News

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is verlig dat Nasionale Tesourie deur die aankondiging van die nuutste aksynsbelastingkerwe begrip toon vir die finansiële realiteite wat wynbesighede in die gesig staar.

Mnr Enoch Gondwana, Minister van Finansies, het vandag tydens die nasionale begrotingsrede aksynsverhogings van 4.9% op wyn en brandewyn aangekondig. Die verhoging van slegs 0.7% op vonkelwyn is in lyn met die bedryf se versoek vir ’n vaste tarief, wat Suid-Afrikaanse vonkelwyn met internasionale maatstawwe belyn.

“Ons is dankbaar dat die regering gehoor gegee het aan die pleidooi van ons bedryf,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson. “Vinpro en ander bedryfsorganisasies het in gesprekke met Tesourie oor die afgelope paar maande die benarde posisie van die Suid-Afrikaanse wynbedryf benadruk en versoek dat inflasiegedrewe aksynsbelasting ingestel word. Dít tesame met ander intervensies soos ooreengekom in die Landboumeesterplan (AAMP) sal die wynbedryf in staat stel om die belangrike rol wat dit speel in die ekonomie van die land

én in ons samelewing, te vervul.”

Suid-Afrika het ’n groot en groeiende mark vir onwettige alkohol wat verbruikers toegang bied tot meer bekostigbare alternatiewe, moontlik met meer gepaardgaande skade. “Ons het reeds in die verlede gesien dat ’n abnormale verhoging in aksyns onwettige handel (reeds 22% van die binnelandse drankmark) aanwakker in plaas daarvan om as afskrikmiddel te dien vir diegene wat wyn nie verantwoordelik verbruik nie,” sê Basson. “Beleidsveranderings in die afwesigheid van wetstoepassing sal dus geen impak maak om die misbruik van alkohol teen te werk nie.”

Die halo-effek van wyn en die belangrikheid daarvan vir toerisme, wynuitvoere en die brandewynbedryf moet ook nie onderskat word nie. Suid-Afrika is bekend vir ons wyn en wynplase speel ’n sleutelrol in toerisme. Die wynbedryf dra R55 miljard by tot die BBP (voor Covid) en wyn maak ook ’n groot bydrae tot die uitvoermark met 50% van Suid-Afrikaanse wyn – ter waarde van R10.2 miljard – wat na meer as 130 internasionale markte uitgevoer word.

“In die lig van die ernstige finansiële posisie waarin ons bedryf tans is, het ons nou stabiliteit, beleidsekerheid en finansiële verligting en ondersteuning nodig. Die heffing van aksynsbelastingverhogings in lyn met ons versoek bied ’n mate van verligting aan heelwat wynbesighede wat groot uitdagings ervaar weens die oes wat kleiner voorspel word, die energiekrisis, voorsieningsvoorrade wat uiters negatief beïnvloed word deur die voortslepende oorlog in Oekraïne én dubbelsyferverhogings in insetkostes.”

Vinpro is dankbaar vir die belegging by die Brandvleidam en begrote belegging by Clanwilliamdam en het ook versoek dat die regering aksies soos uiteengesit in die Landboumeesterplan met dringendheid implementeer.

 

MEDIANAVRAE:

Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-mail: wanda@wineland.co.za

 

Go Back