News

Die aksynsverhoging wat deur Nasionale Tesourie ingestel is, sal heelwat wynbesighede ʼn finale nekslag toedien en die ekonomiese herstel van die Suid-Afrikaanse wynbedryf verder kniehalter.

Mnr Tito Mboweni, Minister van Finansies, het vandag tydens die nasionale begrotingsrede ʼn aksynsverhoging van 8% aangekondig vir wyn, vonkelwyn en brandewyn.

“Hierdie volg op die rug van ʼn 16% loon- én 15% elektrisiteitsverhoging wat op plaasvlak geabsorbeer word. Ons is uiters teleurgesteld dat die regering weer eens nie gehoor gegee het aan die pleidooi van ons bedryf nie,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson. “Vinpro en ander bedryfsorganisasies het in gesprekke met Tesourie oor die afgelope paar maande die benarde posisie van die Suid-Afrikaanse wynbedryf benadruk en versoek dat aksynsbelasting met nie meer as 50% van die verbruikersprysindeks (VPI) gelig word nie.

“In die lig van die ernstige finansiële posisie waarin ons bedryf tans is, het ons nou stabiliteit, beleidsekerheid en finansiële verligting en ondersteuning nodig. Die hoër as verwagte aksynsverhoging doen afbreuk hieraan en kan heelwat besighede wat reeds op hul knieë is ʼn finale nekslag toedien, wat sal bydra tot die alreeds groot aantal werksverliese én die sosiaal-maatskaplike uitdagings in hierdie gemeenskappe vererger.”

Die realiteit is dat die aksynsverhogings nie noodwendig die verbruiker se sak raak nie, maar afgewentel word na wyndruifprodusente. Van ʼn gemiddelde bottel wyn wat teen R45 verkoop, het die regering voor die loon-, elektrisiteits- en aksynsverhogings R10.04 uit aksynsbelasting en BTW verdien, teenoor die wyndruifprodusent wat ʼn netto boerdery-inkomste van 77c per bottel verdien het.

Uitgereik deur: Vinpro

Medianavrae:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back