President Ramaphosa het gisteraand aangekondig dat Suid-Afrika vanaf 28 Junie 2021 na ʼn Aangepaste Covid-19-vlak 4 beweeg.
“Ons deel die president se kommer oor die skielike en ernstige toename in positiewe Covid-19-gevalle en verwante sterftes en verstaan die noodsaaklikheid van drastiese maatreëls om dit aan te spreek, maar ons is teleurgesteld en diep bekommerd oor die algemene benadering wat die regering weer eens gevolg het in terme van drankhandel om die verspreiding van die virus te beperk, teenoor ʼn risikogebaseerde en gedifferensieerde benadering,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson.
“Ons glo werklik dat beperkings op wynverkope op ʼn minder skadelike manier ingestel kan word om die druk op die gesondheidsorgstelsel te verlig en oordrag van die virus te verminder, terwyl dit steeds help om die lewensbestaan van mense te beskerm.”
Kyk na die jongste regulasies in Staatskoerant Nr 44772. Die relevante afdelings is geel gemerk, maar in kort:
- ʼn Aandklokreël is in plek van 21:00 tot 4:00 en alle nie-noodsaaklike ondernemings moet teen 20:00 sluit (bl 8).
- Alle byeenkomste binne of buite is verbode, met spesifieke uitsonderings (bl 10 & 11).
- Akkommodasiegeriewe kan teen 50% funksioneer, maar hul eetgeriewe en restaurante mag slegs kamerbediening en aflewering van voedsel en nie-alkoholiese drankies aanbied (bl 11).
- Tavernes, restaurante en soortgelyke instansies mag slegs oop wees vir die verkoop van voedsel en nie-alkoholiese drank vir tuisverbruik (bl 15).
- Die verkoop, verspreiding en verspreiding van drank is verbode (bl 17).
- Die vervoer van drank is verbode, behalwe as dit vervoer word vir uitvoerdoeleindes, of waar alkohol benodig word vir industrieë wat handreiniger, ontsmettingsmiddels, ens vervaardig (bl 16 & 17).
Vinpro en Salba het ‘n dringende versoek aan die betrokke regeringsdepartemente gerig om uitsonderings ten opsigte van die verbod op die vervoer van wyn te maak, onder andere die vervoer van wynmonsters na laboratoriums of vir die beoordeling van wyn.
In die interim, sien asb die volgende regsinterpretasies deur Danie Cronjé Prokureurs:
Vervoer van bulkwyn na botteleringsaanlegte
Vervoer van wynmonsters
Indien u of een van u spanlede ʼn reispermit vir werksdoeleindes benodig, kan u die volgende opgedateerde reispermit gebruik.