodra ʼn bespreking gekanselleer moet word weens Covid-19-reisbeperkings, kan ons nie vandag se kamerinkomste môre invorder soos wat jy ʼn onverkoopte bottel wyn weer op die rak kan terugplaas nie. Sodra dit verlore is, kry jy dit nooit weer terug nie,” sê Marisah.

Dis wel bemoedigend dat die aantal binnelandse besoekers by die Kaapstadse lughawe vanaf September verlede jaar begin optel het, sowel as internasionale besoeke (alhoewel van ʼn heelwat laer basis). Die wynlande se akkommodasiesyfers het hiermee saam gegroei. “Ons moet nou alle geleenthede vir herstel en groei wat oor ons pad kom, aangryp en die meeste waarde daaruit ontgin,” sê Marisah.

Terwyl wyntoerismebestemmings beslis hul veerkragtigheid, kreatiwiteit en innovasie getoon het in die manier waarop hulle nuwe en lojale besoekers lok, het bedryfsorganisasies onverpoos agter die skerms gewerk om herstel te stimuleer.

Vinpro en sy vennote in toerisme, insluitend die Suid-Afrikaanse Wynroeteforum en organisasies soos Wesgro en SA Toerisme (SAT) wat ten doel het om bestemmings te bemark, fokus gesamentlik daarop om volhoubare aanbod te verseker, die vraag na Suid-Afrika se toerismebestemmings weer te laat opvlam en om kapasiteit te versterk – fokusareas wat ooreenstem met die nasionale departement van toerisme se Toerismeherstelstrategie ná Covid-19.

“Wat ons ook al doen, ons moet seker maak dat dit nie ʼn refleks is in reaksie op wat nou aan die gaan is nie, maar eerder ʼn aksie wat vandag se uitdagings sal aanspreek, maar steeds in die langtermyn voordele sal inhou,” sê Marisah.

 

Verseker volhoubare aanbod

“In wese moet ons sorg dat ons deure oop bly, sodat besoekers êrens heen kan gaan sodra hulle in die wynlande is,” sê Marisah.

Een inisiatief wat ondernemings gehelp het om oop te bly én hulle mense in hul diens aan te hou, was die goedkeuring van ʼn R12 miljoen Wine Tourism Worker Support Stipend (WTWSS) deur die Wes-Kaapse departement van landbou. Meer as 1 300 permanente wyntoerismewerkers trek voordeel uit hierdie toelaag van R3 000 per persoon per maand van Desember tot Februarie, waarvan 85% reeds teen die einde van Maart uitbetaal is.

“WTWSS het ons gehelp om ons werknemers te behou”

Begunstigdes van die WTWSS deel hul ervaring:

“Ons besit een van die kleinste wyn- en gastelandgoedere. Op ʼn tydstip toe daar bykans geen ondersteuning vir die wynbedryf was het nie, het Vinpro en die Wes-Kaapse departement van landbou broodnodige verligting gebring. Teen die tyd dat die piekseisoen moes aanbreek, was ons hulpbronne reeds uitgeput. Ons grootste verantwoordelikheid was nog altyd om al ons personeel in diens te hou. Ek kon dit amper nie glo toe Vinpro ons laat weet het dat ons aansoek suksesvol was nie. Die befondsing het ons laat asem skep, maar ook hoop gegee in ʼn tyd wat dit maar yl gesaai was.”
Theresa Visser, eienaar van Lovane Boutique Wine Estate and Guesthouse

 

“Die tydsberekening van die WTWSS-finansiering het perfek saamgeval met die tweede golf van Covid-19 en het ons in staat gestel om ons personeel te behou en niemand af te lê gedurende wat tradisioneel ons besigste tyd is nie. Dit is normaalweg ʼn tyd waarin ons ons reserwes vir stiller maande opbou. Ons kon sommige van ons personeel met verlof laat gaan met die gemoedsrus dat hulle nog ʼn werk gehad het om na terug te keer.”
Carolyn Martin, mede-eienaar van Creation Wines

 

“Ons is so geseënd en dankbaar dat ons die WTWSS-finansiering ontvang het. Toe ons van die fonds te hore gekom het, het ons byna geen opsies meer oorgehad nie, en ons kon ook nie lenings te bekom of rondom Covid-beperkings beplan nie. Die toelaag was ʼn welkome uitkoms en het ons in staat gestel om ons mense in diens te hou en hul lewensbestaan in hierdie moeilike en onsekere tye te beskerm. Baie dankie aan Vinpro en die Wes-Kaapse departement van landbou. Ons sal jul ondersteuning nooit vergeet nie en jul voorbeeld volg deur weer in die bedryf te ploeg sodra ons weer op die been is.”
Denise Stubbs, bestuurshoof van Thokozani Wines & Hospitality

 

Wyntoerismebestemmings het ook besigheidskontinuïteit verseker deur ‘n stel streng gesondheids- en veiligheidsprotokolle spesifiek tot hierdie sektor te implementeer en personeel daaroor op te lei. Suid-Afrika het ook in Augustus 2020 die Wêreldreis- en Toerismeraad (WTTC) se Global Safety Stamp of Approval ontvang vir die implementering van gesondheids- en higiëne-protokolle wat ooreenstem met wêreldstandaarde. Stellenbosch was die eerste bestemming in Suid-Afrika wat die Global Safety Stamp ontvang het.

