News

Francis Carr (Duimpie) Bayly sal altyd vir sy menswees onthou word.

ʼn Legende onder wynlegendes, ʼn méns-mens en voorvatter is hoe die wynbedryf Duimpie Bayly sal onthou. Francis Carr (Duimpie) Bayly is op 11 Augustus 2021 op die ouderdom van 81 in sy huis op Stellenbosch aan ʼn hartaanval oorlede.

As een van die Kaapse Wynakademie se eerste drie erkende Kaapse Wynmeesters in 1983, laat Duimpie na meer as 60 jaar in die bedryf ʼn groot leemte, maar ook uitsonderlike nalatenskap agter. Sy warm sin vir humor en professionele aanslag (tesame met ʼn rits gesaghebbende posisies wat selfs verder as die Suid-Afrikaanse wynbedryf strek), het daartoe bygedra dat hy as een van die bedryf se mees gerespekteerde figure beskou is.

Lees hier meer oor sy bydrae tot die SA wynbedryf.

“Oom Duimpie se vriendelikheid, ondeunde glimlag, stories en kwinkslae het dit altyd so lekker gemaak om in sy geselskap te wees,” vertel Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se Gen-Z Wingerdprojek.

“Hy het merkwaardige kennis en insig oor die wynbedryf gehad,” sê Francois. “Hy het op soveel bedryfsassosiasies gedien en in die tyd wat ons saam met hom op die Afbakeningskomitee gedien het (met Duimpie as voorsitter), het ek en my kollega Heinrich Schloms so baie by hom geleer. Eie aan sy gesellige geaardheid, het hy onder andere die tradisie begin dat, sodra ʼn landgoed deur die Afbakeningskomitee goedgekeur is, die hele komitee ʼn glasie wyn in die wingerd geniet, en het dan ook ʼn bietjie van die wyn op die grond uitgestort om dit as’t ware te seën.”

Duimpie het hom daarvoor beywer om die bedryf deurlopend te verbeter deur sy steun en insigte te gee rondom verskeie inisiatiewe, onder andere die stigting van Vinpro as onafhanklike organisasie en die totstandkoming van die Gen-Z Wingerdprojek.

“Sy positiwiteit, passie, omgee, ongelooflike kennis en kwinkslae sal my vir altyd bybly,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson. “Sy staaltjies van die verlede het konteks gegee van hoe ongelooflik die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynbedryf ontwikkel het oor die laaste paar dekades en dat ons nie hoef terug te staan vir ons mededingers nie.”

“Duimpie was ongetwyfeld ikonies, begaafd en ’n positiewe denker met ’n visionêre inslag wat sy lewe aan die vooruitgang van die wynbedryf en sy mense gewy het,” sê Vinpro-voorsitter Anton Smuts. “Sy kennis en ondervinding het daartoe gelei dat hy ’n onmisbare deel was van menigte advieskomitees, dinkskrums en rade. Die bedryf het ’n gerespekteerde en beminde vriend, kollega en mentor verloor. Sy menswees en nalatenskap sal vir ewig in ons harte en gedagtes voortleef.”

Die tradisie om ʼn nuwe Wyn van Oorsprong-gebied met ʼn bietjie wyn te “seën” sal voortleef in die Afbakeningskomitee. Van links: Ernst le Roux, Jan Booysen, Jackie Cupido, Duimpie Bayly, Kobus Louw, Tyrrel Myburgh, Francois Viljoen en Dawid Saayman.

 

 

Go Back