News

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is bekommerd oor die negatiewe gevolge van nog ʼn alkoholverbod op wynverwante besighede.

Dit volg na ʼn aankondiging van President Ramaphosa op 28 Desember 2020 dat die land na vlak 3-inperkings terugkeer, wat die plaaslike verkoop van alkohol vir tuisverbruik en in restaurante, kroeë en wynproelokale tot 15 Januarie 2021 verbied.

“Ons deel die President te kommer oor die skielike en vinnige groei in positiewe Covid-19 gevalle en verwante sterftes en verstaan die noodsaaklikheid vir drastiese stappe om hierdie aan te spreek, maar ons is teleurgesteld en uiters bekommerd oor die algemene beleidsbenadering met betrekking tot die verkoop van alkohol wat weer eens deur die regering geneem is in die stryd teen die pandemie,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof.

Die verbod op alkoholverkope wat twee maal tevore ingestel is, het alreeds ʼn vernietigende impak op die wynbedryf gehad, insluitend ʼn verlies aan inkomste deur verkope van meer as R7.5 miljard, beduidende werksverliese en ʼn aantal wynkelders en toerismefasiliteite wat noodgedwonge hul deure moes sluit. As gevolg hiervan staar die bedryf nou meer as 250 miljoen liter ongekontrakteerde wyn in die gesig, met die 2021-oes wat binne die volgende twee weke afskop. Dit plaas verdere druk op die bedryf se reeds benarde finansiële posisie. Hierdie situasie én die derde verbod gaan matelose skade aan die wynbedryf én die 290 000 individue wat hul lewensbestaan uit die wynbedryf maak, berokken.

Die wynbedryf het proaktief voorkomende maatreëls ingestel om werknemers en besoekers op plase en die bedryf se 533 wynkelders te beskerm. Wynplase trek nou aan die kortste end in die piek-toerismeseisoen vanweë hierdie algemene beleidsbenadering, die gedrag van die algemene publiek en die feit dat Covid-regulasies nie nagekom word nie.

“Vele lesse is geleer vanuit vlak 5 en 4 inperkings, onder meer dat ʼn verbod op die wettige handel van alkohol groei in sluikhandel aanwakker. Aangesien hierdie onwettige sluikhandel buite die regulatoriese reik van die regering is en grootliks ongekontroleerd plaasvind, het dit tot verwoestende gevolge vanuit ʼn gesondheids- en ekonomiese oogpunt,” sê Basson.

“In teenstelling met ʼn algehele verbod op alkohol het ons voorstelle ingedien wat alternatiewe ingrypings insluit om risiko’s te verminder en formeel met die regering in gesprek te tree. Dit is jammer dat hierdie voorstelle nie in die finale regulasies opgeneem is om sodoende ʼn gedifferensieerde benadering te verseker nie. Ons glo werklik dat beperkings op wynverkope op ʼn minder skadelike manier ingestel kan word, wat die effek op die gesondheidstelsel kan verlig, die verspreiding van die virus help verminder, én mense se lewensbestaan kan verseker.”

Basson sê dit is positief dat die vervoer en uitvoer van wyn asook die opberging en bewaring kan voortgaan.

Vinpro, in samewerking met die res van die alkoholbedryf, doen ʼn beroep op die regering om die volgende 14 dae deursigtig te wees oor die stand van die gesondheidstelsel om die verbod op kleinhandel- en op-perseelverbruik so gou moontlik te hersien. “Ons doen ook ʼn beroep op die regering om regulasies streng af te dwing, aangesien dit nie haalbaar is om meer rigiede regulasies in te stel elke keer wanneer ons gesondheidstelsel ʼn krisis beleef, sonder die streng polisiëring van die regulasies nie.

“Ons raai elke wynverwante onderneming aan om hul deel te doen en nou saam te werk om te verseker dat die aantal nuwe gevalle afplat, sodat ons weer kan begin handel dryf na 15 Januarie 2021. Ons vra ook almal om die Covid Alert SA-app af te laai en die blitslyn te gebruik om enige oortreding van die regulasies by 0800 014 856 aan te meld. Ons bly ook voortdurend in gesprek met die regering oor wat gedoen moet word om lewens te red én die lewensbestaan van ons mense te verseker terwyl ons saamwerk om Covid-19 die hoof te bied. Wees saam deel van die oplossing,” sê Basson.

Uitgereik deur: Vinpro

Medianavrae:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back