News

In die aanloop tot die 2021-wyndruifoes werk Suid-Afrikaanse produsente en wynkelders nou saam om enige verdere negatiewe gevolge van beperkings op drankverkope sedert Maart vanjaar te probeer verminder. Ongeag die uitdagings, bly die fokus op gehalte.

Die woord “rampherstelplan” word gereeld gebruik wanneer daar gepraat word oor die strategie om wynverwante ondernemings te herbou na afloop van ʼn vyf-weeklange verbod op drankuitvoere en onderbroke 19weeklange verbod op plaaslike verkope namate Suid-Afrika deur die onderskeie Covid-19-inperkingsvlakke beweeg het.

Ingrypings sluit die aansoek om finansiële verligting van die regering in, bevordering van plaaslike verkope, uitvoere en wyntoerisme terwyl onwettige handel aangespreek word, en dan ook die verlaging van huidige voorraadvlakke.

Volgens Vinpro en SAWIS (Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting & -Stelsels) beskik die bedryf tans oor ongeveer 250 tot 300 miljoen liter ongekontrakteerde wyn – bykans gelykstaande aan die jaarlikse plaaslike wynverkope – wat ernstige afwaartse druk op wynpryse tot gevolg kan hê.

Covid-19 is egter nie alleenlik vir die wynoorskot verantwoordelik nie. Tydens die Nedbank Vinpro Inligtingsdag in Januarie vanjaar het Vinpro-bestuurshoof Rico Basson die bedryf aangemoedig om deur die loop van 2020 ʼn addisionele 100 miljoen liter wyn te verkoop, met behoud van gehalte en prys. Die vorige jare se droogte het tot kleiner wynvoorrade en gevolglike hoër wynpryse bygedra. In reaksie op die hoër pryspunte het die volume van uitvoere en plaaslike verkope gedaal terwyl die Noordelike Halfrond se volumes teruggebons het. Teen die einde van 2019 het Suid-Afrikaners ook finansiële druk ervaar, wat ʼn negatiewe effek op verbruikerspandering, insluitend op wyn, gehad het.

Toe kom Covid-19-beperkings op drankverkope wat verder tot die wynsurplus bydra en ʼn besorgdheid by heelwat wynbesighede skep dat daar moontlik nie genoeg kapasiteit in die kelders gaan wees om die 2021-oes vanaf middel Januarie volgende jaar in te neem nie.

Terwyl wynbedryfliggame nou saam met verskeie produsentekelders en distilleerders werk om alternatiewe gebruike vir vanjaar se wynoorskot te identifiseer, en ook met vervaardigers van vrugtesapkonsentraat praat om ʼn gedeelte van die 2021-oes in te neem, kyk wyndruifprodusente en kelders noukeurig na hul wingerde en maak aanpassings in die manier waarop hulle vir die 2021-oes voorberei.

Wingerd- en kelderoorwegings

In die lig hiervan het ʼn groep wingerdboukundiges van regoor die Suid-Afrikaanse wynbedryf onlangs die 2021-oes bespreek. Terwyl groter kelders voormalige wyntenke restoureer of addisionele tenke aankoop ter voorbereiding vir die nuwe oes, kyk kleiner kelders na ander maniere om kelderkapasiteit te bestuur. Dit sluit die uitkapping van niewinsgewende wingerde en aanpassings in wingerdpraktyke in om kostes te verminder en die oesgrootte te beheer met behoud van gehalte.

In ʼn tyd wat finansies onder druk is, moet produsente bepaal of hulle tans sekere wingerdblokke aan die lewe hou wat hulle meer kos as die inkomste wat dit inbring. Volgens Vinpro se senior landbou-ekonoom Pierre-André Rabie stel die Vinpro Produksieplan-opname – ʼn finansiële maatstaf vir primêre wyndruifproduksie – die deelnemende produsente in staat om winsgewendheid tot op wingerdblokvlak te ondersoek .
“Ons kan bepaal watter blokke produseer nie, weens ouderdom (te jonk of te oud), wat probleme met groei of opbrengs ondervind en wat nie hul dag-tot-dag uitgawes dek nie, omdat hulle nie die gehalte produseer wat nodig is om goeie wyndruifpryse te behaal nie,” sê hy. Wingerdblokke wat nie goeie opbrengste of gehalte behaal nie, of waarvoor die produsent nie ʼn koper het nie, kan oorweeg word vir uitkapping.

