News

Hoe gaan dit met die wynbedryf een jaar na die aanvang van Covid-19, en wat is nuut op die gebied van wyndruifverbouing? Winetech en Vinpro beantwoord hierdie en ander vrae tydens ʼn reeks streeksinligtingsessies in Mei.

Die Winetech Vinpro Streeksinligtingsdae word van 6 tot 20 Mei 2021 aangebied, waarvan vier digitaal en een fisies bygewoon kan word.

“Verteenwoordigers van Vinpro en SAWIS (SA Wynbedryfinligting & -Stelsels) skop elkeen van die sessies af met ʼn oorsig oor die stand van die Suid-Afrikaanse wynbedryf een jaar na die aanvang van Covid-19 in die land, en ʼn uiters uitdagende jaar vir die meerderheid wynverwante besighede,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se wingerboukundige konsultasiediens. Hierna deel bedryfskundiges tydens elke sessie die nuutste oor wingerdtegniese navorsing, tendense, praktiese wenke, Winetech-navorsingsprojekte en Gen-Z-proewe wat vir die onderskeie streke van waarde is.

Tydens die Robertsonstreek se digitale sessie op 6 Mei word ʼn oorsig gegee oor die afgelope seisoen se klimaatstoestande en die opbou en afbreek van suiker en sure tydens rypwording. Ons besin ook oor die redes vir ʼn wesenlike voorkoms van witroes vanjaar en moontlike voorsorg en hantering daarvan vorentoe, en plaas die kollig op die vatbaarheid van onderstokke vir die belangrikste aalwurms.

Produsente in die Breedekloof en Worcester kan regstreeks inskakel op 11 Mei vir ʼn blik op na-oesbemesting in ʼn laat seisoen, foute en suksesse met onkruidbeheer, siektes en plae gedurende die afgelope seisoen en ʼn nuwe plaag in wyn- en tafeldruifwingerde genaamd Lobesia.

Die Kaap-Suidkus se digitale sessie op 13 Mei fokus sterk op die stand, bestuur en impak van die rolbladvirus op die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Bedryfskundiges plaas die stand van die rolbladvirus plaaslik in wêreldkonteks en stel nuwe kommersieel beskikbare hulpmiddels bekend vir die monitering en ontleding van hierdie infeksies, asook vordering met ʼn in Kaliforniese paringsontwrigtingsprogram vir witluise. Laastens gee die sprekers ʼn uiteensetting van die effek van rolbladvirus op druifsamestelling en wyngehalte, asook die ekonomiese oorwegings ten opsigte van rolbladbeheer.

Wyndruifprodusente en wingerdboukundiges in die Olifantsrivierstreek kom 18 Mei by Die Keldery in Vredendal byeen vir ʼn oorsig oor navorsingsprojekte en wingerdproewe in die streek, asook ʼn vergelyking van 2.3 en 4 liter druppers om te bepaal watter besproeiingstelsel die beste is vir grondgesondheid.

Skakel 20 Mei digitaal in vir die Paarl en Swartland se oorsig oor die 2021-wyndruifoes, die effek van Pinotage se rypheid op die samestelling van die druiwe, wyn en wynstyl, asook praktiese lesse geleer oor die bestuur van donsskimmel en witroes in die afgelope seisoen en die teling van wyndruiwe wat bestand is teen hierdie twee wingerdsiektes.

Die registrasiekoste vir elkeen van die sessies beloop R150 per persoon. Persone wat geregistreer het, sal 24 uur voor die digitale sessies ʼn skakel daarna ontvang.

Bespreek aanlyn by https://sales.vinpro.co.za/events/ of kontak Lesley Paulse by tel 021 276 0432, e-pos lesley@vinpro.co.za.

Medianavrae:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

Go Back