Wyndruifprodusente kan nou hul wingerdspanne inskryf vir ʼn Vinpro-opleidingsessie gemik op somerpraktyke in die aanloop tot parstyd.
Die praktiese halfdagsessies word op die plaas self aangebied vir nie meer as 15 persone nie.
“Die someropleiding behandel die basiese werking van die wingerdstok, doel van lowerbestuur, verskillende lowerbestuurtegnieke, jongstokontwikkeling en algemene siektes en plae,” sê Hanno van Schalkwyk, Vinpro-wingerdboukundige en koördineerder van die opleidingskursusse.
“Ons span tel altyd fynere besonderhede gedurende die opleidingsessies op, wat hul kennis verder verbreed. Hulle leer ook dikwels om dieselfde tegnieke toe te pas as op die plaas, maar dit word ondersteun deur ‘n logiese, wetenskaplike basis, wat hulle in staat stel om die rede vir spesifieke aksies beter te verstaan. Deur dieselfde raad van verskillende bronne te ontvang versterk ook die geloofwaardigheid daarvan,” sê Dirkie Morkel van Bellevue-wynlandgoed.
Elke persoon wat die opleiding bywoon dra deurlopend hul eie masker, terwyl die basiese gesondheidsmaatreëls sal geld, onder andere temperatuurmeting, die was en saniteer van hande, asook die handhawing van sosiale afstand gedurende die sessies.
Vinpro het verlede jaar, te danke aan finansiële ondersteuning deur die Vinpro Stigting, meer as 1 000 persone touwys gemaak oor die beste wyndruifverbouingstegnieke. Vanjaar is Columbit as ʼn waardevolle vennoot by die opleiding betrokke.
Die koste beloop R210 per persoon. Bespreek nou ʼn praktiese opleidingsessie deur die Vinpro-opleidingskantoor te kontak by tel 021 276 0429 of e-pos training@vinpro.co.za.