“In ons voorspraak by die regering onmiddellik na die inperking op 26 Maart 2020, het ons ten doel gehad om die risiko by dienste wat hoë waarde en lae risiko inhou heeltemal te elimineer. Deur byvoorbeeld selfsorgverblyf oop te hou, hou dit ʼn lae risiko in om die virus te versprei, terwyl dit ʼn hoër inkomste verdien teenoor ʼn wynproe deur dieselfde groep.”

Vinpro en sy vennote neem aktief deel aan regulatoriese aangeleenthede, soos die regering se voorstel om die bloedalkoholkonsentrasie (BAC) vlak vir bestuurders op 0% te stel vergeleke met die huidige 0.05%. “Dit sal ʼn ernstige nadelige uitwerking op toerisme-aktiwiteit hê in ʼn tyd wat ons geen verdere terugslae kan bekostig nie,” sê Marisah.

 

Laat vraag weer opvlam

Terwyl die Visit Winelands-platform, individuele wynroetes en bemarkingsorganisasies soos Wesgro en SAT Suid-Afrika se wynlande deurlopend bemark as oop, veilig en verwelkomend, werk hulle ook saam aan geteikende veldtogte wat daarop gemik is om die vraag van plaaslike sowel as oorsese besoekers te laat opvlam.

“Wyntoerisme word toenemend ingesluit by veldtogte deur organisasies wat toerismebestemmings bemark. Wesgro neem byvoorbeeld in April videomateriaal en foto’s in die wynlande en omliggende omgewing vir ʼn internasionale bemarkingsveldtog,” sê Marisah. “Deur Wesgro het die Kaapse Wynlande ook weer ʼn lid van die Great Wine Capitals Network geword, wat ons regtig geposisioneer het as ʼn wêreldklas-wyntoerismebestemming in ʼn tyd waarin ons die positiewe blootstelling nodig gehad het.”

Die truuk is egter nou om die tydsberekening van bemarkingsveldtogte reg te kry. “As jy dit doen terwyl ander lande ingeperk is, lyk u ongevoelig; as jy dit doen terwyl jy agter slot en grendel is, lyk dit onsinnig. Dit is ʼn universele probleem en ons mag dalk selfs sien dat verskeie wêreldwye toerismebestemmings terselfdertyd oopgaan, wat dit moeilik gaan maak om mee te ding.”

Afgesien van die groter toerismeveldtogte, het die sektor ook finansieringsvoorstelle aan die regering voorgelê vir toegewyde internasionale en binnelandse bemarkingsveldtogte wat spesifiek op wyntoerisme fokus. “Plaaslik sal ons kyk na die hoë potensiële verbruikerssegmente wat in die WISE-verbruikersegment beklemtoon word, met inagneming van oorvleueling wat betref reis en toerisme. Vir internasionale bemarking sal ons hoofsaaklik fokus op mense wat vriende en familie besoek (baie van hulle is sogenaamde “expats”), migrerende ‘swaeltjies’ wat vir langer tye bly en vertroud is met die land, en herhaalde besoekers met ʼn sterk motivering om te reis en ‘n hoë mate van vertroudheid met die land.”

 

Versterk kapasiteit

“Ons het verseker dat ons oor voldoende, hoë gehalte en veilige wyntoerismebestemmings beskik, met genoeg personeel om besoekers te verwelkom. Ons het besoekers ook lus gemaak om ons wynlande te verken. Maar dit is nie al nie – ons wil besighede ook help om hul kern te versterk, sodat hulle meer veerkragtig is en beter voorbereid is vir risiko’s vorentoe,” sê Marisah.

In 2019 het Vinpro, met steun van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (CWDM), ʼn gratis digitale hulpbron vir wyntoerismebestemmings, die Wine Tourism Toolkit, bekendgestel. Hierop het ʼn aantal streekswerkswinkels aan die einde van 2019 gevolg oor die praktiese aspekte rondom die bestuur van ‘n wyntoerisme-onderneming. In 2020, gebaseer op behoeftes wat tydens hierdie sessies geïdentifiseer is, en in die lig van ʼn groeiende tendens, het Vinpro saam met Wine Tourism Australia en Commerce 7 ‘n reeks digitale werksessies aangebied om kelders te help om hul direkte verkope aan verbruikers te verhoog.

“Ons doen ook ʼn beroep op alle wyntoerisme-instansies en hul personeel om teen 14 Mei 2021 aan die landswye Wyntoerisme Vaardigheidsopname deel te neem om sodoende die vaardighede van hul span te meet, en ons in staat te stel om areas vir verdere opleiding en ontwikkeling te prioritiseer,” sê Marisah. Die vaardigheidsopname en opleiding – slegs beskikbaar aan diegene wat aan die opname deelgeneem het – word moontlik gemaak deur die CWDM en geïntegreer met Winetech se leer- en ontwikkelingsdoelstellings en platform.

“Wynroete-inligtingsessies word van 12 tot 27 April regoor die land gehou – selfs tot in die Noord-Kaap en KwaZulu-Natal – om wyntoerismebestemmings bewus te maak van hierdie belangrike vaardigheidsopname. Kontak jou naaste wynroetebestuurder of stuur ʼn e-pos aan marisah@vinpro.co.za om dit by te woon,” sê Marisah.

Die wyntoerismesektor is besig om sy strategie te herontwikkel om te verseker dat dit nog meer aanpasbaar, sterk en gebuffer is teen risiko’s as ooit vantevore.

 

Go Back