News

DP Burger, keldermeester by GlenWood Wingerde.

Ons gesels elke maand met een van ons lede oor hul besigheid, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee. GlenWood se keldermeester DP Burger sê bestendige gehalte, goeie diens en om buite die boks en binne die soesjirol te dink, het hulle gehelp om tred te hou met die veranderende tye.

 

1. Vertel ons meer oor GlenWood Wingerde

GlenWood, wat 35 jaar terug in Franschhoek gevestig is, het hom oor die jare bly onderskei as een van die voorste Chardonnay-produsente in Franschhoek en die Wes-Kaap. Ons is trots daarop dat ons slegs druiwe van ons eie eiendom gebruik, insluitend die Grand Duc Chardonnay-blok wat nou 34 jaar oud is en steeds uitstekende oeste lewer. Die plaas strek oor 49 ha, waarvan slegs 30 ha onder Merlot-, Shiraz-, Chardonnay-, Sauvignon Blanc-, Semillon-wingerde is.

Die eienaar, Alastair Wood, en ons span hier by GlenWood heg groot waarde aan kontinuïteit. In ooreenstemming hiermee is ek al 28 jaar lank bevoorreg om by GlenWood as keldermeester te werk en is ek ook gelukkig om intensief betrokke te kan wees by alle aspekte van die kelder se ontwikkeling. As teken van ons voortgesette groei is Natasha Pretorius as wynmaker gewerf om my by te staan. Haar passie vir wynmaak het daartoe gelei dat sy in 2016 ‘n meestersgraad in wynbiotegnologie aan die Universiteit Stellenbosch behaal het.

“Eenvoudig, natuurlik, hoë gehalte” bly ons filosofie, met gehalte as ons belangrikste fokusarea in die afgelope jaar. Ons fokus voortdurend daarop om alle prosesse regoor die plaas, kelder en proelokaal te verbeter om produkte en dienste te lewer wat die verwagtinge van ons kliënte oortref. Ons verkope is meer uitvoergerig; 70% van al ons wyne word uitgevoer.

Ons is ‘n klein span van 24 werknemers wat sorg dat ons kwaliteit produkte en dienste lewer.

2. Alle wynverwante ondernemings is die afgelope jaar baie swaar getref deur handelsbeperkings. Hoe moes julle jul besigheid aanpas?

Ons het verlede jaar in November ‘n fynproewer soesjirestaurant oopgemaak en streef daarna om die beste soesji in Franshhoek te lewer, saam met ons bekroonde wyne. Ons fokus nou sterk daarop om die restaurant te bemark om meer voete na die kelder te bring.

Ons beywer ons ook voortdurend daarop om ons kliëntediens te verbeter, om sodoende te verseker dat besoekers ons kelder sal aanhou ondersteun.

3. Parstyd is nou in volle swang. Waar trek julle nou met die pars en wat is jul verwagtinge in terme van die gehalte en grootte van vanjaar se oes?

Ons is net meer as halfpad deur die oes, met al die witwyne wat reeds besig is om in die kelder te fermenteer. Die gehalte lyk uitsonderlik en ons verwag fantastiese wyne. Die opbrengs is ook groter as vorige jare. Ons het seker gemaak dat ons na die wingerde omsien om sulke goeie gehalte druiwe te kan produseer.

4. GlenWood is bekend vir sy fokus op volhoubaarheid (Integriteit- en Volhoubaarheidgesertifiseer, Wieta-geakkrediteer, die Bhabathane-program en die Kaapse Luiperdtrust). Wat is die filosofie agter jul betrokkenheid by al hierdie programme?

Dit vorm deel van ons filosofie rondom “eenvoudig, natuurlik, hoë gehalte”. Om eenvoudige dog hoë gehalte wyne te produseer op die mees natuurlike manier. Ons probeer altyd ons bes om terug te ploeg in die omgewing en om mense te help.

5. Jou boodskap aan ander wynbesighede oor die pad vorentoe?

Hou aan om uitstekende wyne te produseer en wees heeltyd op die uitkyk vir nuwe geleenthede. Wees ook oop vir nuwe idees.

 

Go Back