News

Vooruitsigte vir markontwikkeling, innovasie, wyntoerisme en Suid-Afrika se 2015-oesjaar is positief, maar ’n trae ekonomie, Eskom-probleme en grondhervorming is enkele van die sleuteluitdagings wat wynprodusente in die gesig staar, volgens die sprekers by die Nedbank VinPro Inligtingsdag wat gehou was by die KIKS.

Nicky Weimar

(Nedbank senior ekonoom)

Laat daar lig wees

Suid-Afrika toon swak groei vir ‘n ontluikende ekonomie, met stakings, teleurstellende groei in sleutel uitvoermarkte en beurtkrag wat ekonomiese uitbreiding kniehalter. Dit is absoluut kritiek vir beleggersvertroue dat Suid-Afrika betroubare elektrisiteitvoorsiening daarstel, want hoe langer beurtkrag aanhou, hoe meer gaan dit ekonomiese groei strem.

Olieprys ons redding?

Die olieprys se skouspelagtige”daling kan Suid-Afrika se redding wees, aangesien dit geld terug sit in die verbruiker se sak. ‘n Swakker rand sal egter hierdie voordeel ongedaan maak en buitelandse belegging is daarom belangrik.

Publieke werkskepping ‘n doodloop

Die staat se enorme spandering aan salarisse in die publieke sektor is nie volhoubaar, as dit nie gepaard gaan met ‘n groeiende privaatsektor nie.

Jancis Robinson

(Invloedryke Britse wynskrywer)

Teiken Amerika

Suid-Afrikaanse wyne sal veral by die Amerikaanse mark aanklank vind en nou is die tyd om hierdie geleentheid te benut. Jancis beklemtoon Suid-Afrika het die verskeidenheid en style waaroor Amerikaners gaande is. Sy het cinsaut – vroeër jare se ruggraat van Suid-Afrikaanse rooiwyn – as ’n treffer in Amerika uitgesonder.

Inheems is in

Jancis het beklemtoon dat inheemse druifsoorte wêreldwyd in die mode is. Alhoewel dit nie inheems aan Suid-Afrika is nie, het sy genoem dat Sémillon deel is van Suid-Afrika se erfenis en wynmakers aangemoedig om dié druifsoort te koester. Chenin Blanc, Suid-Afrika se mees aangeplante druifsoort, is boonop as een van sy troefkaarte uitgesonder. pinotage was nie werklik deel van haar aanbieding by die Inligtingsdag nie, maar sy het ’n pinotage gekies as die wyn van die week op haar webtuiste, www.jancisrobinson.com.

Alan Winde 

(Minister van Landbou, Ekonomiese ontwikkeling en toerisme in die Wes-Kaap)

Versnel grondhervorming

Versuiming om grondhervorming daadwerklik aan te spreek sal ’n negatiewe uitwerking op mededingendheid en marktoegang hê.

Agriprosessering sal groei dryf 

Agriprosessering is reeds ’n groot bydraer tot die ekonomie en hou aansienlike groeipotensiaal in. Dit dra direk R12 miljard in bruto toegevoegde waarde by en is verantwoordelik vir 79 000 formele werksgeleenthede in die Wes-Kaap.

Alayne Reesberg 

(Uitvoerende hoof van Design Capital Cape town)

Wees kreatief en oorspronklik

Idees wat eg aan Afrika is, sal by die res van die wêreld aanklank vind en so verskille oorbrug..

Francois Viljoen

(Bestuurder van Vinpro se wingerdboukundige konsultasiediens)

’n Kleiner, vroeë oes

Die 2015-oes sal na verwagting kleiner wees as die yslike 2014-oesjaar, terwyl gehalte op hierdie vroeë stadium belowend lyk.

Meer wyn, minder wingerd 

Suid-Afrika maak meer wyn met minder hektare wingerd. Hoewel in lyn met die internasionale tendens, is dit nie volhoubaar nie en noodsaak dat die bedryf in nuwe aanplantings belê, gegewe die ouderdom van sommige van ons wingerde.

Craig Irving

(Consumer insight Agency)

Verstaan jou kliënt

Craig se leuse is dat ’n lessenaar ’n gevaarlike plek is om die lewe van te beskou. Hy beklemtoon dat dit vir die wynbedryf belangrik is om die verbruiker werklik te verstaan – veral in Afrika.

Ontgin die hunkering na sofistikasie

Afrika beskik oor enorme potensiaal vir wyn en wynkelders moet die eienskappe van sofistikasie vir hierdie mark ontgin. “Die nuwe gonswoorde is subtiliteit en klas,” het Irving verduidelik.

Rico Basson

(VinPro besturende direkteur)

Afgevaardigdes is op hoogte gebring van die vordering met die Wynbedryf Strategiese oefening (Wise), na die bekendmaking van die projek by die 2014-Nedbank VinPro Inligtingsdag. Die kern sleuteluitkomste van hierdie projek is:

  • Transformasie, grondhervorming en vaardigheidsontwikkeling
  • Markontwikkeling en -bevordering
  • ’n Maatskaplike kompas om samewerking tussen die regering, produsente en arbeid te verseker
  • Inligting- en tegnologie-oordrag

“,173

Go Back