Die Weskus hou selfs vir gesoute Kapenaars ’n mate van misterie in. Die landskap kan nie met een oogopslag ingeneem word nie. Net so weerstaan Namaqua Wines ook enige vereenvoudiging.
WENNERS VAN:
Generaal Smuts-trofee: Rooi versnit
Pietman Hugo-trofee
SA Kampioene: Rooi versnit, Merlot, en Ander rooi
Vir sommige was Namaqua se segetog by vanjaar se SA Jongwynskou ’n verrassing, maar soos enige goeie atleet het hierdie wynmakers presies geweet hoekom hulle op die podium staan. Hulle het ’n lang pad tot daar gestap. Reinier van Greunen het reeds die plan in werking gestel toe hy in 2004 as wynmaker by Namaqua ingeval het. Geskoei op vorige suksesse en onder die wakende oog van Len Knoetze, toe keldermeester maar sedert 2009 produksiebestuurder, het hy en sy kollegas met noukeurige rekordhouding en fyn eksperimentering stelselmatig hul kuns oor die volgende 14 jaar verfyn. Elke sukses is opgeteken en elke mislukking is gesien as ’n kans om waardevolle ervaring op te doen.
Die gevolg was dus amper onvermydelik. Namaqua het hierdie jaar nie net die 66ste Generaal Smuts-trofee opgeraap nie, maar ook drie ander SA-kampioentrofeë ingepalm: die Pietman Hugo-trofee vir die hoogste puntetelling met die vyf beste inskrywings, die Merlot-kampioen en die Ander Rooi-kampioen met ’n Ruby Cabernet. Die wenversnit bevat toevallig ook ’n Merlot en Ruby Cabernet – saam met die pikdonker Carménère – maar moenie die fout maak om te dink dis dieselfde wingerde wat op twee items presteer het nie. Nee, elkeen kom uit sy eie blok en woeker met sy eie talente.
Balans
Dis nie net die druiwe wat die geleentheid kry om hul staal te wys nie. Namaqua se wye verskeidenheid wingerde word hier soos die kleure op ’n kunstenaarspalet ingespan. Die wynmakers identifiseer met die hulp van ’n bekwame wingerdboukundige die blokke waarmee hulle hul meesterstuk gaan skep. Die verskillende druifsoorte word deur verskeie produsente verbou. Oral moet ’n fyn balans gehandhaaf word – tussen drag en kwaliteit, snoei en besproeiing, en almal wat van wingerd tot kelder soos ’n goeie versnit moet saamwerk.
Namaqua se wyne is tot ’n groot mate ’n produk van die uiterste klimaat in die omgewing. Die verste wingerde is slegs 35 km van die see af, en die temperatuur kan binne 24 uur van hoë 40’s in die dag tot enkelsyfers in die nag wissel. Die temperatuurverskille lei tot besondere kleur en geur in die druiwe – en ’n oorvloed van moontlike kombinasies om mee te eksperimenteer.
Kreatiwiteit
Die fokus op eksperimentering loop soos ’n goue draad deur alles wat by Namaqua gebeur. Tegnologie word ingespan om elke moontlike dimensie van die druiwe te ontgin. Reinier het ’n lang lys speelgoed – van termovinifikasie, ’n moerwynfilter en pH-masjien tot die elektrodialise- en alkoholverwyderingsmasjien. Elkeen voeg genoeg waarde by om sy koste te regverdig en selfs ’n paar rande in te bring. Maar nog belangriker, dit laat hom toe om nuwe kombinasies en samestellings te probeer. Sy “laboratorium” is ’n volledige minikelder met eentontenke. (’n Mens wil nou nie juis iets nuuts in een van daardie 200 ton-gistenke probeer nie.) En vir die res, soos vir die jongwynskou-inskrywings, is daar tenke van elke grootte tussenin.
