News

Nuwe aanplantings wys watter koers die Suid-Afrikaanse wynbedryf inslaan. Maar bied die klem op opbrengs dalk rede tot kommer? 

Waarvoor behoort die Suid-Afrikaanse wynbedryf bekend te staan? Vir wyne wat verbruikers goeie waarde vir geld bied? Of vir gehaltewyne? Bedryfskenners sê nuwe aanplantings wys reeds waarop gemik word, en volgens party bied dit rede tot kommer. 

Chenin Blanc, Colombar en Pinotage – en klone daarvan wat bekend is vir hoë produksie – is bo-aan die lys van kultivars wat aangeplant word. Aan die ander kant is daar kommer oor die skerp daling in aanplantings van druifsoorte wat bekend is vir hul gehalte, soos Cabernet Sauvignon, terwyl daar tekorte voorspel word vir gehalte Chardonnay.

Wat is die boodskap wat hierdie tendense oor die toekoms van die Suid-Afrikaanse wynbedryf uitstuur? Volgens die bostaande wil dit voorkom asof die land, wat vir net 4% van die wêreldwye wynproduksie verantwoordelik is, hom as ’n laekoste-hoëproduksiewynland rat. Daar is ál meer bedryfsrolspelers wat hul kommer oor hierdie tendens uitspreek.

Kweek vir kwantiteit

Die uitvoerende hoof by Voor-Groenberg Kwekery, Johan Wiese, reken die bedryf se fokus is verkeerd: “Ek moet erken dat ek wonder of ons die regte rigting inslaan. Daar word te veel korttermynbesluite geneem wat aanplantings betref en gehalte ly daaronder.” 

Volgens Johan het ekonomiese druk daartoe gelei dat produsente wat hulle op grootmaatwynproduksie toelê nou geld maak, maar dit is gevaarlik as volume die grootste dryfveer word – veral op die lange duur. “Die boodskap is uit. Groot kopers soek nie A+ wyn nie. Hulle soek B- wyn, teen ’n winskoopprys. Dit wys in aanplantings en algemene wingerdbestuur,” verduidelik hy.

Omdat produsente onder soveel druk is, sien hulle ook nie kans vir die risiko van minder bekende kultivars nie, al is hierdie ander druifsoorte moontlik juis geskik vir Suid-Afrika. “Om regtig te kan verstaan of opsies soos Grenache, Verdelho, Alberino of selfs Malbec werklik potensiaal het, moet dit in verskillende streke aangeplant word. Ons gaan egter oor 10 jaar steeds nie weet nie, want te min mense doen dit!”

Buitelandse geld is, volgens Johan, van kritiese belang: “Ons is nie uniek nie – daar is heelwat buitelandse beleggings in Bordeaux. Dieselfde geld vir Chili en Argentinië, waar buitelanders aansienlik groter kelders oprig as in Suid-Afrika.”

Johan reken daar is ’n groot behoefte aan ondernemings wat meer soos familie-ondernemings dink en langtermynbesluite neem, waarvan die vrugte oor 30 jaar ook gepluk gaan word: “Ons moet meer begin dink aan wat die gevolge is van wat ons nou doen, want baie van die besluite wat ons nou neem, bewys ons nageslagte geen guns nie.”

Die hoof van Vititec, Nico Spreeth, stem saam dat die duidelike swaai na hoë produksie, met gehalte as nagedagte, ’n baie groot risiko vir die bedryf is. Dit het egter nie daartoe gelei dat gehalte uit die oogpunt van plantmateriaal en -verbetering agterweë gebly het nie. Inteendeel, die bedryf is, volgens Spreeth, gerat vir wanneer die wiel draai en gehalte weer, “soos dit hoort”, ’n prioriteit is. 

“Vititec het die afgelope jare onder andere twee nuwe Sauvignon Blanc- en drie Grenache-klone ingevoer, juis met die oog op gehalte Net so word daar gekyk na ‘nuwe’ kultivars soos Piquepoul Blanc en Vermentino, ook vir gehalteproduksie,” voeg Nico by. 

