News

GEN-Z Wingerdprojek goed op dreef

Die GEN-Z-wingerdprojek, wat in 2016 gestig is, het reeds baie gegroei en die span is positief oor die vordering. Die doel van dié projek is om produsente, wingerdboukundiges en plaasbestuurders te bemag deur kennisoordrag van nuwe tegnologie en bevindinge van die verskeie demonstrasiepersele wat deur die wynbedryf gevestig is.

Die projek dek kerntemas soos aanpasbaarheid by veranderende klimaatstoestande veral droogte, kultivargeskiktheid, doeltreffende watergebruik in wingerde en grondgesondheid.

Alle inligting oor die verskeie demopersele is aanlyn op die GEN-Z-webwerf beskikbaar. Die GEN-Z-projek se webtuiste is einde April met die 2022 dekgewas-demopersele se resultate opgedateer. Na drie jaar se opeenvolgende data ingesamel is, word die data vir die publiek gepubliseer. Die projek beoog om deeglike datastelle met genoeg waardevolle inligting deur te gee voordat daar enige gevolgtrekkings rakende kultivar-, kloon- en onderstoktendense gemaak word.

Binne die volgende drie maande beoog die projek om 13 demonstrasiepersele te snoei en lootmassas te weeg om so ook inligting in te vorder rakende die vegetatiewe groei van onderskeie kombinasies. Verder word daar ook twee nuwe kultivar demonstrasiepersele gevestig, een in die Cederberge en een in Vredendal.

Daar word ook beoog om kultivar-demonstrasiepersele in Stellenbosch en die Swartland te vestig. Geïnteresseerde produsente in die onderskeie areas wat vanjaar aanplant en graag betrokke wil raak, word uitgenooi om die GEN-Z projekbestuurder, Francois Viljoen, te kontak by 021 276 0447 of stuur ’n e-pos na info@gen-z.co.za.

Die projek het plantmateriaal vir ’n Merlot-kloon demonstrasieperseel vir Stellenbosch en ’n Shiraz-kloon demonstrasieperseel vir die Swartland. Beide persele sal meer stokke bevat en minder kombinasies, met die doel om wyn te maak om so ook die projek deur te trek tot op keldervlak.

Besoek gerus die GEN-Z-projek webwerf by www.genz.co.za vir verdere inligting.

 

 

Go Back