News

Ons gesels elke maand met een van ons lede oor hul besigheid, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee. Saronsberg se keldermeester Dewaldt Heyns vertel hoe hulle Covid-19 oorleef het deur hul prosesse meer vaartbelyn te maak, maar steeds hul handelsmerk ten alle koste beskerm het.

1. Vertel ons meer oor Saronsberg Kelder

Saronsberg Kelder bestaan uit twee plase, naamlik Waveren en Welgegund, wat in die Tulbagh-vallei geleë is. Een is aan die voet van Saronsberg met oostelike hellings en die ander een strek oor die middel van die vallei. Dit bied ons ʼn wye verskeidenheid grondtipes en mikroklimate om van te kies.

Nick van Huyssteen het die eiendom in 2002 gekoop, die kelder is in 2003 gebou en ons eerste wyn is in 2004 gemaak. Ons produseer ongeveer 550 ton wyndruiwe per jaar. Benewens ons eie produksie, wat hoofsaaklik vir ons premiewynreekse bedoel is, koop ons druiwe en wyn in om in die vraag vir spesifieke medium-prysklas handelsmerke te voorsien.

Hoewel ons Saronsberg as ʼn hoëgehalte wynplaas posisioneer, het ons ʼn produkreeks wat uit ʼn verskeidenheid prysklasse bestaan, van leefstylwyne tot superpremiewyne. Shiraz as kultivar beslaan ongeveer 50% van ons aanplantings en kom voor in 65% van ons gebottelde wyne, hetsy as ʼn enkelkultivar of as deel van ʼn versnit. Maar alhoewel Shiraz ons fokus is, is dit nie al wat ons doen nie. Ons verbou 17 kultivars en glo aan die diversiteit en kompleksiteit wat verskeie kultivars as deel van versnitte kan bied. Die verskeidenheid wynstyle en prysklasse laat ons toe om aan verbruikers alternatiewe van hoogstaande gehalte te bied.

Ons het uit die staanspoor op die plaaslike mark gefokus, daarom is 70% van ons verkope plaaslik en 30% uitvoere. ʼn Lojale Suid-Afrikaanse verbruiker wat in jou handelsmerk glo en jou produk vertrou dien as ʼn buffer teen eksterne wisselvallighede in die mark. ʼn Sterk plaaslike basis en reputasie maak jou ook minder vatbaar vir opportunistiese buitelandse kopers.

Buiten wynproduksie, het ons 16 selfsorg-eenhede, asook konferensie- en onthaalfasiliteite. Daarbenewens het ons ʼn redelike trop Nguni’s in ʼn kruisteelprogram wat kalwers aan die mark lewer. Ons ondersoek ook tans ander ontwikkelingsmoontlikhede soos vrugteverbouing.

Ons wingerd- en wynafdeling het 35 permanente werkers in diens en ons toerisme-afdeling 13. Ons neem in die somer ook 15 seisoenwerkers in diens om met lowerbestuur te help en in parstyd 45 mense vir die handsortering van ons druiwe.

2. Die afgelope jaar was sekerlik die uitdagendste nog vir die SA wynbedryf. Wat glo jy was jul behoud in hierdie tyd, en watter lesse het julle geleer?

Ons primêre fokus was om ons werknemers en kliënte te ondersteun, kapitale uitbreidings tydelik op ys te sit en weldeurdagte bestuursbesluite te neem waarby ons oor die langtermyn baat sou vind. Ons is bevoorreg om deel van ʼn sterk nasionale verspreidingsnetwerk te wees. Ondanks die onderskeie grendelaksies wat ʼn effek op groothandelverkope (B2B) gehad het, het ons privaatverbruikers (B2C) ons nuwe aanlynwinkel ongelooflik ondersteun. Ons skryf dit toe aan 17 jaar se volgehoue bemarkingsaksies en die konstante lewering van ʼn reeks produkte van hoë gehalte wat nie net vertroue by die verbuiker inboesem nie, maar ook waarde bied.

3. Tulbagh word soms beskou as ʼn weggesteekte juweel. Wat maak die streek spesiaal in terme van die wyne wat hier geproduseer word, asook die toerisme-aanbod?

Vanuit ʼn landbou-oogpunt bied die vallei relatief konstante watertoevloei, ʼn wye verskeidenheid grondtipes en mikroklimate, asook ʼn konstante klimaat wat nie aan baie uiterstes onderhewig is nie. Die winters is koud en nat, wat goeie winterrus vir die wingerdstok verseker, en die groeiseisoen is nie juis aan uitermatige droogtes of reën uitgelewer nie. Dit laat ons toe om jaar ná jaar ʼn produk van hoogstaande gehalte te lewer, selfs in die moeiliker jare.

Vir besoekers bied ons ʼn pragtige landelike omgewing, omring deur berge, historiese geboue en ʼn toerisme-ervaring wat nog nie uitermatig gekommersialiseer is nie.

4. Het julle enige opwindende planne in die pyplyn?

Ons het sopas ons 18de oes agter die rug met die meeste van ons wingerde in hul fleur. Ons is besig om onderpresterende wingerde te vervang en ons oppervlak onder wingerd te vergroot. Dit bied die gulde geleentheid om die twee plase se kloon- en onderstokseleksies verder te verfyn. Wingerde wat druiwe van hoogstaande gehalte lewer, dien as ʼn stewige grondslag vir die hoë standaard wat ons vir ons wynhandelsmerke gestel het, en stel ons in staat om die plaas in ʼn hoogs mededingende omgewing relevant te hou.

5. Wat is jou boodskap aan ander kelders en produsente vir die pad vorentoe?

Produsente moet positief wees, entrepeneuries dink en kostedoeltreffende bestuur toepas. Verbruikersgedrag het verander, en daarmee saam dié van handelaars en verspreiders. Dit beteken dat kelders en produsente hul bestaande sakemodelle in weer van nuuts af in oënskou moet neem. Ons weet nog nie hoe lank hierdie veranderinge sal duur en of dit permanent is nie, so dit sou raadsaam wees om nie drastiese veranderinge aan jou werksaamhede te maak nie.

Betrek ook al jou kernpersoneel in die soeke na oplossings vir ons huidige uitdagings, want dit is die gesamentlike bydrae van ons diverse personeel wat in baie gevalle die deurslag sal gee. Wees vorentoe versigtig vir enige bestuurs-, produksie- of bemarkingsbesluite wat nie jou handelsmerk versterk nie, want dit is die krag van jou handelsmerk wat jou deur die moeilike jare gaan dra en in die goeie jare momentum gaan gee.

 

 

Go Back