Die Suid-Afrikaanse wynbedryfliggaam, Vinpro, vernuwe sy handelsmerk ter versterking van die organisasie se klem op volhoubare groei.
Die handelsmerkvernuwing is Donderdag tydens die jaarlikse Nedbank Vinpro Inligtingsdag by die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum (KIKS) aangekondig.
“Sedert die vestiging van Vinpro in 2003 het die organisasie voortdurend aangepas en uitgebrei om nie net die behoeftes van primêre wyndruifprodusente aan te spreek nie, maar daarna gestrewe om ʼn omgewing te help skep waarin alle wynverwante besighede kan floreer,” sê Vinpro-voorsitter Anton Smuts.
In die proses het Vinpro ʼn meerderheidsaandeel in Vititec en FarmMS verkry, nuwe dienste en produkte bygevoeg, en was die organisasie meer uitgesproke oor bedryfskwessies en instrumenteel daarin om strategiese rigting deur die wynbedryf se strategiese raamwerk (WISE) te verleen.
Vinpro vier sy 15de bestaansjaar in 2018 en kyk nou vorentoe met ʼn hernieude verbintenis tot die volhoubaarheid van almal wat die wynbedryf raak en daardeur geraak word – met ʼn nuwe baadjie ter versterking hiervan.
“Die nuwe logo simboliseer ons strewe daarna om die bedryf en sy mense te laat groei deur die speelveld vir wynverwante besighede gelyk te maak. Ons doen dit deur verteenwoordiging, inligtingsoordrag, gespesialiseerde dienste en die ontwikkeling van mense,” sê Smuts. “En natuurlik is samewerking die sleutel tot sukses in enige onderneming. Daarom die slagspreuk ‘growing together’.”
Deur aktiewe betrokkenheid by meer as 50 forums, bepleit Vinpro die saak van sy lede by die regering, bedryf, arbeid en burgerlike gemeenskappe oor wetgewing, sosio-ekonomiese, tegniese en handelsverwante kwessies.
“Die vlak en spektrum van kundigheid in die Vinpro Groep is ongeëwenaar in die wynbedryf. Hier vind jy alles wat jy nodig het om jou besigheid te laat groei, van die grond tot die mond – hetsy direk of deur bedryfsnetwerke,” sê Rico Basson, Vinpro se besturende direkteur.
Vinpro bied enige iets van GIS-kaarte en grondkundige en wingerdkundige konsultasie tot topgehalte wingerdplantmateriaal, landbou-ekonomiese bystand, SEB-advies en bestuursagteware vir wynbesighede.
ʼn Inisiatief om in 2018 dop te hou, is die aanstelling van ʼn wyntoerismebestuurder wat ten doel het om die onderskeie wyntoerisme-rolspelers saam te snoer en momentum aan hierdie belangrike inkomstestroom te verleen.
Die vakkennis van al hierdie Vinpro-spesialiste word verpak en saam met ander noodsaaklike bedryfsinligting op verskeie platforms gedeel, insluitend die maandelikse WineLand-tydskrif, ander jaarlikse publikasies, nuusbriewe, inligtingsdae, werkswinkels en sosiale media.
Vinpro voorsien tegniese opleiding aan werknemers op verskeie vlakke van die wynbedryf, bevorder etiese handel deur samewerking met relevante bedryfsliggame soos WIETA (etiese handelsorganisasie vir wyn en landbou) en is aktief betrokke by sosio-ekonomiese opheffing en bevordering van verantwoordelike alkoholgebruik deur Vinpro se rol as voorsitter van Aware (assosiasie vir verantwoordelike alkoholverbruik en opvoeding, voorheen ARA). Die Vinpro Stiging, ʼn nie-winsmaatskappy wat sy vyfde bestaansjaar in 2018 vier, stel befondsing aan die bedryf beskikbaar om verdere groei en ontwikkeling van individue en wynbedryfgemeenskappe te ondersteun.
“Mense is die hoeksteen van ons bedryf,” sê Basson. “Alles wat die Vinpro-span daagliks doen het ten doel om die bedryf en sy mense te laat groei, deur noue samewerking.”
Vinpro se 2 500 lede sluit wyndruifprodusente, privaatkelders, produsentekelders en individue, besighede of organisasies geassosieer met die wynbedryf in. Die nie-winsmaatskappy verkry sy inkomste uit beleggings, konsultasiefooie en produkte.
Uitgereik deur: VinPro
Medianavrae:
Wanda Augustyn
VinPro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0463
E-pos: wanda@wineland.co.za