“Heelwat groter produsentekelders maak planne om die 2021-oes te akkommodeer en druiweprodusente wat aan hulle lewer het nie noodwendig nodig het om hul opbrengste te verlaag nie. Maar hoekom sal jy ʼn wingerd aanhou wat nie vir jou enige geld inbring nie?” vra Gert Engelbrecht, Vinpro-wingerdboukundige vir die Olifantsrivierstreek. Deur niewinsgewende wingerde uit te kap, kan produsente ook voldoende watervoorsiening aan die oorblywende winsgewende wingerde verseker om selfs beter opbrengste en gehalte te behaal.

Vinpro-wingerdboukundige Hennie Visser sê in die Robertson-streek bly produsente gefokus op gehalte. “In ʼn tyd waarin produsente normaalweg volumes sou wou najaag omdat hulle weet die gemiddelde wynpryse kan daal weens die groter voorraad, beveel ons egter sterk aan dat hulle voortgaan met die nodige insette en praktyke om kleiner volumes, maar hoër gehalte druiwe af te haal,” sê hy. Premie-wynpryse gaan na verwagting onveranderd bly.

Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se konsultasiediens sê privaatkelders en kleiner wynlandgoedere het veral hul snoeipraktyke op gehalte toegespits.

Die term “green harvesting” – die verwydering van trosse van die wingerdstok voordat dit ryp is – is ook genoem as ʼn manier om die oes te krimp en die algehele gehalte op te stoot. Volgens Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se Gen-Z Wingerdprojek, kan hierdie praktyk tydens twee spesifieke stadiums uitgevoer word. “Eerstens, tydens die ertjiekorrelstadium, word alle trosse op kort en swak lote verwyder aangesien hierdie lote wat ʼn kleiner blaaroppervlak het nie in staat sal wees om die trosse behoorlik ryp te maak nie. Die tweede stadium is by 70% tot 80% deurslaan, waartydens alle trosse verwyder word wat minder as 50% verkleur het, aangesien hierdie trosse nie gaan opvang met die res van die trosse nie, en tot ʼn algehele laer gehalte kan bydra.”

Die druiwe word dan tussen die rye gegooi om uit te droog en nie uit die wingerde gery nie om kostes verder te bespaar. “Ons raai produsente nie aan om die druiwe onder die wingerdstok te los nie. Dit kan tot verrotting lei en ʼn broeiplek vir verskeie ander siektes skep, wat ʼn langtermyneffek op die wingerd kan hê,” sê Francois.

Sommige produsente kyk ook na die opsie om geen aksies op geselekteerde wingerde uit te voer nie – sogenaamde “mothballing”. Volgens Conrad toon ervaring binne die Suid-Afrikaanse konteks dat ʼn lang herstelpad voorlê vir wingerde wat op hierdie manier hanteer is, en dat produsente oor die langtermyn selfs meer hulpbronne moet aanwend om te verseker dat hierdie wingerde weer na hul voormalige produksiestatus terugkeer.

Nog ʼn opsie is om wingerde uit te kap wat met stamsiekte of Eutypa (tandpyn) infeksies besmet is. Hierdie praktyk was effektief gedurende die droogte en stel produsente in staat om nuwe wingerdgroei op die bestaande prieelstelsel op te lei. Enige trosse word ook hierdeur verwyder, wat die algehele oes verlaag. Die insette op hierdie blokke is gewoonlik minder as met ʼn blok wat ten volle produktief is.

Conrad stel egter voor dat oesbeheerpraktyke soos “mothballing” en die uitkap van wingerde slegs as laaste uitweg toegepas moet word. “Bepaal eerstens of kelderkapasiteit wel ʼn uitdaging in jou geval is, en indien wel, of jy met ander kelders sal kan saamspan, voormalige tenke kan restoureer of in aanvullende stoorspasie kan belê. Bepaal daarna of jy oor enige niewinsgewende wingerdblokke beskik wat uitgekap moet word, en kyk dan laastens na alternatiewe praktyke om insetkostes of volume te verlaag. Wat jy ook al besluit om te doen, moet nooit gehalte inboet nie en hou die langtermynvolhoubaarheid van jou wingerd in gedagte.”

Vir gespesialiseerde raad in die wingerd, kontak Vinpro se streekswingerdboukundiges by hierdie kontakbesonderhede.

Go Back