News

Sarel Meyer, uitvoerende hoof van Stettyn Familiewingerde.

Ons gesels elke maand met ʼn kelder oor hul onderneming, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee. “Neem berekende risiko’s, werk hard, wees nederig, dien jou span en kyk boontoe vir genade,” sê Sarel Meyer, uitvoerende hoof van Stettyn Familiewingerde.

1. Vertel ons meer oor Stettyn Familiewingerde?

Stettyn lê in ʼn asemrowende vallei tussen Villiersdorp en Worcester. Uitgestrekte wingerde word omring deur majestueuse berge, wat ʼn mens van ons proelokaal se voorstoep kan bewonder. Die Botha-familie het Stettyn in 1818 bekom, en die plaas is nou alreeds vir agt generasies in die familie. Die uitgebreide familie maak sedert 1963 wyn hier, maar het eers in 2001 hul eerste wynetiket vrygestel.

Met 438 hektaar aangeplante wingerde, waarvan 70% wit en 30% rooi druifsoorte, het ons gemoderniseerde kelder die kapasiteit om 10 000-ton druiwe elke jaar te pars. Ons het die voordeel om spesifieke wingerdblokke te kan identifiseer om die verlangende kwaliteit te produseer vir beide grootmaat- en bottelproduksie, en handhaaf ʼn gesonde balans tussen uitvoere en plaaslike verkope.

Ons streef deurlopend daarna om verbruikers se verwagtinge te oortref. Kwaliteit is ononderhandelbaar en dryf alles wat ons doen regdeur die verpakte en grootmaatwyn-waardeketting. Kwaliteit begin immers in die wingerd!

Stettyn het onlangs ons klein proelokaal uitgebrei na ʼn meer kontemporêre toerismebestemming, wat vir ons ʼn welkome addisionele inkomstestroom bring. Die proelokaal bied wêreldklas kaasborde, vleis en oesters saam met ons uitnemende wynreeks, en bly dit ʼn gesogte adres vir plaaslike en internasionale toeriste. Regoor al die besigheidsaktiwiteite, neem Stettyn 15 permanente personeel in diens.

Verhoudings bly die kern van die wynbedryf en ons stel dit hoog op prys by Stettyn. Ons beskik oor ʼn diverse en dinamiese raad wat vinnig besluite kan maak, gebaseer op die regte inligting.

2. Wat glo jy was jul behoud in die afgelope bykans twee uiters uitdagende jare?

As ʼn span het ons meer as ooit vantevore op ons Hemelse Vader vertrou. Ons het die besigheid in winssentrums verdeel en eienaarskap met duidelike heinings en hekkies uitgemerk en in plek gestel. Verder het ons besef dat dit goeie spanwerk gaan verg om deur die Covid-droogte te kom. Ons het weggebly van spekulasie. Begrotings is haarfyn opgestel en maandeliks belyn.

3. Wat maak jul streek anders in terme van wyndruifverbouing?

Stettyn se plase het ʼn unieke kombinasie van grondtipes, klimaat, topografie en ligging, tesame met oorvloedige flora en fauna. Na ʼn wetenskaplike ondersoek deur die Wyn- en Spiritsraad is Stettyn goedgekeur as ʼn Wyn van Oorsprong-gebied.

Ons is dan ook op die drumpel tussen die koeler, natter Boland en die strawwer, droër Karoo. Die ysige winters laat dormansie in die wingerde toe, terwyl die omliggende berge genoeg water opvang vir die warm somermaande.

4. Het julle enige opwindende planne in die pyplyn?

Stettyn het ʼn uitgebreide wingerdvernuwingsprogram en fokus op ʼn platinumstrategie waardeur ons ons beste wingerdblokke vroegtydig identifiseer en na spesifieke markte kanaliseer. Die uitsonderlike gehalte van ons Chardonnay/Pinot Noir-versnit het veral ʼn hupstoot aan Stettyn as handelsmerk gegee.

5. Wat is jul raad aan ander wynverwante besighede oor die pad vorentoe?

Drink liewer wyn as wat jy dit self maak! Op ʼn ernstiger noot, voorsien ons dat 2022 se oes besonder uitdagend gaan wees in terme van hoë inflasie en wesenlike insetkostestygings. By Stettyn hou ons dit eenvoudig – neem berekende risiko’s, werk hard, wees nederig, dien jou span en kyk boontoe vir genade.

 

 

Go Back