News

Faith Nogemane, Agri’s got Talent 2021 Wenner.

Faith Nogemane,’n algemene werker van Wildekrans Wynlandgoed, Botrivier, het op Vrydag 1 Oktober die 8ste wenner van Agri’s Got Talent (AGT) geword.

Weens die Covid-pandemie is die landbousangkompetisie regstreeks via sosialemediaplatforms uitgesaai. Dit was die eerste keer dat die geleentheid op dié manier gehou is en het so landbouwerkers ‘n geleentheid gegee om na hul gunstelinge te luister, terwyl hul werk. Die dapper finaliste het alles ingesit, maar uiteindelik het Faith met die loure weggestap.

Ronel Radloff van Diemersfontein, Wellington, was tweede, en Jack Jonas, van CRI Citrus Foundation Block, Uitenhage, was derde.
Die Suid-Afrikaanse landbousektor dra histories ’n swaar las en kry dikwels om al die verkeerde redes media-aandag. Teen hierdie agtergrond is AGT ‘n baken vir menswees en word talentvolle landbouwerkers vereer vir die feit dat hulle ook moeders, vaders, dogters, en seuns is wat deel vorm van ‘n gemeenskap. Die projek skep nie net ‘n geleentheid, “om hulle stemme te laat hoor” nie, maar ook om hulle talent te ontwikkel.

Faith het die beoordelaars oorgewen met haar weergawes van ‘Amazulu’ en ‘Stand up for love’ en het gesê dat Agri’s Got Talent ’n groot impak op haar gehad het. “Ons het die afgelope week so baie geleer, en hoewel ek gemotiveerd was om te wen, was ek voortdurend bewus van hoe talentvol die ander finaliste is.”

Die top 3 Agri’s got Talent finaliste: Jack Jonas, Faith Nogemane en Ronel Radloff.

Afgesien van ‘n sangkompetisie, is AGT ook ‘n maatskaplike ontwikkelingsprogram vir landbouwerkers in die vrugte- en wynbedryf. AGT word gesamentlik ondersteun deur die sagtevrugtebedryfsorganisasie, Hortgro, die Sitrusprodusentevereniging, Vinpro, SATI (Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf) en die Wes-Kaapse Departement van Landbou.

Die finaliste het almal stem-, verhoog- en sosialemedia-opleiding ontvang. Hulle het ook ’n sessie met ‘n voorkoms konsultant gehad, wat nuwe klere en ’n selfversorgingspakket insluit. Daarbenewens het Procare ‘n reeks selfontwikkelingswerkswinkels gehou wat ten doel het om finaliste se selfvertroue te ontwikkel, hulle te leer om met konflik om te gaan, asook hoe om tyd en geld te bestuur. Hierdie vaardighede is nie net van waarde vir dié wat potensiële musiekloopbane oorweek nie, maar ook in die werkskonteks.

As jy die AGT-finalé gemis het, kyk dit weer hier: https://fb.watch/8qxyEWLT9K/
Word deel van die AGT-familie op sosiale media: Facebook en https://www.agrisgottalent.com/agris-got-talent-2021-top-10/
Vir navrae, kontak Thea van Zyl: thea@hortgro.co.za

Go Back