Kort nadat Suid-Afrikaanse wynbesighede asem kon skep met die gedeeltelike (nou volledige) heropening van drankverkope wat hulle in staat sou stel om hul voorrade kon skuif en plek te maak vir die 2021-wyndruifoes, is die bedryf met nog terugslae getref. Wat lê nou voor?
Die derde verbod op plaaslike drankverkope is op 1 Februarie 2021 gedeeltelik opgehef. Kelders kon begin om die sowat 645 miljoen liter oordravoorraad (waarvan 300 miljoen nie gekontrakteer was nie) te skuif om broodnodige kontantvloei te stimuleer en net betyds plek te maak vir die 2021-wyndruifoes.
Die verligting was egter van korte duur ná die aankondiging van minimumloon-, elektrisiteit- en aksynsbelastingstygings van onderskeidelik 16%, 15% en 8% in die afgelope maand. Dit terwyl die inkomste op plaas- en keldervlak na verwagting nog vir ʼn geruime tyd onder druk sal wees vanweë die huidige voorraadsituasie en verlengde betalingsterme wat regdeur die waardeketting afgewentel word.
Produsent verdien minder as 77c per bottel
“Van ʼn gemiddelde bottel wyn wat teen R45 verkoop, het die regering vóór die nuutste stygings R10.04 uit aksynsbelasting en BTW verdien, teenoor die wyndruifprodusent se netto boerdery-inkomste van 77c per bottel,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson.
Die 8% aksynsverhoging impliseer dat 26c meer nou op ʼn 750 ml bottel gehef word. Indien kleinhandelaars nie hul rakpryse met hierdie bedrag aanpas nie – wat dikwels die geval is – sal primêre druiweprodusente uiteindelik hierdie bedrag ook moet absorbeer. Voeg daarby onderskeidelik 12c- en 3c-stygings in lone en elektrisiteit, en die gemiddelde produsent kan amper 41c meer betaal, wat die huidige 77c onder verdere druk sal plaas.
“In die lig van die ernstige finansiële posisie waarin ons bedryf tans is, het ons nou stabiliteit, beleidsekerheid, finansiële verligting en ondersteuning nodig. Die hoër as verwagte verhogings doen afbreuk hieraan en kan heelwat besighede wat reeds op hul knieë is ʼn finale nekslag toedien, wat sal bydra tot die alreeds groot aantal werksverliese én die sosiaal-maatskaplike uitdagings in hierdie gemeenskappe vererger.”
Die regering het oor die afgelope aantal jaar meer uit aksynsbelasting en BTW verdien as produsente self. Volgens die nuutste beraming deur SA Wynbedryfinligting en -Stelsels (SAWIS) het die staat in 2020 altesaam R6,2 miljard verdien, teenoor produsente-inkomste van R5.6 miljard. “Dis ʼn risikovrye inkomste vir die regering, terwyl produsente al die risiko dra – ʼn risiko wat eksponensieel toegeneem het in die afgelope jaar,” sê Rico.
Verkopekraan toegedraai
Buiten die groot kostestygings wat nou op produsente afgedwing word, het die wynbedryf in die afgelope jaar na raming R8 miljard in direkte inkomste verloor weens ʼn verbod op plaaslike drankverkope wat oor altesaam 20 weke sedert Maart 2020 ingestel is. Volgens SAWIS het volume van binnelandse wynverkope met 72.7 miljoen liter (20%) gedaal na 290.4 miljoen liter in 2020, teenoor 363.1 miljoen liter in 2019.
Dit was wel bemoedigend dat uitvoervolumes teen 319.2 miljoen liter gelykstaande was aan dié van 2019 – ondanks ʼn vyf weke verbod op drankuitvoere en logistieke uitdagings daarna – én dat die waarde van hierdie wynuitvoere met 7.7% gestyg het na R9.1 miljard. “Ons is dankbaar aan ons oorsese ondersteuners en glo ons sal hierop kan voortbou in 2021,” sê Rico.
Die feit dat plaaslike verkope nou volledig oopgestel is, beteken egter nie dat wynbesighede oornag hul verlore inkomste gaan inhaal nie, sê Rico. Volgens navorsing deur FTI Consulting is daar wel ʼn skielike toename in verkope waargeneem elke keer dat die verbod opgehef is, maar in werklikheid verteenwoordig dit slegs ʼn 10% herstel in verkoopsvolumes. “Hoewel dit volumes skuif en uiters noodsaaklike inkomste inbring, is dit nie volhoubaar of verantwoordelik vir kelders om hul wyne nou teen groot afslag te verkoop nie.”
Die siklus moet voortgaan
“Die wingerd is ʼn lewendige plant; jy kan nie jou produksiepraktyke en -kostes op ys sit omdat jy nie ʼn konstante inkomstestroom het nie. Die siklus moet voortgaan,” sê Rico.
