News

Vooruitsigte vir markontwikkeling, innovasie, wyntoerisme en Suid-Afrika se 2015-oesjaar is positief, maar ‘n trae ekonomie, Eskom-probleme en grondhervorming is enkele van die sleuteluitdagings wat wynprodusente in die gesig staar.

Dit was die kruks van die 10de Nedbank VinPro Inligtingsdag, wat op 22 Januarie 2015 deur meer as 800 wynbedryfsrolspelers by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum bygewoon is. Dié jaarlikse wynbedryfkonferensie word aangebied deur VinPro, ‘n organisasie wat nagenoeg 3 500 wynprodusente en kelders verteenwoordig, met ‘n finansiële bydrae deur Nedbank Besigheidsbanksake.

Hou die ligte aan – Nicky Weimar

Suid-Afrika toon swak groei vir ‘n ontluikende ekonomie, met stakings, teleurstellende groei in sleuteluitvoermarkte en beurtkrag wat ekonomiese uitbreiding kniehalter. Senior ekonoom by Nedbank, Nicky Weimar, het een van haar kenmerkende, vurige aanbiedings gelewer en kon daarin slaag om ‘n ietwat donker prentjie op ‘n duidelike en vermaaklike manier te skets. Volgens Weimar is die ekonomie in “lae-intensiteit chaos”, met die myn- en vervaardigingsektore wat onder die grootste druk verkeer.

‘n Positiewe aspek is die “skouspelagtige” 60%-daling in die olieprys wat moontlik Suid-Afrika se redding kan wees, aangesien dit geld in die verbruiker se beursie sal terugsit. Weimar het die daling aan ‘n oortollige aanbod toegeskryf, wat deur hidrobreking in die VSA en verhoogde produksie in Irak en Libië toegeskryf kan word. Indien die rand egter verswak sal Suid-Afrika minder baat vind by die laer olieprys.

Alhoewel Weimar die Reserwebank vir goeie besluitneming geloof het, het sy gewaarsku dat die regering nie die buitengewone besteding op staatsdienssalarisse kan volhou nie. “Hoër besteding op staatsdienssalarisse moet regverdig word deur privaatsektoruitbreiding. Indien dit nie die geval is nie, is dit nie ‘n volhoubare situasie nie,” het Weimar verduidelik.

Weimar het ten slotte gesê dat die ekonomiese vooruitsig vir 2015 meer rooskleurig as verlede jaar behoort te wees, maar ook beklemtoon dat “ons die ligte sal moet aanhou”.

Suid-Afrika behoort opgang in die VSA te maak – Jancis Robinson

Suid-Afrika het die water, grond, stories en diversiteit om werklik sy stempel af te druk – veral in die VSA.

Dit is die mening van die invloedryke Britse wynskrywer en hoofspreker Jancis Robinson, wat gesê het dat die VSA tans baie geleenthede inhou. Sy het bygevoeg dat sy werklik glo dat Suid-Afrika opgang in hierdie mark kan maak. “Suid-Afrika het die smake, style en kultivars waaroor die Amerikaanse mark gaande sal wees!” het sy opgemerk.

Verbruikersbelangstelling het verskuif van die kelder na die wingerd en wyndrinkers soek toenemend na wyne met ‘n oorsprong en erfenis. Robinson het beklemtoon dat daar ‘n nuwe belangstelling is in wat onder die grond gebeur, en het beklemtoon dat Suid-Afrika gelukkig is om ‘n magdom grondtipes te hê. Sy het produsente geloof wat dapper genoeg is om die grondtipes waarin hul wingerde verbou word op die wynetikette aan te dui.

Robinson het veral lof gehad vir Suid-Afrikaanse witwyne, en het Chenin Blanc en Sémillon uitgesonder. Sy het toegegee dat sy ‘n sagte plek vir Sémillon het en ‘n beroep gedoen op produsente om nie hierdie kultivar – wat eens een van die land se mees-geplante kultivars was – te laat uitsterf nie. Cinsaut is nog ‘n Suid-Afrikaanse erfeniskultivar wat genoem is. “Sit Cinsaut op die etiket in die VSA en jy sal dadelik ‘n jong, -hipster’-gevolg hê,” het sy geskerts oor die kultivar wat destyds rooi-aanplantings gedomineer het.

