News

Die Vinpro-vlagskip GEN-Z Wingerdprojek het die 2022/2023-aktiwiteitsverslag vrygestel met inligting oor demonstrasieblokke wat tydens die tydperk geplant of bewerk is, komende demonstrasieterreine, asook oes- en ander beperkings wat ervaar was.

Kerntemas wat uit die verslag na vore kom sluit in innovasie, die aanspreek van klimaatsverandering, presisieboerdery, wynstyle wat voortspruit uit nuwe druifsoorte, demonstrasiepersele, kennisoordrag, die nuutste tegnologie en die terugploeg in opleiding deur infrastruktuur by akademiese instellings te skep en uit te brei.

Sedert 2017 het die projek altesaam 63 demonstrasiepersele regoor die Kaapse Wynlande gevestig – 22 kultivar-demonstrasieblokke, 22 kloon-demonstrasieblokke, 15 onderstokdemonstrasieblokke, drie wingerdopleidingsdemonstrasieblokke en een snoeidemonstrasieblok. Jaar-op-jaar-oesvergelykings het getoon dat die span hierdie seisoen ‘n week vroeër begin het en gevolglik ook ‘n week vroeër voltooi het. Die aantal monsters wat versamel is, het die skaal op 480 teenoor 332 in 2022 laat kantel.

Vanjaar het die span, bestaande uit Francois Viljoen, Emma Carkeek, Zahn Haasbroek en Logan Jooste, dekgewas-demonstrasies by Welgevallen en Goudini-kelders gevestig.

“Vyf beplande demonstrasieterreine sal ook gedurende die 2023-wingerdplantseisoen gevestig word,” sê GEN-Z Wingerdprojek stigter en leier, Francois Viljoen. “Dit is alles in lyn met die toekomsvisie van die GEN-Z Wingerdprojek, om die demonstrasies van die grond tot die kelder te volg.”

Die beplande demonstrasies, met ondersteuning van Vititec wat wingerdstokke geborg het, sluit vier nuwe tussenplantdemonstrasieblokke in met die uiteindelike fokus op die vestiging van minder demonstrasieterreine met meer wingerdstokke per terrein. Die vier nuwe demonstrasieterreine sluit in 300 wingerdstokke van Egiodola en Vermentino by Cederberg Wines in die Cederberg-streek met, 250 wingerdstokke met ses verskillende klone van Shiraz by Saronsberg Kelder in Tulbagh, 400 wingerdstokke van Arinarnoa op Ramsey in Vredendal om te sien of hierdie relatief nuwe kultivar geskik sal wees vir hierdie area, en laastens word 10 wingerdblokke met agt gekruise kultivars elk, geborg deur Bosman Adama Kwekery, binne die kultivarversamelingsblok by Welgevallen geplant.

‘n Eksperimentele demonstrasieterrein vir die Vine Academy in Kakamas word ook vir 2024 beplan. “Hierdie terrein dien om produsente en studente oor bekende kultivars te leer, maar bied ook ’n platform om minderbekende kultivars soos Malbec te plant wat die potensiaal het om wynkompleksiteit te verhoog,” sê Viljoen. “Die terrein by Landbouskool Boland vaar ook goed met alle stokke reeds opgelei. Die loofdrade sal in die nuwe jaar geïnstalleer word nadat die demonstrasieblok vir die winter gesnoei is.”

Wingerdopleiding en -ontwikkeling by die Welgevallen-terrein in Stellenbosch, wat ontwikkel is met die hoofdoel om die volgende geslag wynmakers en wingerdboukundiges op te lei, gaan voort. In 2023 is ’n totaal van 11,4 ton Chenin Blanc van hierdie perseel gepluk en deur studente aan die Universiteit Stellenbosch by Die Laan-kelders verwerk.

Nog ’n eerste van die GEN-Z Wingerdprojek is ’n platform vir kennisoordrag vir die jeug van die Suid-Afrikaanse wynbedryf wat in die vorm van inligtingsdae geskep is. Vanjaar het 70 jong beroepslui in die wynbedryf dit bygewoon om te netwerk, te leer en ‘n gedeelde visie te skep.

Conrad Schutte, Vinpro-bestuurshoof, het die GEN-Z-span se pogings geloof. “Dankie dat julle innovasie en tegnologie in ons veld dryf. Dit is geen maklike taak om meer as 63 demonstrasieterreine in die Kaapse Wynlande te vestig nie. Hierdie terreine voorsien ons van inligting om toekomstige beste besluite te neem – van grond tot wingerdstok. Om die Welgevallen-demonstrasieterrein te vestig en deel te wees van die opvoeding van die volgende geslag wynmakers en wingerdboukundiges in Suid-Afrika is ’n lonende onderneming. As bewaarders van die wynbedryf is ons trots daarop om deel te wees van die skep van ’n meer ingeligte toekoms vir almal in die wynwaardeketting.”

Besoek die webwerf by https://www.genz.co.za/ vir meer inligting oor die projek en maniere om betrokke te raak.

 

UITGEREIK DEUR: Vinpro

MEDIANAVRAE: Francois Viljoen
E-POS: fraincois@vinpro.co.za

 

Go Back