
Die Vinpro-produksieplanopname is die jaarlikse barometer van lewensvatbaarheid en volhoubaarheid van die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Tendense en waarnemings gee ’n landbou-ekonomiese bedryfoorsig.
Kostedruk
Dubbelsyfer koste-inflasie in byna elke kostekategorie regoor die wynbedryf het bygedra tot ʼn besonderse duur 2022-oesjaar. Prysdalings en vertraagde betalingsvoorwaardes, voortspruitend uit die voorraadsituasie en verbod gedurende die grendeltydperk, het tot kontantvloeidruk en -beperkings gelei. Die bruto-inkomste vir die 2022-oesjaar het danksy prysverhogings gestyg, maar hierdie stygings was nie naastenby genoeg om die dubbelsyferkostestygings te verreken nie, met ʼn jaar-tot-jaar-daling in winsgewendheid per hektaar. Kontantvloeidruk en -beperkings het besteding aan dag-tot-dag uitgawes en kapitaalvervangingsbesluite beïnvloed.
Lae aanplantingspersentasies
2022 teken die laagste aanplantingspersentasie in die afgelope vyf jaar aan en verteenwoordig ongeveer die helfte van wat nodig is om die huidige wingerdstand in stand te hou. Veroudering van wingerdstokke bly ’n konstante kommer met van die laagste aanplantingspersentasies die afgelope dekade, wat vanjaar aangeteken is.
Die wynbedryf sien ʼn domino-effek afspeel en ’n kantelpunt is op die horison weens ’n lang tydperk van onvolhoubare winsgewendheid. Dit kan op ʼn streekspesifieke kultivarbasis gesien word, en dit sal in die volgende seisoene na ’n kultivar en dan na ’n streeksbasis uitbrei. Jaarlikse produksiekoste is nie net beperk tot kontantuitgawes nie; kapitaalitems word ook oor tyd verbruik en die vervanging van sulke items word as belangrik beskou om langtermynvolhoubaarheid te verseker.
Die belangrikheid van kapitaalvervanging kan nie onderskat word nie. Versuim om voldoende vervanging te prioritiseer vertraag bloot die onvermydelike. Vervanging van ouer wingerdstokke het ’n wesenlike aandeel in kapitaalvervanging, wat dikwels vermy, geïgnoreer of uitgestel word. Die bedryf is in ’n kommerwekkende situasie wat die veroudering van wingerde betref. Tans is minder as 10% van die bedryfswingerde drie jaar oud of jonger met byna 50% van wingerde 16 jaar of ouer. Terwyl die wingerdstokke wat tussen die ouderdomme van vier en 15 jaar oud is – verantwoordelik vir die grootste deel van die oes – soortgelyk op die oppervlak voorkom, dui die lae aanplantings op ’n ontnugterende situasie in terme van rouproduksekuriteit vir die toekoms.
Nie-volhoubare gemiddelde bruto-inkomstevlakke belemmer produsente se vermoë om voldoende kapitaalvervanging te maak. Aangesien sommige wingerdstokke eenvoudig te oud is, en die hervestigingsproses te stadig is, word verwag dat aansienlike tekorte aan sekere variëteite in die volgende paar jaar sal ontstaan. Aangesien vervanging vertraag word, oorskry wingerde, geboue en los items toenemend bedryfstandaarde vir ʼn aanvaarbare leeftyd. Gevolglik word hulpbronne toegeken aan gewasse wat ’n hoër netto plaasinkomste behaal. Eersgenoemde is duidelik sigbaar in die bedryf as in ag geneem word dat die oppervlakte wat onder wingerd in die Suid-Afrikaanse wynbedryf aangeplant is, nie net besig is om te kwyn nie, maar dat die algehele wingerdstand ook proporsioneel elke jaar verouder.
Kultivar-spesifieke aksies
Met die wingerdstand wat by ’n kantelpunt staan, kan moontlike tekorte aan spesifieke variëteite in die komende oesjare realiseer. Hierdie verskynsel sal waarskynlik streeksgewys wees en lei tot ʼn situasie wat die proporsionele bydrae van streke binne die Suid-Afrikaanse wynbedryf sal verander; ’n situasie wat beide bedreigings en geleenthede kan bied.
’n Strukturele verskuiwing in die algehele streeksamestelling van die Suid-Afrikaanse wynbedryf, asook in die ouderdomsamestelling van streekspesifieke wingerdstokke, kan waargeneem word. Dit is nie noodwendig negatief in gevalle waar baie wingerdstokke en spesifieke kultivars voorheen geplant is in gebiede waar hulle nie die beste geskik is nie (wat waarskynlik ook nie vervang moet word nie).
Die afgelope twee dekades het ons lesse geleer oor die waarde van virusvry plantmateriaal en die regte kloon- en onderstokkeuses teenoor die destydse eenvoudige oorweging van die beste beskikbare plantmateriaal. Die tyd het aangebreek vir doelgerigte, kultivarspesifieke aksies, met ʼn goue kinkel wat dwarsdeur die waardeketting moet loop. Van die voetsoolvlak (die produsent), deur die kelder en handelaar, tot by die verbruiker – elkeen moet hul regmatige waarde ontvang. Met aansienlike winsgewendheidverskille tussen kultivars bied dit ’n oorweging- en onderhandelingspunt met kopers. Die kwessie gaan dus lankal nie net oor of ons wynhektare verloor nie, maar eerder in watter streek en watter kultivar(s) aanbod kwyn.
Skaars rooi kultivars
Baie van die rooi kultivars sal binnekort al hoe skaarser word weens ’n gebrek aan wingerdvervanging. Dit sal nie net tot druiwepryslopies lei nie, maar ook handelsmerkeienaars dwing om druiwe in nie-tradisionele aankoopgebiede te soek, risiko’s te neem en selfs ander kultivars te oorweeg om rou produk te verseker. Teen bogenoemde agtergrond, die meer in-balans voorraadsituasie wat vir die einde van 2023 geprojekteer word, en die wankelrige ouderdom van die wingerdstokke, wink baie geleenthede op die horison. Produsente met die regte grond, kultivarsamestelling en wyndoelwit vir ’n spesifieke verkoopskanaal of mark binne sekere streke sal binnekort die oorhand hê.
Die volledige resultate van die Vinpro-produksieplanopname word in die April 2023-uitgawe van WineLand gepubliseer.