Robinson sê dat Savignan, Assyrtiko, Petit Manseng en Sauvignon Gris sommige van die “aweregse” kultivars is wat gewilder word en toenemend in Nuwe Wêreld-streke aangeplant word. Sy het modeneigings bespreek en opgemerk dat alhoewel natuurlike wyne baie gewild is, dit steeds belangrik is dat hierdie wyne goed proe. Dieselfde geld vir organiese en biodinamiese wyne, en volgens Robinson is sy “lugtig” vir wyne wat hul groen status as die pertinente bemarkingsboodskap inspan.

Ofskoon verbruikers toenemend verdraagsaam word teenoor meer tanniene in beide wit- en rooiwyne, het Robinson aangevoer dat die gebruik van nuwe vate besig is om af te neem, met ouer, groter vate of alternatiewe houers soos amphorae wat dit vervang.

Robinson het lig gewerp op groot markneigings, en genoem dat die Pinot Gris-beheptheid sy toppunt bereik het, terwyl die opgang van rosé ook ‘n plato begin bereik. Sy het bygevoeg dat Champange besig is sy “wurggreep” op die bottelgegiste vonkelwynkategorie te verloor, met die markaandeel van alternatiewe soos Cava en Prosecco wat steeds klim.

Robinson het aangevoer dat wyn wat kort na aankoop gedrink gaan word nie wêreldwyd verskeep moet word in glasbottels nie, en het sakke en plastiek as sinvolle alternatiewe voorgehou.

Tyd om die sofistikasie-neiging te ontgin – Craig Irving

Suid-Afrikaanse wynmakers is vasgekeer in hul eie vate en moet aanpas om geleenthede in Afrika aan te gryp.

Die uitvoerende hoof van Consumer Insight Agency, Craig Irving, is bekend vir sy reguit benadering. Hy leef sy motto “dat dit gevaarlik is om die wêreld vanaf ‘n lessenaar te beskou” uit, en het projekte in meer as 20 Afrika-lande bestuur. Volgens hom beskik die kontinent oor geweldige potensiaal vir wyn, en moet die eienskappe van sofistikasie ontgin word vir die Afrika mark. 

“Die nuwe gonswoorde is subtiliteit en klas,” het Irving verduidelik. Hy het benadruk dat dit belangrik is vir wynprodusente om die gesofistikeerde taal en aansporings van hierdie marksegment te verstaan, en bygevoeg dat die doelpale van dit wat interessant of modieus is voortdurend verander.

Hy het beklemtoon dat wyn – en veral Suid-Afrikaanse wyn – agter geraak het by ander drankprodukte, wat die voorste posisies op die kontinent se winkelrakke geniet.

‘n Ligter, maar belowende oes – Francois Viljoen

Suid-Afrika maak meer wyn met minder hektare wingerd. Hoewel in lyn met die internasionale tendens, is dit nie volhoubaar nie en noodsaak dat die bedryf belê in nuwe aanplantings, gegewe die ouderdom van sommige van ons wingerde.

Die bestuurder van VinPro se wingerdboukundige konsultasiediens, Francois Viljoen, het verduidelik dat druk op die winsgewendheid van wyndruifproduksie gelei het tot ‘n verskuiwing na hoër-opbrengs kultivars, klone en onderstokke.

Die onlangse aanplantings was grotendeels in die besproeide areas soos Breedekloof en Robertson, met Stellenbosch en die Swartland wat ‘n merkbare tekort aan onlangse aanplantings gehad het. Pinotage en Colombar het die hoogste nuwe aanplantings sedert 2010 getoon, met die Cabernet Sauvignon-wingerde wat met meer as 1 500 ha in die laaste dekade afgeneem het. 

