News

Parstyd is goed op dreef in die Suid-Afrikaanse wynbedryf en hoewel produsente en wingerdboukundiges positief is oor die gehalte van die 2021-oes na gunstige weersomstandighede, bly kelderkapasiteit en finansiële lewensvatbaarheid ‘n groot bron van kommer vir die bedryf vanweë die voortgesette alkoholverbod.

Volgens die jongste skatting deur SAWIS (Suid-Afrikaanse Wynbedryf Inligting en -Stelsels) en Vinpro word verwag dat die wyndruifoes in hierdie stadium ietwat groter sal wees as in 2020, maar steeds kleiner as die 15 jaar gemiddeld van 1.37 miljoen ton. Die skatting in Januarie was die tweede van vyf jaarlikse beramings voordat die finale oesverslag in Mei vanjaar bekend gemaak sal word.

“Soortgelyke of ietwat groter opbrengste word in die meeste gebiede verwag danksy matige temperature en voldoende waterbronne wat tot goeie wingerdgroei aanleiding gegee het,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se konsultasiediensafdeling. Daar word verwag dat rypskade langs die Oranjerivier en koue en reënerige toestande aan die Kaapse Suidkus gedurende die blom- en setperiode die opbrengs in hierdie gebiede sal beïnvloed.

Die koue weersomstandighede wat die meeste gebiede teen die einde van die winter ervaar het, was voldoende om aan wingerde se kouebehoeftes te voldoen en bogemiddelde reënval en sneeu het riviere, strome, besproeiingsdamme en grondwatervlakke goed aangevul. Nadat wingerde laat, maar mooi gelyk uitgebot het, het koeler temperature en ʼn bogemiddelde reënval in die lente voortgeduur, wat verder bygedra het tot ‘n effens later, maar goeie blom en set. Wingerdboukundiges was veral in hierdie stadium tevrede met die hoeveelheid en groottes van druiwetrosse.

Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se konsultasiediensafdeling.

“Deurslaan was ook laat en stadig weens matige temperature sedert die begin van die somer, en ons het minder skielike temperatuurstygings gesien as gewoonlik wat sonbrandskade beperk en help om die geure te behou. Produsente moet egter op die uitkyk wees vir donsskimmel en witroes en dit proaktief bestuur,” sê Conrad.

Parstyd het ongeveer twee weke later as gewoonlik begin wat tot die bedryf se voordeel óf nadeel kan wees. “Aan die een kant kan dit tyd wen vir kelders om verwerkings- en bergingsruimte oop te maak as die alkoholverbod in die volgende paar weke opgehef word. Aan die ander kant word warmer weer vanaf middel Februarie tot die laaste week van Maart voorspel wat rypwording kan bespoedig en bottelnekke kan veroorsaak namate sommige kultivars kan inhaal en die oes gelyktydig ryp word.”

Moeilike besluite

“Produsente sal moeilike besluite moet neem in die wingerde aangesien kelderkapasiteit onder ernstige druk is weens die voortgesette alkoholverbod,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof.

Die 19 week lange verbod op plaaslike drankverkope sedert Maart 2020 het ʼn negatiewe effek op wynkelders se verkoopsvolumes gehad en tot hoër voorraadvlakke gelei. Nou, ʼn maand sedert die derde verbod op plaaslike drankverkope ingestel is, en met die 2021-parstyd wat hierdie week afgeskop het, het die bedryf meer as 640 miljoen liter wyn in voorraad waarvan 250 – 300 miljoen liter ongekontrakteer is. “Dit hou ʼn wesenlike risiko in weens onvoldoende stoor- en verwerkingskapasiteit vir die nuwe oes en ʼn bedreiging vir die volhoubaarheid van ons hele bedryf,” sê Rico.

Vinpro-bestuurshoof Rico Basson.

Terwyl groter kelders noodplanne het wat insluit die huur van addisionele stoorspasie, die toekenning van ‘n gedeelte aan druiwesapkonsentraat en die verlaging van pryse (hoewel nie in die langtermyn volhoubaar nie), kan dit vir kleiner produsente baie moeiliker wees om bergings- en verwerkingskapasiteit te skep.

“Stadig-bewegende voorraad weens laer verkoopsvolumes, kontantvloei-uitdagings en die noodsaaklikheid vir addisionele oorbruggingsfinansiering teen ʼn koste sal die volhoubaarheid van die bedryf onder geweldige druk plaas. Dit sal noodwendig daartoe lei dat baie ondernemings en boerderye gaan sluit, tesame met ongeveer 27 000 werksverliese wat die kwesbaarste in ons gemeenskappe in armoede sal dompel,” sê Rico.

Vinpro het daarom op 27 Januarie 2021 ʼn dringende aansoek by die Kaapse Hooggeregshof ingedien om dringende tussentydse regshulp aan te vra wat die premier van die Wes-Kaap die mag sal gee om van die algehele en landswye verbod af te wyk om die verkoop van drank op persele en deur handel in die Wes-Kaap moontlik te maak. Soortgelyke verligting met betrekking tot ander provinsies sal versoek word. Indien die drankverbod nog op 5 Februarie 2021 in die Wes-Kaap van krag is – die datum waarop die saak aangehoor word – sal die Wes-Kaapse Hooggeregshof gevra word om die drankverbod deur minister Dlamini-Zuma ingestel vir die Wes-Kaap met onmiddellike effek ter syde te stel.

Uitgereik deur: Vinpro en SAWIS

Medianavrae:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

 

Go Back