In 2020 het die gemiddelde wyndruifprodusent ʼn netto boerdery-inkomste van R13 951/ha gerealiseer, bykans 32% laer as in 2019 en minder as die helfte van die R36 500/ha wat gemiddeld nodig is vir produsente om ekonomies volhoubaar te boer.
Volgens die Vinpro Produksieplan-opname onder 257 wyndruifplase kan hierdie drastiese afname hoofsaaklik toegeskryf word aan ʼn 8% toename in totale produksiekoste (kontantuitgawes en voorsiening vir vervanging ingesluit) en ʼn skamele 0.53% toename in bruto inkomste. “Ons het oor die algemeen beter reënval in die 2020-seisoen gehad, wat beteken dat groter insette nodig was in terme van bemesting, gewasbeskerming, onkruidbeheer en arbeid. Bruto inkomste op die beurt is ondersteun deur beter opbrengste, wat laer aanvraag en bedryfsgemiddelde pryse tot ʼn mate kon teenwerk,” sê Pierre-André Rabie, senior landbou-ekonoom by Vinpro.
Met arbeid wat teen 40% die grootste deel van kontantuitgawes uitmaak, sal die minimumloonverhoging juis die wynbedryf ernstig raak. Vinpro was teleurgesteld nadat minister Nxesi van die departement van arbeid en indiensneming die wynbedryf en ander landbou-organisasies se vertoë rondom die drastiese minimumloonaanpassing verwerp het. “Ons is bevrees dat produsente in die huidige klimaat bloot nie die minimumloonstyging sal kan absorbeer nie en noodgedwonge minder persone in diens sal neem of na meganisasie sal kyk as meer bekostigbare opsies. Dit sal verreikende sosiaal-maatskaplike gevolge op breër wynbedryfgemeenskappe hê,” sê Rico.
Slegs 23% van die Produksieplan-deelnemers boer teen ʼn wins van meer as R36 500/ha, teenoor 32% wat geensins die mas opkom nie. Nog meer kommerwekkend is die feit dat die produserende hektare aanhou krimp, en die bedryf dalk oor die volgende paar jaar tekorte in sekere (veral premium) kultivars in die gesig sal staar.
Waarheen nou?
“Buiten ooglopende uitdagings rondom voorraadvlakke en kontantvloei, het die afgelope onstuimige jaar ook krake in heelwat kelders en plase se besigheidsmodelle blootgelê,” sê Pierre-André. Hy raai wynverwante besighede aan om vanuit ʼn langtermynperspektief na hul wingerdsamestelling te kyk en ook maniere te vind om kostes regdeur die waardeketting optimaal te bestuur. “Dink byvoorbeeld aan alternatiewe verkoopskanale soos e-handel wat al hoe meer gewild onder verbruikers raak en sekere kostes in die ketting kan verlaag.” Besighede sal ook na verwagting toenemend konsolideer.
“Dit bly vir Vinpro ʼn prioriteit om te verhoed dat die Suid-Afrikaanse wynbedryf en sy waardeketting vorentoe ontwrig word weens ʼn toename in Covid-19-infeksies en hospitalisasies. Daarom gaan ons voort met die hofsaak waarvolgens ons aanvoer dat besluitneming oor ʼn drankverbod vorentoe op provinsiale vlak moet geskied, teenoor die vorige algehele nasionale verbod,” sê Rico. Die hofsaak kom einde April 2021in die Kaapse Hooggeregshof voor. “Intussen is ons baie nou betrokke in verskeie gesprekke op provinsiale en nasionale vlak aangaande wetgewing en ook om die negatiewe persepsie jeens alkohol by besluitnemers te verskuif met bewese feite.
Die organisasie gaan ook voort met verskeie versoeke aan die regering vir finansiële verligting en ondersteuning – waarvan ʼn wyntoerismetoelaag, ondersteuning aan opkomende boere en aksynsuitstel reeds toegestaan is – en hou finansiële ondernemings deurlopend ingelig oor die stand van die bedryf sodat hulle hul wynverwante kliënte tot die beste van hul vermoë kan ondersteun.
Laastens is dit belangrik dat individuele besighede en die bedryf gesamentlik sterk sal fokus op geleenthede in die plaaslike en internasionale mark. “Ons verskeie aksies in die korttermyn is belangrik om die bedryf te stabiliseer, maar dit is werklik belangrik dat ons groei deur middel van verkope en nuwe geleenthede. Vinpro sal baie nou saamwerk met ander vennote en ons lede om soveel bystand as moontlik te verleen en waarde te ontsluit.”
Een van hierdie geleenthede is die volledige heropening van wynhandel in Suid-Afrika vanaf 1 Maart 2021. “Ons is verlig dat die wynbedryf homself teen volle kapasiteit kan herbou noudat drankverkope gedurende normale gelisensieerde voorwaardes mag voortgaan. Kom ons hou aan om ons produkte op ʼn veilige en verantwoordelike manier te verbou, vervaardig, bemark en verkoop, en moedig die verantwoordelike verbruik daarvan aan, met die oog daarop om onsself en ander veilig te hou, en ons bedryf oop te hou.”