News

Die Suid-Afrikaanse Kelderwerkerprogram – ’n jaarlikse inisiatief wat vanjaar vir die eerste keer saam met Winetech onder die VinPro-vaandel aangebied word – is goed op dreef, met meer as 200 deelnemers aan opleidingsessies in die onderskeie distrikte.

“Die program word vanjaar vir die agtste keer aangebied en beoog om kelderwerkers te bemagtig, voortreflikheid te vier en mentorskap in die wynbedryf te bevorder,” vertel Santi Basson, wat die projek namens VinPro en Winetech koördineer.

Die opleidingsessies wat van April tot einde Augustus deur bekende wynspesialis Charl Theron aangebied word, fokus vanjaar op die wynlande van die wêreld, insluitend Oostenryk, Griekeland, Australië, Nieu-Seeland, die Amerikas, Italië, Portugal en Spanje. Wettige wynbereidingsmiddele en -prosesse in Suid-Afrika, asook die identifisering van individuele geurkomponente in wyn en foutwyne word ook behandel.

Gedurende die opleidingsessies word die top tien kelderwerkers identifiseer en verder evalueer, waarna die Kelderwerker van die Jaar tydens ’n jaarlikse Kelderwerker Inligtingsdag aangekondig word. Die Inligtingsdag bied ’n geleentheid vir die oordrag van praktiese kennis, en word in Oktober vanjaar in samewerking met Nedbank aangebied.

Die kelderwerkers wat voorheen die titel verower het, vorm op hul beurt deel van die Circle of Excellence – ’n platform vir mentorskap via verskeie werkswinkels gedurende die jaar.

“Ons plaas- en kelderwerkers is ’n belangrike hoeksteen van die wynbedryf, wat die deurlopende oordrag van praktiese inligting en kennis in hierdie deel van ons waardeketting onontbeerlik maak. Die Suid-Afrikaanse Kelderwerkerprogram is reeds bewys as ’n effektiewe voertuig hiervoor, en VinPro is trots om deel te wees hiervan,” vertel Christo Conradie, VinPro-bestuurder: Wynkelders.

,77

Go Back