News

Johan Pienaar, legende in wingerdboukundige kringe.

Dis met leedwese dat die Suid-Afrikaanse wynbedryf afskeid moes neem van Johan Pienaar, legende in wingerdboukundige kringe wat op 14 Junie 2022 op 79-jarige ouderdom na ‘n lang stryd met kanker oorlede is.

Johan was ‘n ewige student, leermeester vir baie en Stellenbosser in murg en been. Hy is ‘n boorling van Stellenbosch, waar hy aan Paul Roos Gimnasium gematrikuleer het, ‘n BSc-graad in Wingerdkunde aan die Universiteit Stellenbosch behaal het, en vir meer as vier dekades lank wingerdboukundige leiding en advies aan wynplase in die streek verleen het. Hy het ook later ʼn BSc Honneursgraad aan die Universiteit van Pretoria behaal en bestuurs- en bemarkingskwalifikasies voltooi.

Hy het sy loopbaan in die wynbedryf as junior navorser by die LNR Nietvoorbij afgeskop, waarna hy by die Wes-Kaapse departement van landbou eers as landbouvoorligtingsbeampte aangestel is, en later bevorder is tot hoofvoorligtingsbeampte vir die Stellenbosch-streek. Johan was hierna vir 40 jaar KWV-wingerdbouvoorligter en -streeksbestuurder, asook Vinpro se wingerdboukundige konsultant in die Stellenbosch-streek tot en met sy aftrede in 2010.

“Johan was ʼn sterk, stil persoon wat ʼn wesenlike effek op wingerdboukunde in Suid-Afrika gehad het,” sê Francois Viljoen, bestuurder van Gen-Z Wingerdprojek en voormalige Vinpro-kollega. “Hy was ook instrumenteel in die staanmaak van KWV en later Vinpro se wingerdboukundige konsultasie-afdelings tot die gehalte wat dit vandag is.”

Hy het oor die jare heen ʼn belangrike rol in die wynbedryf gespeel deur sy betrokkenheid by vele bedryfskomitees en organisasies, insluitend die Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynkundevereniging (SAWWV), Stellenbosch Landbougenootskap en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Landbouvoorligting waarvan hy die Wes-Kaapse voorsitter was. Hy was ook een van die eerste lede van die Wes-Kaapse wingerdbesprekingsgroep, lid van die werksgroep vir die opstel van kultivarriglyne vir die Wes-Kaapse wyndruifverbouingstreke en stigterslid van ses wingerdstudiegroepe vir Stellenbosch-produsente.

Onder sy leierskap het ʼn reeks bestuurskursusse vir wyndruifprodusente die lig gesien en hy het wingerdkundige notas vir die Kaapse Wynakademie se sertifikaat- en diplomakursusse geskryf en dikwels as eksaminator vir Kaapse Wynmeesterstudente opgetree. Hy het sy omvattende kennis ook in 38 plaaslike en drie internasionale publikasies oor wyndruifverbouing en wingerdvoorligting gedeel. Johan was ʼn medestigter, bestuurslid en later erelid van Pinotage SA en is in 2021 as een van die Veritas-toekennings se gesogte Lewende Legendes vereer.

“Hy het ʼn groot passie vir die wynbedryf, maar veral Stellenbosch gehad, waar hy oor tyd ʼn indiepte kennis van die streek se gronde, hellings, wingerde en wyne opgebou het,” sê Francois Malan, bestuurshoof van Simonsig Wyne. “Sy aanbevelings van watter kultivars en klone op spesifieke areas geplant moet word, het bygedra tot die sukses van die Stellenbosch-streek se wyne wêreldwyd. Johan het ʼn wonderlike nalatenskap agtergelaat waarop die bedryf nog vir jare heen gaan voortbou.”

“Hy was ʼn wingerdman in murg en been, maar het homself verder bekwaam om wyne te kan evalueer. Hy het ons geleer dat goeie wyne in die wingerd gemaak word, maar ook sterk klem gelê op die belangrikheid daarvan om die gehalte van die eindproduk te kan uitken en te weet wat die teikenmark vereis,” sê Francois Viljoen. “Ek eer hom as ʼn pionier in ons bedryf met ontsaglike kennis, wat hy altyd gretig was om te deel.”

“Ek was bevoorreg om sedert 1998 as nuweling tot die wynbedryf saam met Johan te kon werk, waartydens hy die waardes van roetine, ingesteldheid op detail en ʼn gesonde en robuuste werketiek in my gevestig het,” sê Cobus van Graan, markbestuurder by Zest Fruit en voormalige KWV-kollega. “Hy was ʼn ewige ʼn student en leermeester vir baie, en het nie geskroom om die potensiaal van wingerde of mense te slyp nie. Johan se passie en ruim hart sal my bybly.”

 

 

Go Back