President Cyril Ramaphosa het gisteraand aangekondig dat Suid-Afrika se Covid-19-status vanaf 13 September 2021 van Vlak 3 na ʼn Aangepaste Vlak 2 sal beweeg.
Sien die nuutste regulasies hier. Die belangrikste implikasies vir wynverwante besighede sluit in:
- Die nasionale aandklokreël sal voortaan van 23:00 tot 04:00 geld.
- Restaurante, bioskope en ander plekke wat oop is vir die publiek moet om 22:00 sluit, sodat personeel genoeg tyd het om huiswaarts te keer voor die aandklokreël in werking tree.
- Die aantal persone wat by byeenkomste toegelaat word, is verhoog na 500 persone buite en 250 binne, of 50% van die lokaal se kapasiteit, watter een ook al die minste is.
- Akkommodasiegeriewe kan teen volle kapasiteit bedryf word.
- Die tydsraamwerk vir die verkoop van drank vir tuisverbruik is verleng om Vrydae in te sluit. Drank kan nou van Maandag tot Vrydag, 10:00 tot 18:00 verkoop word vir tuisverbruik.
- Drankverkope vir verbruik op die perseel mag enige dag tot en met 22:00 geskied, onderhewig aan lisensievoorwaardes.
- Wynplase en mikrobrouerye mag drank vir binne- of buiteverbruik verkoop tot en met 22:00 enige dag van die week, onderhewig aan lisensievoorwaardes.
- Drank mag vervoer word.
Sien ook hierdie opgedateerde regsadvies van Danie Cronjé Prokureurs (pdf-weergawe).
“Ons verwelkom die verligting van beperkings wat ʼn positiewe effek op wyntoerisme sal hê – ʼn subsektor wat veral swaar getref is deur vorige beperkings. Dit sluit in ʼn toename in die toegelate kapasiteit en langer handelsure by restaurante, asook ʼn toename in die aantal persone wat by byeenkomste toegelaat word, aangesien ʼn besige tyd vir troues en ander geleenthede, wat ʼn goeie bron van inkomste is vir baie wynkelders, nou voorlê,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson.
“Ons glo egter steeds dat drankverkope volledig heropen moet word – insluitend verkope vir tuisverbruik oor naweke – onderhewig aan lisensievoorwaardes en volgens streng Covid-19 gesondheids- en veiligheidsprotokolle. Dít met inagneming van die stand van infeksiesyfers en hospitaalkapasiteit, maar ook navorsing wat duidelik uitwys dat die inperking van die gelisensieerde kanaal bloot die onwettige handel verder bevorder wat nie behoorlik polisieer word nie en reeds 22% van die totale alkoholverkoopsvolume in Suid-Afrika opneem,” sê Basson.
Die regering het ook weer eens ʼn landswye benadering gebruik in terme van die beperking op drankverkope. Ons glo sterk en sal voortgaan om op ʼn gedifferensieerde benadering aan te dring, wat ʼn groter mate van besluitneming op provinsiale vlak toelaat, gebaseer op empiriese data. In hierdie verband wag Vinpro steeds op die uitslag van ons hofsaak wat van 23 tot 26 Augustus 2021 in die Kaapse Hooggeregshof aangehoor is, nadat uitspraak voorbehou is.
Vinpro werk nou saam met ander bedryfsvennote aan verskeie aksies en oplossings wat die Suid-Afrikaanse wynbedryf kan stabiliseer en ook herbou. Verantwoordelike produksie, bemarking en verbruik van ons produkte is steeds ʼn prioriteit om algeheel van die derde golf te herstel sodat ons bedryf ten volle kan oopmaak. Dra dus asb jou masker, was jou hande, handhaaf sosiale afstand en laat jouself inent.
NAVRAE:
Vinpro
tel: +27 (0)21 276 0429
e-pos: info@vinpro.co.za
web: www.vinpro.co.za
Vinpro, Ceciliastraat, Suider Paarl, 7646