News

Bevorder SEB en private energievoorsiening gesamentlik só

Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) is vandag uiters belangrik binne elke besigheid in Suid-Afrika. Vinpro bied op 23 Mei ’n werkwinkel aan wat verskeie aspekte van Swart Ekonomiese Bemagtiging asook energie-finansiering op ’n praktiese en eenvoudige manier sal toelig.

Strategie en inspirasie – SEB vir môre

Die oggendsessie skop af met Wendy Petersen, uitvoerende bestuurder van Suid-Afrikaanse Wynbedryf Transformasie Eenheid (SAWITU) wat die transformasie rol binne die nuwe sambreelliggaam vir die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynbedryf, SA WINE, sal toelig in terme van die diensvlakooreenkoms met Vinpro asook die vordering met die Europese Unie Development Cooperative Instrument (DCI) -fonds.

Hierna gesels Margaret Mohape, voorsitter van die Agri-SEB handvesraad, oor die raad se 10 jaar lange reis, waarna sy ook kortliks ’n opdatering sal gee oor enige Agri-SEB wysigings wat op die horison is.

Een van die hoogtepunte van die dag is die DGB-gevallestudie wat die maatskappy se toegewydheid tot ’n sterker SEB-telkaart, sowel as lesse daaruit geleer, sal toelig. Madelaine Adams van DGB en Hansie Fourie van Business Beyond Boundaries is hier aan die woord en deel DGB se reis met SEB asook die maatskappy se opname van verskeie elemente op die SEB-telkaart. DGB ondersteun ook ’n Jeug Indiensnemingsontwikkelingprogram (YES for Youth).

Nog ’n interessante stem is die van Arlene Wilson-Max, toonaangewende implementeerder van verskeie YES-programme. Arlene is in diens van die BEE Chamber waar sy ook SED-beleggingsgeleenthede vir lede soek. Vind uit hoe om twee vlakke op jou SEB-telkaart te kry deur aan ʼn YES-program deel te neem.

Hierna deel Johan Giliomee, senior konsultant vir Solve SA en voormalige transformasie- en ontwikkelingsbestuurder by Vinpro, sy kennis rondom die praktiese en nuttige handleiding vir ondernemings in die wynbedryf as hulpmiddel om SEB-bydraes te verbeter.

Finansiering van hernubare energie

Die middagsessie van hierdie inligtingsdag fokus op finansies – hoe finansier jy hernubare energie en hoe benut jy die dienste van energieverskaffers in swart besit om beurtkragkoste in jou wynkelder op te los? Wil jy swart beleggers lok en ’n transaksie beklink?

Mark Boshof, hoof van volhoubaarheid en klimaatveerkragtigheidstrategie van Nedbank, bespreek die finansiering van hernubare energie in kelders. Nedbank is bekend vir finansiering van hernubare energie en het ’n groot belangstelling in ondernemings in swart besit. Mark sal fokus op Nedbank se reeks modelle en dienste in hierdie omgewing.

Abonga Nkwelo, direkteur van Sinani Energy, verduidelik verder hoe om die dienste van energieverskaffers in swart besit te benut om beurtkragkoste in die wynkelder op te los. Sinani Energy het ’n stel Solar PV-transaksies, sommige op-balansstaat en ander buite-balansstaat geleenthede. Abonga verduidelik hoe die ooreenkomste ontwerp is om SEB-erkenning te optimaliseer deur middel van verskafferfinansiering, huurooreenkomste ondernemingsontwikkeling, verskafferontwikkeling en sosio-ekonomiese ontwikkeling.

Gary Conway van Transformation Solutions gesels voorts oor geleenthede om swart entrepreneurs na vennootskapsooreenkomste te lok. As vryskutfondsinsamelaar en iemand wat besighede met mekaar verbind en voorheen senior bestuurder by Landbank was, deel Gary verskeie interessante lesse waaruit almal kan leer.

Ondersteuning aan mense met gestremdhede word hoog op enige SEB-telkaart geag. Light Skill Chain, ’n maatskappy wat uitstekende resultate toon met vaardigheidsontwikkeling in hierdie demografie, is deel van die dag se program waar Rustim Ariefdien ervarings en geleenthede in die veld sal deel.

Fokus op ondernemings- en verskaffer- én vaardigheidsontwikkeling

Twee paneelbesprekings fokus op finansieringsoplossings wat beskikbaar is vir energieverskaffers in swart besit en hoe om hulle toe te rus om ’n bekostigbare verhuringsoplossing aan wynkelders te bied, asook vaardigheidsontwikkeling en die relevansie van werkgebaseerde vaardigheidsplanne.

Die werkwinkel vind plaas by Franschhoek Wynkelder op 23 Mei. Sitplekke is beperk en besprekings noodsaaklik. ’n Virtuele opsie is beskikbaar vir diegene wat aanlyn wil deelneem. Bespreek vandag nog jou sitplek by phil@vinpro.co.za.

 

 

Go Back