
Verteenwoordigers van Hoër Landbouskool Boland, Kobus Hartman, Johan Moolman en Philip la Grange, saam met Francois Viljoen van die Gen-Z Wingerdprojek en Anton Laas van Windmeul Kelder.
Die leerders van Hoër Landbouskool Boland kan daarna uitsien om eerstehandse ervaring in wyndruifverbouing op te doen, nadat Vinpro se Gen-Z-wingerdprojek vandeesweek 40 uiteenlopende wyndruifkultivars op die skool se perseel gevestig het.
Die Hoër Landbouskool Boland het verlede jaar met die Gen-Z-span begin hande vat om hierdie nuwe projek te koördineer, nadat die Junior Landbouvereniging ʼn behoefte uitgespreek het om ʼn demo-wingerd aan te plant. “Die projek by Hoër Landbouskool Boland pas perfek in by die doelstellings van die Gen-Z-wingerdprojek. Ons is trots op ons verbintenis en is opgewonde om te sien hoe hierdie projek waarde vir leerders en produsente in die omgewing gaan ontsluit,” sê Francois Viljoen, bestuurder van die wynbedryforganisasie Vinpro se Gen-Z Wingerdprojek.
Gen-Z het ten doel om wynprodusente, wingerdboukundiges, verskaffers en navorsers met die nuutste praktyke, tegnologie en hulpmiddels in die wingerd te verbind deur kleinskaalse demopersele regoor Suid-Afrika se wyndruifverbouingsareas te vestig.
Altesaam 21 rooi en 19 wit wyndruifkultivars is by Hoër Landbouskool Boland aangeplant, met die doel om te sien hoe hierdie kultivars spesifiek in die Agter-Paarlstreek se terroir sal aard. Die meerderheid van die 2 861 wyndruifstokkies bestaan uit tradisionele druifsoorte, tesame met ʼn aantal nuwer druifsoorte soos Agiorgitiko, Arinarnoa, Lledoner Pelut, Assyrtiko en Piquepoul Blanc. Terselfdertyd word ses verskillende prieelstelsels, asook ʼn aantal verskillende snoeitegnieke op die proef gestel.

Altesaam 2 861 wingerdstokkies is in Hoër Landbouskool Boland se nuwe demo-wingerd aangeplant.
“Dis die eerste skool waar ons so ʼn demo-wingerd vestig en gee op ʼn vroeë stadium aan leerders blootstelling, nie net aan wingerdkunde in die algemeen nie, maar die verskillende nuanses in die veld ten opsigte van druifsoort, terroir en wingerdpraktyke,” sê Francois. Produsente, wingerdboukundiges en ander belanghebbers in die omgewing sal ook die wingerde kan besigtig tydens demonstrasiesessies.
“Die afskop van die wingerdprojek is vir ons ʼn groot mylpaal, wat ons glo die leerervaring vir ons skoliere na ʼn nuwe vlak gaan neem,” sê Kobus Hartman, skoolhoof van Hoër Landbouskool Boland. “Ons is ook dankbaar vir elke bedryfvennoot wat met ons hande gevat het om hierdie projek moontlik te maak.”
Die vennote wat tot dusver hul dienste, produkte en kundigheid tot die projek bygedra het, sluit in Hauptfleisch Grondverskuiwing, Bergrivier Besproeiing, Die Koöperasie, Vititec Wingerdkwekerye, Voor-Groenberg Kwekery, MK-arbeidskontrakteurs,Windmeul Kelder en Vinpro se Gen-Z Wingerdprojek. “Bo en behalwe hul tasbare bydrae, sien ons ook daarna uit dat hierdie bedryfsvennote hul kundigheid verder met ons leerders gaan deel in die langtermyn,” sê Kobus.
Vir verdere navrae of om betrokke te raak by die projek, kontak Hoër Landbouskool Boland by tel 021 869 8143 of e-pos kh@bolandlandbou.com, of die Gen-Z Wingerdprojek by tel 083 309 7627 of e-pos viljoenf@vinpro.co.za.
MEDIANAVRAE:
Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za
