In ’n uitdagende omgewing waarin kostes knyp, markte druk en grondstowwe skaarser raak, speel die wynbedryf en sy onderskeie spelers ál slimmer om meer waarde vir hul insette uit te kry. ’n Aantal van hierdie prominente verteenwoordigers uit verskeie segmente van die industrie het hul sienings tydens ’n VinPro-paneelbespreking gedeel, wat deel gevorm het van die onlangse Agri Cape Week Ekspo by die Bien Donné proefplaas.
Werk van een waardeketting-plan
Die paneel was dit eens dat daar ’n sterker beweging in die bedryf is van ’n produksie-gedrewe voorsieningsketting na ’n waardekettingbenadering, waarin produksie gedryf word deur die uiteindelike markbehoefte.
“Almal in die waardeketting – van die grondvoorbereiding en wingerdverbouing tot die wynmaak, bemarking en logistiek – moet weet wat die plan vir ’n spesifieke wyn is en daarvolgens werk,” het Abrie Botha, voorsitter van beide Namaqua Wyne en VinPro, benadruk.
Die spesifieke waardeketting-plan word volgens hom ook bepaal deur die spesifieke visie vir ’n wynbesigheid – hetsy grootmaat, gebottelde, basiese of nismarkte. In kelderkonteks, het Jacques Naudé, voorsitter van FirstCape Wingerde, bygevoeg dat die verwagtinge van produsentelede ook deurentyd bestuur word, en hulle deel gemaak word van die “groter prentjie” vir die besigheid.
Terselfdertyd, het Paul Cluver Jnr, besturende direkteur van Paul Cluver Wyne, beklemtoon dat ’n wynbesigheid nie só in die markbehoefte moet vaskyk, dat hy sy eie sterkpunte miskyk nie. “Moenie die flavour of the month probeer wees nie. Mode is so lelik, dit moet elke 18 maande verander word. Ken eerder jou sterkpunte en bou daarop.”
Aan die mark-kant moedig Jacques kelders aan om “vis te vang waar die vis is”, en seker te maak hul wyn is kompeterend in die markte waarin hulle dit wil verkoop.
Presisie nodig in produksie
Aan primêre produsentekant, meen Jannie dit is van kritiese belang dat wingerdbestuur volgens wyndoelwit geskied – veral in die lig daarvan dat grondstowwe soos water en wingerde ál skaarser word.
Die wynbedryf vervang reeds die afgelope vyf jaar nie die aanbevole jaarlikse 5% van die totale wingerdoppervlak nie; in 2012 is slegs die helfte daarvan aangeplant. “Dit is ’n teken daarvan dat produsente in ’n koste-knyptang verkeer,” vertel Abrie.
Volgens Jannie Bosman, voorsitter van die uitvoerende komitee van Bosman Adama Boerdery – wat die bekende Lelienfontein Kwekery buite Wellington insluit – is dit nie net die kwynende wingerdstand wat vorentoe druk op voorsiening kan plaas nie, maar ook die samestelling van huidige aanplantings.
“Daar is tans ’n té sterk fokus op onderstokke wat massaproduksie dryf, asook die aanplanting van wit kultivars. Waar is die hoë gehalte kultivars en rooi wyndruiwe? Produsente moet seker wees van hul eindbestemming wanneer hulle plant.”
In reaksie op ’n versoek uit die gehoor dat finansiële instellings groter begrip vir primêre produsente se unieke besigheidsmodel moet hê, het Abrie bygevoeg: “Die kelder sal stilstaan as produsente nie in staat is om produk te lewer nie. ’n Nuwe denkrigting is nodig om in die primêre kant van die bedryf te belê – spesifiek deur onderhandeling rondom die terme van beleggings.”
Al is dit soms ’n uitdagende bedryf om in te wees, sê Paul egter: “Jy kry nie twee appelboere wat 12:00 die aand vir mekaar sê: ‘Jy moet dié appel proe nie!’ Daar is steeds ’n onblusbare passie wat almal van ons dryf.”
Basuin SA-wyn se sterkpunte uit
“As iemand jou vertel jy’s goed in iets, glo dit en vertel almal! Begin die klein oorwinnings vier,” vertel Mike Ratcliffe, besturende direkteur van Warwick Wynlandgoed, en verwys na ’n geneigdheid deur die bedryf om soms te veel op die negatiewe te fokus.
Volgens Paul is dit gevaarlik vir die beeld van Suid-Afrikaanse wyn as produsente die pryse van hul wyne te laat sak omdat die wisselkoers gunstig is. “Ons moet die vertroue in ons wyne hê om te kan sê dat hulle meer werd is as waarteen hulle tans verkoop word.”
Die Suid-Afrikaanse wynmark word deur ’n groot verskeidenheid spelers gedryf – van klein tot groot, basies tot superpremium – wat almal ewe belangrik is om Wyn SA se handelsmerk te bou. “Ons is nie kompetisie vir mekaar oorsee nie, en moet ’n verenigde front begin voorhou,” benadruk Jacques.
Stof strategie af
Volgens Mike is die wynbedryf nou reg vir ’n aangepaste groei- en bemarkingsplan. “Ons moet begin besef hoe progressief die Suid-Afrikaanse wynbedryf is. Ons word hoog aangeskryf deur prominente joernaliste en is heelmoontlik een van die vinnig-groeiendste uitvoerders na die VK. As ons só baie sukses bereik het sonder – daadwerklike groeiplan vir die wynbedryf, dink net hoe ver sou ons al gewees het as ons saamgewerk het volgens een strategie.”
Daar was oor die afgelope twee jaar ’n vlaag van verandering in die wynbedryf, onder andere nuwe leierskap vir VinPro, Wosa, Winetech en die huidige herstrukturering van Wesgro. Volgens Mike is dit ’n positiewe en natuurlike evolusie vir die bedryf, en maak d-t die tyd soveel te meer ryp vir ’n nuwe strategie.
Verskeie pogings om ’n verteenwoordigende liggaam vir die wynbedryf staan te maak, het nie van die grond afgekom nie, en volgens Mike is VinPro tans die naaste hieraan, met betrokkenheid by verskillende relevante forums. Hy het VinPro uitgedaag om sterker leierskap te toon en ’n aantal uitdagings aan die organisasie gerig.
Nouer regeringskakeling moet gouer as later plaasvind, want “die regering staan tans nie agter ons nie; hulle wil hê die bedryf moet suksesvol wees en het die finansiële ondersteuning om te bied – ons moet hulle net die nodige motivering gee”.
Waardesyfers van uitvoere is ’n baie belangrike statistiek waarvolgens die bedryf hom teen die wêreld kan meet. Suid-Afrika is tans die enigste wynproduserende land wat geen uitvoerwaardes insamel of beskikbaar stel nie – nog ’n nodige regstelling in die bedryf, volgens Mike.
“Dit is ook nou die tyd om ’n aangepaste Handelsmerk SA-boodskap te formuleer, dit te kén en meer effektief te kommunikeer,” vertel Mike, en voeg by dat só ’n plan ideaal gesproke ook uitgebrei moet word na generiese bemarking in die binneland.
VinPro-bestuurder: Wynkelders, Christo Conradie, wat die program gelei het, het verwys na ’n strategiese plan vir die wynbedryf wat tans in proses is, en waarby verskeie rolspelers uit die wynbedryf betrokke is.
Foto’s: Anna-Louise Spreeth
,99