Volgens hom lê die aanvraag na nuwe kwaliteitklone en -kultivars by ’n handjievol landgoedere, maar is hierdie pioniers besig om die weg te baan vir wanneer die behoefte ook op groter skaal ontstaan.

Die uitvoerende hoof van Lelienfontein Wingerdkwekers, Petrus Bosman, meen korttermynbesluite is die gevolg van ’n strukturele wanbalans in die wynbedryf, wat nie ’n eenvoudige oplossing het nie. “Produsente wat aanplant, doen dit om kop bo water te hou, al is dit op kort termyn. ’n Vername rede hiervoor is egter dat die vet in die waardeketting nie by die produsent lê nie. Slegs as die produsent beloon word vir kwaliteitdruiwe kan hierdie situasie volhoubaar reggestel word,” verduidelik Petrus.

Totdat dit nie gebeur het nie, laat die tonne die balansstaat klop. Dit wys in stokkieverkope. Die aanvraag na Ramsey het die hoogte ingeskiet, ondanks die feit dat dit een van die duurste onderstokke is. “Ramsey het ’n baie lae vatpersentasie in die kwekerye. Glo my, die kwekers sal ook ’n terugswaai na Richter 110 en kwaliteitproduksie verwelkom,” verklaar Petrus spottenderwys sy belange.

Van blokseleksie tot minimum insette

In die 1990’s het alles om gehalte gedraai: blokseleksie en wingerdpraktyke om die beste gehalte te lewer – ook by produsentekelders. Dit was, volgens die bestuurder van VinPro se konsultasiedienste, Francois Viljoen, sigbaar in die aard van die projekte waarby hy en sy span in daardie jare betrokke was. 

“Vandag is dit egter ’n heel ander saak. Dis produksie, produksie, produksie, met minimum insette en meganisasie bo-aan die lys. Gehalte betaal nie, dus is langtermyndenke grootliks van die tafel gevee,” sê Francois. Volgens hom staan direksies onder druk om te oorleef en word korttermynbesluite geneem, bloot om kop bo water te hou.

Francois vra of die bedryf nie besig is om homself in die voet te skiet nie: “Daar is min mense wat sal stry dat gehalte ’n hele bedryf, enige bedryf, lig. Die volhoubaarheid van die rigting waarin ons nou beweeg, is vir my ’n bron van kommer.” 

Die stelling van “verhoogde opbrengste, met behoud van kwaliteit” word volgens Francois heeltemal uit verband geruk, met die grense van produksie wat gedurig verskuif word. “Die volhoubaarheid hiervan is die groot vraag. Hoe lank kan stokke dit volhou?” vra Francois, wat sy mening met langer as 30 jaar ervaring staaf.

Dit gaan oor verkope

’n Beter begrip van die volle waardeketting is toenemend belangrik vir sinvolle besluite, ook in die wingerd. DGB se wingerdkundige, Stephan Joubert, vertel dat die beginsel van produksie volgens wyndoelwit in die 1990’s en vroeë 2000’s op almal se lippe was, maar dat dit nou eers werklik toegepas word.

Dit word bewys deur die toename in Smart-Dysan- en ander alternatiewe stelsels, nadat feitlik alle wingerde vroeër opgelei is met vertikale lootposisioneringstelsels – wat vir kwaliteitproduksie aangewend word.

Hy stem saam met Francois dat daar beperkinge is wat betref hoër opbrengste met behoud van gehalte – hoewel ’n wingerdspesifieke benadering volhoubare suksesse teweeg kan bring. “Aan die een kant is daar suksesstories van gehalte Sauvignon Blanc-blokke wat die somme laat klop met opbrengste wat deur Smart-Dysan-stelsels van sewe tot 11 ton per hektaar verhoog is. Die teenoorgestelde hiervan gebeur egter ook, waar wingerde met té hoë drag tydens hittegolwe heeltemal gevou het,” sê Stephan.

