News

Die President het op 15 Junie 2021 sy kommer uitgespreek oor die erns van die derde vlaag van infeksies wat tans besig is om oor die land te versprei, en het die volgende maatreëls aangekondig in ʼn poging om die aantal nuwe aktiewe gevalle oor die volgende paar weke te verminder, terwyl die uitrol van inentings besig is om vorm aan te neem.

Let spesifiek op Regulasie 44 in die Staatskoerant:

  • ’n Strenger aandklokreël is ingestel (22:00 – 04:00), maar vir restaurante, kroeë en ander instansies wat drank verkoop, is dit egter 21:00 – 04:00.
  • Beperkings op handelsure vir die verkoop van drank vir tuisverbruik word ingestel van Maandag tot Donderdag, 10:00 – 18:00.
  • Handelsure vir die verkoop van drank vir binneverbruik (op die perseel) bly onveranderd, en mag voortgaan gedurende alle gelisensieerde verkoopsure van Maandag tot Sondag.
  • Geregistreerde wynkelders en wynplase mag egter voortgaan om wynproeë aan te bied en wyn vir tuisverbruik te verkoop gedurende alle normale gelisensieerde handelsure, insluitend naweke en publieke vakansiedae. Hierdie regulasie is baie positief vir die wynbedryf en veral vir wyn toerisme wat swaar gebuk gaan onder die impak van vorige beperkings.
  • Die verbruik van alkohol in publieke spasies soos strande en parke is streng verbode.
  • Byeenkomste, insluitend godsdienstige byeenkomste, mag nie 50% kapasiteit oorskry nie, tot en met ʼn maksimum van 50 persone binnenshuis en 100 buite. Detail riglyne moet op gelet word in Regulasie 36.
  • Uitvoer van wyn, insluitend alle vervoer van wyn per pad, na enige hawe en/of oorgrens na enige buurland(e), is toelaatbaar.
  • Die vervoer van wyn, en/of ander drankprodukte, deur die publiek, en/of as deel van verspreiding en aflewering, is ook toelaatbaar.

“Daar is gehoor gegee aan ons versoeke vir die implementering van ʼn meer risikogebaseerde benadering en ons is verlig dat die Suid-Afrikaanse regering nie strenger nasionale beperkings ingestel het wat in die volgende paar weke ʼn selfs ernstiger effek op ons wynkelders en wyntoerismebestemmings sou hê nie,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson.

Hierdie uitkomstes is belyn met deurlopende konsultasie tussen Vinpro en die Wes-Kaapse regering, asook onderskeie nasionale regeringsdepartemente, insluitend ʼn spesifieke voorlegging aan die Minister van Landbou Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Me Thoko Didiza, waarin die bedryf se noodsaaklike ekonomiese bydrae, werkskepping en die belangrike rol van toerisme in die groter wynbedryf- en landbouprentjie weer benadruk is.

“Ons deel die President se kommer oor die nuwe vlaag van infeksies en doen daarom ʼn ernstige beroep op elke individu en besigheid in ons bedryf om by die voorkomingsmaatreëls te hou en die bestaande veiligheidsprotokolle steeds nougeset sal toepas,” sê Basson.

 

Go Back