News

Die besluit om plaaslike drankverkope op te skort, soos gisteraand tydens President Cyril Ramaphosa se nasionale toespraak aangekondig is, is ʼn verwoestende terugslag vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Die wynbedryf ly reeds groot finansiële en werkverliese vanweë die vorige verbod onder die nasionale inperking. Dit volgens ‘n verklaring deur die wynbedryforganisasie Vinpro, wat onder aangehaal word.

Lees die regulasies wat gisteraand gepubliseer is, hier.

Ondanks deurlopende samesprekings met die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging (DHNM), veral gedurende die afgelope maand, het die bedryf geen waarskuwing ontvang oor die huidige verbod nie, en geen geleentheid is gegun om met die Nasionale Coronavirus Bevelsentrum (NCCC) te raadpleeg voordat ʼn besluit geneem is nie. Die onmiddellike logistieke probleme wat dit vir verskaffers, verspreiders en kleinhandelaars inhou, is ook geensins oorweeg nie.

Lees hier die gesamentlike reaksie van die SA drankbedryf.

Daar is reeds beraam dat die Suid-Afrikaanse wynbedryf, wat ongeveer 300 000 mense in diens het, bykans 18 000 poste kan verloor en dat ongeveer 80 wynbesighede en 350 wyndruifprodusente hul ondernemings binne die volgende jaar sal sluit ,weens die vorige verbod van vyf weke op uitvoere, asook die verbod op binnelandse wynverkope, wat oor nege weke gestrek het. Die wynbedryf het in hierdie tyd ook sowat R3 miljard aan direkte inkomste verloor.

Alhoewel wynuitvoere mag voortduur, sal die onmiddellike implementering van die binnelandse verkoopverbod ook verdere onvoorsiene gevolge hê, onder andere verdere werkverliese deur die hele waardeketting, wat die lewensbestaan van derduisende mense in gevaar stel. Die aansienlike aantal kleinhandelaars, wyndruifprodusente en wynkelders word die swaarste getref.

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is uniek in die sin dat dit deel uitmaak van die landbousektor, ʼn wesenlike aantal mense in diens neem en gekenmerk word deur ʼn groot aantal klein- en mediumgrootte ondernemings, wat afhanklik is van die binnelandse mark en wyntoerisme. Hierdie besighede sal heel waarskynlik net eenvoudig nie die impak en finansiële druk van ʼn verdere verbod kan absorbeer nie.

Ondanks ons skok en onsteltenis oor die regering se onverwagse besluit, sal ons dringend weer ons beraadslagings met hernude energie opneem – spesifiek met die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging, asook die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling.

Die bedryf het die afgelope week juis met die regering kontak gemaak om ʼn sosiale ooreenkoms tussen besighede, die regering en die burgerlike samelewing te formaliseer. Ons hoop werklik om met hiérdie proses voort te gaan, sodat hierdie partye saam maniere kan vind om gedragsverandering rondom die verbruik van alkohol te bewerkstelling, sonder om die lewensbestaan van individue en besighede in die bedryf te bedreig.

Die wynbedryf het al die nodige voorkomende stappe geneem om veilige en verantwoordelike handel te verseker, terwyl die verantwoordelike en matige verbruik van alkohol aangemoedig word. Die regering moet egter nou ook sý taak opneem om die regulasies te polisieer, insluitend wetstoepassing met betrekking tot onwettige handel.

Vinpro werk ook nou onverpoos om duidelikheid oor sekere praktiese implikasies van die huidige wetgewing te kry, insluitend die vervoer en stoor van wyn en ander aktiwiteite in die wynwaardeketting. Ons kommunikeer dit sodra ons bevestiging van die relevante departemente ontvang het, insluitend die Departement van Vervoer.

NAVRAE:

Vinpro
tel:      +27 (0)21 276 0429
e-pos:  info@vinpro.co.za
web:    www.vinpro.co.za
Vinpro, Ceciliastraat, Suider Paarl, 7646

Go Back