News

Vinpro konsultasiedienstebestuurder, Conrad Schutte, is onlangs vereer as een van Suid-Afrika se topbydraers tot landbou by die Landbouskrywers SA Toekennings 2022. Conrad het die toekenning, Landboukundige van die Jaar vir die Wes-Kaap, ontvang.

Die Landbouskrywers SA-toekennings vereer topboere en -landbouers uit die Noord-, Wes- en Oos-Kaapse landbousektore. Landbouskrywers SA is ʼn verteenwoordigende liggaam van landboujoernaliste wat die bedryf deur middel van tydskrifte, koerante, radio en televisie bedien.

Liza Bohlmann, voorsitter van Landbouskrywers SA, het tydens die glansgeleentheid die wenners geluk gewens en gesê die ontvangers word erken vir uitnemendheid in hul onderskeie velde sowel as uitstaande leierskap in die landbousektor. “Ons word met trots met julle geassosieer en bedank julle vir jul toewyding aan hierdie hoër roeping van landbou.

“Hierdie aand gaan oor meer as om net uitnemendheid te vier. Dit erken ook die belangrike rol wat landbou in elke mens se lewe speel. Ons hele bestaan ​​is afhanklik van die kundigheid, gretigheid en vasberadenheid van groot en klein boere en plaaswerkers.”

Conrad het sy loopbaan as wingerdboukundige sowat 20 jaar gelede begin en vinnig die korporatiewe leer geklim. Hy is reeds die afgelope 12 en ‘n half jaar deel van die Vinpro-span.

Voordat hy by Vinpro aangesluit het, het Conrad drie jaar in die VSA aan die Michigan State University deurgebring om sy kuns te slyp. Daarna het hy as wingerdboukundige by Thelema Mountain Vineyards gewerk. Conrad se akademiese agtergrond sluit ‘n BSc en honneursgrade met spesialisering in wingerdbou en plantpatologie van die Universiteit Stellenbosch in. Hy het ook in 2017 ‘n MBA-graad aan die Universiteit Stellenbosch Nagraadse Bestuurskool verwerf.

In reaksie op die nuus van die toekenning, sê Conrad: “Ek streef daarna om my passie vir interafhanklikheid en diversiteit te gebruik om ander te inspireer om netwerke te benut om ‘n beduidende verskil te maak. Hierdie toekenning sal help om bewustheid te versprei van en aandag te vestig op die nuutgeloodsde e-leerplatform vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf.”

 

 

Go Back