Wat nuwe kultivars betref, het Stephan ’n eenvoudige verduideliking: “Malbec het ongelooflik baie potensiaal in Suid-Afrika, maar hoe regverdig jy meer aanplantings as dit eintlik Merlot is wat verkoop? Enige kelder kan net soveel Malbec verkoop as wat die mark wil hê. Die res word noodgedwonge as ‘droë rooi’ teen ’n laer prys verkoop.”

DGB se gehaltewyne word by hul eie kelders – soos Boschendal en Franschhoek – gemaak, terwyl intreevlakwyne ingekoop word, juis omdat produksiekoste by hul eie kelders hoër is as by produsentekelders wat ingestel is op hoë volumes. “Fyn vooruitskattings is baie belangrik. As ons gewaarborg is dat ’n sekere premiewyn gaan verkoop, kan ons met selfvertroue meer vir die druiwe betaal. As dit nie gebeur nie, is dit egter ’n risiko, waarvoor daar voorsiening gemaak moet word,” verduidelik Stephan.

Beperkte ‘hefbome’

Met meer druk op produsente om druiwe teen laer koste te lewer, is hoër tonne per hektaar een van die beperkte hefbome wat produsente nog het om winsgewend te wees. 

Die mark bepaal, volgens Erhard Wolf, die bestuurder van druiwe- en wynvoorsiening by Distell, teen watter pryspunte wyn volhoubaar gekoop word en dit het weer ’n uitwerking op die prys en gehalte van die wyn wat deur Distell aangekoop word. “As ons pryse nou teen R2 per liter opgaan, sal ons net die helfte van die wyn kan verkoop en uiteindelik minder druiwe en wyn kan aankoop. Dit word deur die mark voorgeskryf en ‘die mark’ is nie net wyn nie, maar alle alkoholiese dranke,” verduidelik Erhard. 

Distell se groei is, volgens Erhard, op hierdie tydstip in laerprysvlakprodukte, wat ’n aanvraag teweeg bring vir druiwe wat teen laer koste verbou is. Wat die kwessie van hoër opbrengste “met behoud van kwaliteit” betref, reken Erhard dat dit ’n dekade gelede veral rooi kultivar-wingerde was wat bestuur is om lae tonne te lewer, hoewel dit nie noodwendig die toepaslike benadering was nie. Dit was ’n fout,” beklemtoon Erhard.

Hy meen dat daar gevalle is waar daar nou weer oormatig geproduseer word. “VinPro se produksieplan wys egter uit dat daar produksie-eenhede is wat te klein is om volhoubaar winsgewend te wees. Daar is produsente wat al moes uitklim en daar is ook produsente wat al moes hervestig,” verduidelik hy.

Erhard waarsku dat dit ’n fout is om net in produksie vas te kyk: “Die bedryf moet kyk na ander hefbome. Aksyns is een daarvan, veral wat brandewyn betref, terwyl internasionale handelsooreenkomste ook van kritiese belang is.” 

Volgens Erhard is die Wine Industry Strategic Exercise (Wise) van deurslaggewend belang vir bogenoemde, maar ook vir Suid-Afrika om traksie te kry op hoër pryspunte. Selfs ondanks die feit dat daar ’n duidelike skuif in produksie is van gehalte na hoër volumes, reken Erhard dat daar genoeg goeie wingerde is wat topgehalte wyn kan produseer, vir wanneer daar ’n groter behoefte daaraan is. “Ek is oortuig Suid-Afrika kan, veral met witwyn, die sprong maak. Daar is genoeg verborge kwaliteit wat steeds nie ontsluit is nie,” beklemtoon hy. 

Gepubliseer in die Julie 2015 uitgawe van WynLand tydskrif. 

“,233

Go Back