Daar is geen twyfel dat ʼn goeie winterdekgewasprogram jou kan help om onkruid effektief te beheer, die grondstruktuur te verbeter en voordelige grondvoedingstowwe en -mikrobes in jou wyndruifwingerd op te bou nie. Met so ʼn groot verskeidenheid dekgewasse beskikbaar, het die Gen-Z Wingerdprojek vanjaar weer ʼn aantal dekgewas-demopersele in die onderskeie wynstreke gevestig en evalueer om uit te vind watter dekgewasse goed werk onder verskillende omstandighede.
“Die demopersele stel ons in staat om te sien watter dekgewassoorte die mees geskikte opsies is vir sekere areas en grondsoorte, met ʼn spesifieke fokus op effektiewe onderdrukking van onkruide en grondgesondheid,” sê Francois Viljoen, bestuurder van die Gen-Z Wingerdprojek. “Ons deel hierdie insigte met wyndruifprodusente, wingerdboukundiges en wingerdbestuurders in die onderskeie streke, terwyl ons ook hul waardevolle terugvoer inwin wat ons help om ons aanbevelings verder te verfyn.”
Die Gen-Z Wingerdprojek het in April en Mei vanjaar nege dekgewaspersele gevestig, in samewerking met die verskaffers Agricol en Barenbrug, en gedurende September en Oktober terreinbesoeke by De Wetshof in Robertson, Diepkloof-plaas in die Breedekloof-streek, die Universiteit Stellenbosch se Welgevallen-proefplaas in Stellenbosch en Goudini Kelder in die Breedekloof-streek aangebied.
Die terugvoer
Omdat April ʼn droër as normale maand was, is beter resultate behaal waar dekgewasse later as normaal, gedurende Meimaand, gesaai is. Die graangewasse met vroeër groeisiklusse, soos gars en rog, het uitstekende biomassa gelewer en hulself daartoe verleen om vroeër platgerol of verwerk te word tot ʼn deklaag (“mulching”) sodat dit nie met die wingerde sou meeding nie. “Hierdie dekgewassoorte sal veral goed werk in droër streke,” sê Emma Carkeek, Gen-Z-wingerdboukundige.
Dekgewassoorte wat later groei, soos wieke en hawer het stadiger gegroei vanweë die koue, nat wintertoestande, maar het uitsonderlike biomassa gelewer namate die temperature gedurende die lente toegeneem het. “Dit is wel belangrik om daarop te let dat hierdie spesies moontlik nie goed sal werk in waterskaars areas nie, aangesien dit gedurende uitbot met die wingerde kan meeding,” sê Emma.
Hoewel die brassicas (radyse, mosterd en knolrape) oor die algemeen nie goed gevaar het as dit in mengsels gebruik is nie – waarskynlik omdat die klein saadgrootte dit moeilik gemaak het om eenvormig te saai – het hierdie dekgewasse wel goed gevaar waar dit alleen gesaai is. Mengsels wat bestaan het uit dekgewassoorte met soortgelyke groeisiklusse het ook goeie groei getoon.
Wat betref dekking op die bankie, het die medics en medics/klawer-mengsels wat vanjaar vir die eerste keer by die De Wetshof-demoperseel gevestig is, ʼn ideale “lewendige deklaag” opgelewer.
“Alhoewel ons deur hierdie demopersele werklik waardevolle insigte kry oor watter dekgewassoorte goed werk, moet wyndruifprodusente uiteindelik hul eiesoortige doelwitte, uitdagings en toestande in ag neem by die keuse van die dekgewasse wat aan hul spesifieke behoeftes sal voldoen,” sê Emma.
Meer oor die Gen-Z Wingerdprojek
“Vinpro se Gen-Z Wingerdprojek is in 2016 gevestig as ʼn kennisoordragprojek wat wynprodusente, wingerdboukundiges, verskaffers en navorsers verbind met die nuutste praktyke, tegnologie en hulpmiddels in die wingerd deur kleinskaalse demopersele regoor Suid-Afrika se wyndruifverbouingsareas te vestig,” sê Francois.
Die proewe sluit nuwe kultivars en klone, onderstokke, dekgewasse, prieelstelsels, snoeistelsels en wingerdboupraktyke in bestaande kommersiële wingerdblokke op produsente se plase in. “Ons kommunikeer die bevindinge deur middel van tegniese en populêre artikels in gedrukte en elektroniese media, sowel as besoeke aan die demopersele waartydens wynbedryfrolspelers hul insigte met mekaar deel.”
Kontak Francois Viljoen by tel 083 309 7627 of e-pos viljoenf@vinpro.co.za indien jy meer oor die Gen-Z Wingerdprojek wil uitvind, ʼn demobesoek wil meemaak of by die projek betrokke wil raak.