Die Suid-Afrikaanse wynbedryf neem kennis van president Ramaphosa se aankondiging vanaand om die verbod op plaaslike handel en verspreiding van alkohol onder waarskuwingsvlak 2 vanaf middernag op 17 Augustus 2020 op te hef, maar sê daar lê nog ʼn lang herstelpad vir die bedryf voor.
“Hoewel ons dankbaar is dat wynhandel en aanlynverkope hervat kan word, is ons steeds oorweldig deur die skade wat die bedryf berokken is deur die tydelike verbod op uitvoere en verlenging van die verbod op plaaslike verkope,” sê Rico Basson, bestuurshoof van die wynbedryforganisasie Vinpro.
“Dis moontlik reeds te laat. Baie wynbesighede het reeds gesluit en ʼn lang herstelpad lê vir die bedryf as geheel voor,” sê Basson.
Die bedryf het na raming meer as R7 miljard verloor sedert die aanvang van die handelsbeperkings in Maart 2020. Na die aanvanklike verbod op plaaslike verkope wat nege weke geduur het, ʼn verbod op uitvoere wat oor vyf weke gestrek het en ʼn tweede plaaslike handelsverbod, beraam Vinpro dat meer as 80 wynkelders en 350 wyndruifprodusente hul deure sal moet sluit oor die volgende 18 maande, tesame met ʼn potensiële verlies van meer as 21 000 werksgeleenthede regoor die wynwaardeketting.
Vinpro werk saam met bedryfsvennote aan ʼn dringende rampherstelplan om die sektor te stabiliseer. Dít sluit in die verlenging van aksynsverligting vir die huidige jaar en die 2021-seisoen, asook die hantering van opeenhopings en uitdagings by die Kaapstadse hawe én oplossings om die huidige wynoorskot van sowat 300 miljoen liter weg te werk.
“Die wynbedryf is gerat om plaaslike handel en verspreiding te heropen met al die nodige gesondheids- en veiligheidsregulasies in plek en daar word hard gewerk om, waar nodig, gedrag volgens verantwoordelike produksie, promosie, handel en verbruik van alkohol aan te pas,” sê Basson.
Uitgereik deur: Vinpro
Medianavrae: Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za