Innovasie
En as iets regtig flop? Len verduidelik Namaqua se filosofie aan die hand van Thomas Edison se woorde toe hy op ’n slag gevra is hoe dit voel om 10 000 keer te misluk het. “Ek het nie een keer misluk nie,” was sy antwoord. “Ek het suksesvol bewys daardie 10 000 maniere kan nie werk nie.”
Dit is ook hoe Namaqua beplan om die dreigende droogte die hoof te bied. Oeste het oor die jare reeds drasties afgeskaal. Alhoewel dit beteken minder druiwe word gepars, gee dit terselfdertyd meer ruimte vir verskeidenheid en meer eksperimentering.
Elke uitdaging word as ’n geleentheid beskou, en elke geleentheid word tot die laaste druppel vir ’n moontlikheid op verbetering getap. Hierdie positiewe benadering het tot ’n kultuur van innovasie en ontwikkeling gelei. Jy kan gewoonlik nie veel aan die grond doen nie, sê Len. Daar is net drie plekke waar jy kan ingryp: by die stokke, die sap en die wyn self. Om dinge op koers te hou en in die regte rigting te stuur werk Namaqua se wynmakers “weg van die bottel”. As gevolg van die droogte is daar byvoorbeeld druk op die Clanwilliam-dam wat die opsies vir besproeiing beperk. Die klem skuif dan na ’n ander punt van die ketting. Met tegnologie tot jou beskikking word die opsies heelwat meer, maar ervaring word dan die bepalende faktor.
Enigiemand wat wonder of Reinier se 14 jaar by Namaqua vir iets tel, kan maar ophou wonder: Elkeen van vanjaar se kampioenwyne is onder sy hande deur.
Wat word van die wenners?
Namaqua se mense ken hul wyn, weet wie hulle is en waartoe hulle in staat is. Die Jongwynskou besweer hard en duidelik ’n hele paar wanopvattings en vooroordele. Vanjaar se prestasies is nie uitskieters nie – dit getuig van jare se voorbereiding en belegging in gehalte en innovasie. Die wyn wat hier gebottel en verpak word, hoef vir geen kelder terug te staan nie.
In hierdie opsig beteken die Pietman Hugo amper meer vir Namaqua se beeld as die Generaal Smuts, sê Len. Dit dui op bestendige, hoë kwaliteit oor ’n breë spektrum. Hul doelwit is om uitstekende waarde te bied, ongeag watter wyn jy in jou mandjie gooi en vir watter geleentheid jy dit koop – soos Michael Fridjhon onlangs uitgewys het, speel hierdie toeganklikheid en positiewe ervaring ’n kardinale rol in die wynbedryf se groei.
Namaqua deel graag wie hulle is en doen daarom moeite om die vrug van al hierdie arbeid met die publiek te deel. Anders as met die meeste ander jongwyne kan verbruikers hierdie kampioenwenners eindelik op die rakke vind.
Die Merlot, wat homself in die verlede ook bewys het deur in 2010 en 2014 as nasionale kampioen aangewys is, sal waarskynlik onder die Spencer Bay-premiumetiket gebottel en verkoop word. Die Ruby sal in versnitte gebruik word, spesifiek onder Cellar Door, ’n etiket wat uitsluitlik vir kampioenwyne op die Jongwynskou gebruik word en dus net in wenjare beskikbaar is. Hierdie wyne is slegs by Namaqua Wines se restaurant, Die Keldery, verkrygbaar.
Die donker perd in die wenversnit was natuurlik die Carménère. Daar is net twee of drie blokke Carménère (minder as 10 ha) in Suid-Afrika aangeplant. Dis soortgelyk aan Merlot, maar hanteer hittetoestande beter. Omdat dit soos die Ruby lyk en bietjie soos die Merlot smaak, het Reinier dit saam met hierdie twee probeer en die resultaat was, soos ons almal nou weet, uiters suksesvol.
Wat Reinier volgende vir hierdie kultivar in gedagte het, is so groot ’n misterie soos die Namakwaland self.