News

Die twee fotogidse vir die uitkenning van onkruid, en siektes en plae.

Enigeen wat in wyndruifwingerde werk, sal baat vind by twee nuttige fotohandleidings vir die uitkenning van onderskeidelik onkruide, en siektes en plae wat algemeen in die wingerd voorkom. Vinpro het met die gewasbeskermingsmaatskappy Villa saamgewerk om hierdie twee waardevolle hulpbronne aan die bedryf beskikbaar te stel.

Die Fotohandleiding vir die Uitkenning van Siektes en Plae, sluit 83 foto’s van skadelike en voordelige bo- en ondergrondse insekte, asook ʼn verskeidenheid swamme, bakterieë, virusse en ander siektes soos Astervergeling in.

Die Fotohandleiding vir die Uitkenning van Onkruide sluit 71 foto’s van meerjarige en eenjarige breë- en smalblaaronkruide, asook algemene riglyne vir die verantwoordelike aanwending van onkruiddoders in. Alle onderskrifte is in Afrikaans en Engels, en die foto’s word met die nodige erkenning aan ʼn aantal bydraers uit die wynbedryf gepubliseer.

Die inisiatief is te danke aan Jeff Joubert, welbekende wingerdboukundige in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, wat na sowat 45 jaar in die bedryf as samesteller van hierdie gidse sy kundigheid wou terugploeg in die bedryf.

“Terwyl ek as die Vinpro-konsultant in die Olifantsrivierstreek gewerk het, het ek begin om vir die wingerdwerkers in die gebied ʼn kursus in wingerdsiektes en -plae aan te bied in samewerking met die Vineyard Academy,” sê Jeff. “Ek het egter besef dat dit moeilik is vir half- en ongeskoolde persone om al die simptome van die siektes en plae te memoriseer.”

Jeff Joubert, bekende wingerdboukundige in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, het die twee handleidings geïnisieer en saamgestel om 45 jaar se kundigheid in die bedryf terug te ploeg.

Danksy die goedgunstigheid van Chris Basson van Nashua Vredendal, kon elke kursusganger die kleurfoto’s gratis in A4-formaat ontvang. Hierdie handleiding het deels die basis gevorm vir die wingerdopleiding wat Vinpro reeds oor die afgelope paar jaar aanbied. Die A4-formaat was egter lomp, en dis om hierdie rede dat dr André Schreuder, gewese bestuurshoof van Villa op daardie stadium ingestem het om die gids vir siektes en plae, in sy nuwe A5-formaat te laat druk.

“In sommige van Vinpro se wingerdopleidingsmodules, onder andere die grondbestuursmodule, word na verskillende onkruid verwys, en uit my ondervinding deur die jare het ek waargeneem dat daar ʼn gebrekkige kennis oor onkruide bestaan. Dit was daarom ʼn logiese uitbreiding om ook foto’s van die onkruide wat in wingerde voorkom in dieselfde formaat uit te gee, in samewerking met Villa,” sê Jeff.

“Villa is trots om betrokke te wees by die borg van publikasies soos hierdie,” sê Marius Boshoff, bemarkingsbestuurder van Villa. “Ons streef daarna om inisiatiewe in die plantgesondheidsbedryf te ondersteun, en hierdie boekie is een daarvan. Vinpro lewer ʼn belangrike diens aan produsente in die wynbedryf. Hierdie maklike verwysingsgidse vir onkruid en siektes en plae help ondersteun en onderrig produsente en hul werknemers.”

Die twee fotohandleidings word in hul gedrukte formaat gratis aan alle bywoners van Vinpro se jaarlikse wingerdopleidingskursusse voorsien. “Die handleidings voeg beslis groot waarde tot ons opleidingsmodules toe, en is ʼn nuttige gids vir studente en persone wat daagliks in die wingerd werk om byderhand te hou,” sê Hanno van Schalkwyk, Vinpro-wingerdboukundige en koördineerder van die Vinpro-wingerdopleiding.

Die handleidings is egter nou ook gratis aan die breër bedryf beskikbaar op aanvraag in gedrukte formaat, of direk aflaaibaar by die skakels onder.
Fotohandleiding vir die Uitkenning van Siektes en Plae
Fotohandleiding vir die Uitkenning van Onkruide

Skakel Hanno van Schalkwyk by tel 021 276 0429 of e-pos hanno@vinpro.co.za vir enige navrae of om ʼn gratis gedrukte eksemplaar te bekom.

 

Go Back