In 2014 het Suid-Afrika die derde ideale winter in ‘n ry ervaar, met genoegsame koue eenhede en reën. ‘n Warm Augustus het een van die vroegste oeste in dekades tot gevolg gehad, terwyl ‘n warm, droë en uiters winderige somer ook bydra tot die vroeë seisoen en aansienlike besproeiing verg. Die 2015-oes sal na verwagting kleiner wees as die yslike 2014-oesjaar, terwyl kwaliteit op hierdie vroeë stadium belowend lyk.

Agri-prosessering sal groei dryf – Minister Alan Winde

Die transformasie van die bedryf deur grondhervormingsprojekte, en om wyer as produksie te kyk met ‘n fokus op agri-prosessering, is ‘n topprioriteit. 

Minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme in die Wes-Kaap, Alan Winde, het die belangrikheid van die landboubedryf – en spesifiek agri-prosessering – beklemtoon om groei en werkskepping in Suid-Afrika te dryf. “Die Departement fokus in sy nuwe termyn veral op bedrywe wat transformerende potensiaal het en projekte wat betekenisvolle werksgeleenthede en groei binne die volgende paar jaar sal oplewer. Landbou is een van hierdie bedrywe,” het Winde verduidelik.

Die land se Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) het ‘n teiken geïdentifiseer van 20%-oordrag van landbougrond aan voorheen-benadeelde Suid-Afrikaners teen 2030. “Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming het die Distrik-grondhervormingskomitee op die been gebring, wat verantwoordelik sal wees om grondhervormingsgeleenthede in spesifieke areas te identifiseer,” het Winde gesê.

Versuiming om grondhervorming daadwerklik aan te spreek sal ‘n negatiewe uitwerking op mededingendheid en marktoegang hê. Agri-prosessering is reeds ‘n groot bydraer tot die ekonomie en hou aansienlike groeipotensiaal in. Dit dra direk R12 miljard in bruto toegevoegde waarde by en is verantwoordelik vir 79 000 formele werksgeleenthede in die Wes-Kaap.

 “Ons sal sleuteluitdagings, soos die energietekort, moet aanpak en poog om waterbestuur te verbeter deur nuwe infrastruktuur te ontwikkel en programme vir watergebruiksdoeltreffendheid te implementeer. Struikelblokke tot marktoegang, soos sertifiserings en ander vereistes in uitvoermarkte moet ook aangespreek word,” het Winde verduidelik.

Maak ontwerp deel van wyntoerisme – Alayne Reesberg 

Kelders is aangemoedig om hul outentieke stories te vertel, wat meer op plaaslike ontwerp fokus.

Die uitvoerende hoof van Design Capital Cape Town, Alayne Reesburg, het afgevaardigdes aangemoedig om iets in ontwerp te vind wat vir hulle werk – iets wat die verbruiker by die kern van hul bemarkingsbenadering sal uitbring. Ontwerp is ‘n transformerende modaliteit en kan gebruik word om die samelewing en die lewens van gewone mense te verander. “Daar is ‘n behoefte aan ‘n egte storie wat uit jou grond kom,” het Reesberg gesê.

Om wyntoerisme na die volgende vlak te neem, moet produsente fokus op projekte wat tasbare bewyse van transformerende ontwerp bied, en wat uniek Suid-Afrikaans is. “Jou idees wat eg aan Afrika is sal by die res van die wêreld aanklank vind en so verskille oorbrug,” het Reesburg verduidelik.

Wynbedryf Strategiese Oefening – Rico Basson

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is in die proses om ‘n nuwe bedryfspadkaart te finaliseer wat ‘n aanpasbare, robuuste, globaal-mededingende en winsgewende bedryf sal verseker. 

Die besturende direkteur van VinPro, Rico Basson, het afgevaardigdes op hoogte gebring van die vordering met die Wynbedryf Strategiese Oefening (Wise), na die bekendmaking van die projek by die 2014 Nedbank VinPro Inligtingsdag. Transformasie, grondhervorming en vaardigheidsontwikkeling; markontwikkeling en -bevordering; ‘n maatskaplike kompas om samewerking tussen die regering, produsente en arbeid te verseker; en inligting- en tegnologie-oordrag is die sleuteluitkomste wat vir die proses geïdentifiseer is. 

Basson het “ideale 2025-toekomsteikens” vir sommige pertinente Wise-drywers voorgehou. Hy het gesê dat die wyn- en brandewynbedryf ‘n fundamentele skuif sal moet maak van produksie-gedrewendheid om mark- en waardegedrewe te wees. Terwyl die meerderheid Suid-Afrikaanse wyn tans in grootmaat uitgevoer word, het Basson gesê dat meer as 60% van uitvoere verpak behoort te wees.

As deel van die markontwikkelingsdryf, het Basson benadruk dat die bemarking van plaaslike, verantwoordelike wynverbruik ‘n prioriteit is. Plaaslike per capita-verbruik moet toeneem van die huidige 6 liter – die laagste van alle wynproduserende streke – tot 9 liter in 2025. Dit sal ‘n mark vir meer as 120 miljoen liter skep. Internasionaal word verwag dat Suid-Afrika se markaandeel in die groeiende Chinese en Afrika-markte sal vermeerder.

Basson het by Minister Winde aangesluit en gesê dat wyntoerisme geweldige potensiaal vir werkskepping inhou, met die voorgestelde inkomste uit hierdie bedryf wat na verwagting van R6 miljard na R15 miljard in 2025 sal groei.

Suksesvolle transformasie en grondhervorming is sleutelprioriteite vir die bedryf se strategiese plan. VinPro het in hierdie opsig R50 miljoen bewillig om verskeie transformasie-projekte op streeksvlak van stapel te stuur en te koördineer. 

Basson het gesê dat die bedryf die potensiaal het om ‘n verdere 100 000 werksgeleenthede regdeur die waardeketting teen 2025 te skep. Die ideale toekomsteiken vir grond en water in swart besit, wat tans op 1.5% staan, is 20%. Hy het gesê dat alle Suid-Afrikaanse wyn teen 2025 ‘n etiese akkreditasie behoort te hê.

Volgens Basson is ‘n deursigtige proses, wat konsultasie met sleutel-bedryfsrolspelers en industriedeelname insluit, van kernbelang vir die implementasie en uiteindelike sukses van die plan. Hy het afgevaardigdes aangemoedig om www.wisewine.co.za te besoek om insette te lewer of meer inligting te bekom.

Nedbank se verbintenis tot Kaapse Wynbedryf – Daneel Rossouw, Afdelingshoof: Landbou Nedbank Beperk

Nedbank is sedert 2007 die borg van die Nedbank VinPro Inligtingsdag, wat klein, medium en groot ondernemings voorsien met netwerkgeleenthede en raakvat bedryfsinsigte vanaf plaaslike en globale kenners. Die bank se ondersteuning van hierdie inisiatief het gehelp om die VinPro Inligtingsdag aansienlik te laat groei oor die afgelope agt jaar. Meer belangrik, skep dit steeds bewustheid en ‘n geleentheid om die bedryf te omskep sodat aspirante wynmakers en wyndruifprodusente uit voorheen benadeelde gemeenskappe, in die wynbedryf-waardeketting kan deelneem,” sê Rossouw.

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf, wat die groeiende wyntoerisme bedryf insluit, is verantwoordelik vir die totale indiensneming van 275 000 mense – wat die sleutel is tot die ondersteuning van die regering se pogings om werkskepping aan te help. Rossouw gaan verder deur te sê dat die 30 studente uit voorheen benadeelde gemeenskappe asook ‘n aantal SEB-projekte wat die geleentheid vanjaar bygewoon het, die bedryf se vaardigheidsontwikkeling bevorder.

“As ‘n bank vir almal, insluitende klein besighede, besef ons die belangrikheid van hierdie bedryf en dit is om hierdie rede dat Nedbank steeds vennootskap behou met klein, medium en groot ondernemings om groei te bevorder. Ons glo dat ons vennootskap ‘n lang pad sal gaan in die bydrae tot volhoubare maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling vir die bevordering van almal in Suid-Afrika.”

Vir navrae kontak Lee-Anne Davidson, tel (021) 276 4060 of e-pos leeanne@vinpro.co.za.

“,149

Go Back